Om die een of ander duistere rede bestaan die persepsie dat die Vrystaat vaal, plat en vervelig is, maar dit is 'n wanindruk, een wat sommige Suid-Afrikaners die provinsie net in die verbyry laat ervaar.
As jy byvoorbeeld 'n Gautenger is, ry jy waarskynlik regdeur die Vrystaat na jou vakansiebestemming by die see sonder om selfs vir brandstof stil te hou.
Kom ons sit 'n paar dae opsy en leer ken sy mense en besienswaardighede.
Ons vertrek sowat 160 km oos van Bloemfontein by Koranna Getaway (S28.88194 E27.31793). Dié 4x4-bestemming is geleë op die plaas Verlangdedeel en hier is kampplek vir 'n menigte.
Johan en Isa Eksteen is 'n egpaar wat deel vorm van 'n uitgebreide Eksteen-stamboom wat sedert die 19de eeu in die omgewing boer.
Twee 4x4-roetes op Koranna Getaway - die Plato- en Kloofroete - was oorspronklik boerpaaie (laasgenoemde spesifiek 'n bosboupad), maar Johan het destyds die groeiende 4x4-beweging raakgesien en sy paaie in 2002 aan die publiek oopgestel.

Teen 2006 was Koranna Getaway landwyd bekend en ons tydskrif se voorganger, WegRy, het gereeld hier besoek afgelê. Die roete is egter sedertdien as gevolg van swaar reën effens verander.
Koranna Getaway bestaan uit 'n groot groen grasperk met staanplek vir tientalle bos- en boswoonwaens (die staanplekke is nie gemerk nie), met elektrisiteit en kraanwater.
In die middel van die grasperk is 'n ruim lapa met 'n volledig toegeruste kombuis, kroeg, binnebraai en kuierdeel. 'nhanetree van die lapa af is 'n netjiese ablusieblok met 'n vroue- en manskant.

As jy verkies om nie te kamp nie, is hier ook kothuise met beddens, beddegoed, meubels en alles wat jy nodig het vir 'n lekker bederf. Ons gaan 'n paar dae op Koranna Getaway vertoef om sy 4x4-roetes te takel.
Klim in en gordel vas, want hier gaan ons!
Die Platoroete
Die eerste roete, die Platoroete, is teen 22 km die langste van die twee, maar ook die maklikste. Mak is hy egter nie, en jy gaan steeds viertrek moet inhaak om hom baas te raak. Jy kan wel die mas opkom met 'n gewone sportnutsvoertuig - en boonop is die kans skraal dat die bakverf sal krap.

Die Platoroete het talle uitkykpunte waar jy kan piekniek hou, en aan die voet van die roete is die Witstinkhout-boskamp.
Hier is nie elektrisiteit nie, maar wel 'n basiese toilet en stort indien jy afsondering soek en nie in Koranna Getaway se hoofkamp wil bly nie.
Jy moet 4-5 uur opsy sit vir die Platoroete, maar dit is 'n ontspannende rondkykrit eerder as 'n uitdaging - ons gee hom 'n 2 uit 5 op ons moeilikheidskaal.
Die Kloofroete
Die Kloofroete, daarteenoor, kry 'n hoë 4 uit 5 op die skaal. Johan sê jy kan hom ook met 'n standaardvoertuig pak, maar jy móét viertrek, laestrekratte en jou trokkie se ewenaarslot inhaak. Die kans is ook goed dat jou bakkie se treeplanke gaan buig.
Johan raai jou ten sterste aan om jou banddruk te verlaag tot 1,4 bar vir ligte rygoed soos 'n Toyota Hilux, en 1,8 bar vir swaarder voertuie soos Cruisers en Landies.
Ons was te jammer vir die Ford Ranger waarmee ons hier was, en Johan het ons eerder bergop geneem in sy 70-reeks-Land Cruiser-bakkie.
Johan ry die pad uiteraard gereeld en hy laat dit verspotmaklik lyk. Hy waarsku dat besoekers al amper bergaf gerol het omdat hulle die roete onderskat.
Bo-op die Korannaberg - die berg en gasteplaas is genoem na die omgewing se oorspronklike inwoners, die Korannas, ook bekend as die Abatule-stam - het jy 'n fantastiese uitsig oor die Vrystaat.

