Hof

Egpaar tronk toe vir mishandeling van honde

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

REGSTELLING: Paul en Doortjie Kruger van Winnie Mandeladorp is nié direkte tronkstraf én ’n boete vir die mishandeling en verwaarlosing van diere opgelê nie, maar ’n opsie tussen die twee. Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) het die vonnis aanvanklik misverstaan.

'n Egpaar van Winnie Mandeladorp (Brandfort) is tot direkte tronkstraf gevonnis vir die mishandeling en verwaarlosing van diere.

Paul en Doortjie Kruger is in die hof in Bloemfontein tot ses maande direkte tronkstraf en 'n boete van R3 000 gevonnis vir hul oortredings.

Volgens Jacques Peacock, nasionale woordvoerder van die Dierebeskermingsvereniging (DBV), het Duan Matthee, 'n senior inspekteur van die DBV in Bloemfontein, reeds in 2016 by die egpaar se huis in Brandfort ondersoek ingestel.

Die toneel by die Krugers se woning is as 'n "rillerhuis" beskryf.

Die DBV se besoek het gevolg nadat 'n bekommerde gemeenskapslid 'n saak van verwaarlosing en mishandeling van diere aangemeld het.

Daar aangekom, het Matthee op 12 klein hondjies, waaronder talle yorkshire-terriër- en pommerhondjies (Pomeranians), afgekom wat in haglike omstandighede aangehou is.

Elkeen van die honde het een of ander soort siektestoestand onder lede gehad, insluitend velsiektes, tandinfeksies, wonde en bosluise en vlooie op hul pelse.

Baie van die honde was volgens Matthee ook baie maer, in kroniese pyn en het tekens van hartversaking begin toon.

Toe Matthee die eienaars konfronteer, is hy toegang tot die perseel geweier. Hy het met 'n lasbrief teruggekeer maar Doortjie het al die hondehokke oopgelaat in die hoop dat die honde sou vlug voordat die DBV hulle uit die Krugers se sorg kon red.

Al 12 honde is na die DBV in Bloemfontein geneem, maar is ongelukkig kort daarna weens hul verswakte toestand uitgesit.

Die Krugers is reeds in 2016 van dieremishandeling aangekla, en is uiteindelik in 2024 gevonnis.

Peacock sê die DBV is weens die min direkte tronkvonnisse vir dieremishandeling baie bly dat dit die straf is wat die Krugers opgelê is.

* Die berig is aangepas ná aanvanklike publikasie.