Wees op die uitkyk vir watervalle en wild in die kloof onder jou, maar soek veral na klein poele water in die rotsbanke waar jy perdalks piepklein varswatergarnale sal sien.
Johan sê dié diertjies het 'n uiters kort lewensduur en dis elke keer vir hom spesiaal om hulle te sien.
In die dae wat ons op Koranna Getaway vertoef het, het ons lekker gaan 4x4 ry en soveel as moontlik van die nagenoeg 560 plantsoorte, 277 voëlspesies en meer as 50 tipes kleinwild loop soek - waaronder erdvarke, stokstertmeerkatte en blougeitjies.

Maar dis tyd dat ons vir Johan en Isa groet en die Oos-Vrystaat verder binnery.
Clocolan

Ons volgende aftrekplek is die Constantia-padstal op die buiterand van Clocolan soos jy die dorp met die R26-streekpad verlaat (S28.91245 E27.60374).
Die plaas Constantia se eerste kersiebome is in 1953 deur Kempen Higgo geplant - sy seun Gerrit het die leisels van die boerdery in 2012 oorgeneem.
Trek beslis af om aandenkings vir jou mense by die huis te koop. Wat kersieprodukte betref, is hier roomys, pasteie, konfyt, stroop en ander produkte wat jy dalk nie tevore met dié vrug vereenselwig het nie, soos seep en gin.
As jy nie 'n suikertand het nie, kan jy ook vleispasteie koop teen R55 elk - ons kan veral die lam-en-mentpastei aanbeveel.
Verlaat die padstal en vat weer die R26, deur Ficksburg.
Ons ry oor twee vlak bergpasse, onderskeidelik die Kommandonek- en Generaalsnekpas. Albei is genoem na die Tweede Anglo-Boereoorlog waarin die Winburg-kommando onder aanvoering van genl. Marthinus Prinsloo suksesse teen die Britse magte behaal het.
Terloops, as jy en Johan Eksteen van Koranna Getaway oor die Boereoorlog gesels het, sou hy jou waarskynlik vertel het dat die meeste mans in die Winburg-kommando Eksteens was.
Fouriesburg
Ons slaapplek vir die aand is die Shumba Valley-gasteplaas (S28.69648 E28.16268) buite Fouriesburg - moenie dit verwar met die Shumba Valley-lodge naby Lanseria wanneer jy bespreek nie.
Hier ontvang Bob Armour jou vriendelik en beduie waar jy jou wa moet trek.
Shumba Valley het 20 staanplekke, elk met kragpunte, krane en vullisdromme. Sommige van die staanplekke het geboude braaiplekke, terwyl ander losstaande braaidromme het.
Bob - of Bobby, as jy hom lank genoeg ken - vertel hy het Shumba Valley 23 jaar lank as 'n gasteplaas bedryf, maar sy hoofinkomste is eintlik sy beesstoetery waar hy simbrabeeste teel - 'n Amerikaanse kruising tussen 'n simmentaler en 'n brahman.
Shumba Valley* het vroeër jare 'n gawe 4x4-roete langs die Caledonrivier gehad - WegRy het in Julie 2016 daaroor geskryf - maar Bob het dit gesluit nadat die 4x4-gier in die vorige dekade oorgewaai het.
Bob sê hy voorsien deesdae eerder in die behoeftes van die "swaeltjies" (mense wat agter die somer aan trek) en gesinne wat rus soek eerder as vermaak.
Jy gaan dus nie waterwurms en wipplanke kry op dié gasteplaas nie, maar Bob bedryf wel die Armoury-kroeg en daar's gratis wifi op die meeste staanplekke.
Bob beveel aan 'n mens besoek die talle besienswaardighede in die Fouriesburg-omgewing, en dit is presies wat ons nou gaan doen. Los jou kampgoed net so: Bob gee ons die versekering dis veilig.
Kom ons gaan ry 'n draai.
Bob sê die vyf beste attraksies wat jy móét beleef, is die tonnels van die Meiringskloofdam, Destiny Castle, Union House, die rotskuns in die pienk kranse, en die spyskaart van die Orange Apple-restaurant.
Destiny Castle is eerste aan die beurt omdat dit op Bob se buurplaas Caledonpoort geleë is. Bob sal sy buurman, Devlin Fogg, bel en reël dat jy kan gaan kyk. Die ingangshek is 2 km noord van Shumba Valley by S28.68507 E28.17806.

Van die hek af volg ons 'n tweespoorpad deur lusernlande tot teenaan 'n sandsteenkrans. Hiervandaan neem 'n betonpadbergpas ons teen die krans uit tot bo-op 'n berg waar die pad weer tweespoor raak. Hoewel jy nie viertrek hoef in te haak nie, is die pad té sleg vir 'n gewone stadsmotor.
Die kasteel herinner aan 'n Middeleeuse Engelse kasteel, en as ons inderdaad nou in Engeland was, sou dié bousel waarskynlik iets soos Fogg's Folly geheet het - 'n folly is 'n Britse sêding vir 'n duur en onpraktiese struktuur.
Volgens Devlin Fogg het sy ouers, Mike en Denyse, in 2006 deur die distrik gery op soek na geskikte grond vir 'n jeugkamp, en hulle het 'n ongewone bouval op 'n berg gewaar.
Die hotel het vyf ruim suites, 'n kapel, 'n vyfsterkombuis met sy eie sjef en kelners, en boonop 'n bioskoop, sitkamer, kroeg, terrasse, eetkamers en 'n spa. Moenie vra wat dit kos om hier te bly nie...
Die Fogg-egpaar het terstond Fouriesburg toe gery om navraag te doen. Die kasteel was in daardie stadium 'n mislukte bouperseel, maar die grootste deel van die hooftoring was wel klaar.
Die oorspronklike projek is glo in die jare sewentig gestaak, en die Foggs het kans gesien om die werk te hervat.
Die bergpad is eerste herstel, waarna tweedehandse Samil-vragmotors boumateriaal bergop kon neem. Mike en Denyse kon die oorspronklike klipmesselaar in Lesotho opspoor - teen dié tyd 'n ou man - en hy kon sy magnum opus voorsit.
Destiny Castle is vandag 'n eksklusiewe boetiekhotel en gaste word gewoonlik ingevlieg - daar's 'n landingstrook naby die kasteel.
Die hotel het vyf ruim suites, 'n kapel, 'n vyfsterkombuis met sy eie sjef en kelners, en boonop 'n bioskoop, sitkamer, kroeg, terrasse, eetkamers en 'n spa. Moenie vra wat dit kos om hier te bly nie...
Hierna kan jy by Union House op Bestersvallei, die plaas langsaan, gaan inloer. Bestersvallei behoort óók aan die Fogg-familie en is te koop vir R12 miljoen.
Union House is blykbaar 'n deftige plaashuis, maar ons het besluit om eerder aan te stryk, want sulke eiendomspryse maak gewone ouens soos die uwe net terneergedruk.
Ons gaan vandag een ander attraksie bekyk: die tonnels by die Meiringspoortdam.
Ry Fouriesburg toe en volg De la Harpestraat, draai regs in Steynstraat en volg dan die bordjies vir die Meiringspoort-vakansieoord. Los jou ryding by ontvangs, skaf 'n roetekaart en permit aan en staal jou vir die strawwe wandelpad wat voorlê.
Die eerste 400 m is grondpad tussen chalets en die kampterrein deur.
Terloops, ons het in die Februarie 2020-uitgawe van Ry & Sleep oor Meiringskloof geskryf, maar die geriewe is sedertdien opgeknap.
Nou volg 600 m met bruggies, kliptrappe en bakkranse. Dit is beslis nie rolstoelvriendelik nie, en as jy sukkel om ver ente te stap sal ons die wandelpad beslis nie aanbeveel nie.
Na omtrent 'n halfuur - mits jy fiks is - is daar 'n stel kliptrappe wat Jakob se Leer genoem word en wat jou teen 'n byna loodregte krans van drie verdiepings uitneem.
'n Alternatief is 'n korter kettingleer (een verdieping minder...).
Albei bied sy eie uitdagings, maar na ons mening is die foltering by die kettingleer vinniger verby, hoewel Jakob se Leer dalk 'n raps makliker is om baas te raak.

Dan volg nóg 'n kilometer se harde stap, verby die Meiringspoortdamwal, tot by die "tonnels" waarop Fouriesburg se dorpenaars so trots is.
Die tonnels is 'n reeks smal skeure en bakkranse wat inderdaad soos ondergrondse waterweë lyk. Hulle is oor derduisende jare gevorm deur die spruit wat die dam voed. Die natuurskoon maak dit die stap werd.
Daar is egter 'n makliker manier: 'n 4x4-roete tot by die tonnels se ingang...
Om daar uit te kom moet jy Fouriestraat uit die dorp volg tot op 'n grondpad (S28.61009 E28.20847) wat jou vroeër jare na die Didibeng-natuurreservaat geneem het.
Die reservaat is egter al lankal gesluit en die grondpad word deesdae net deur boere en die munisipaliteit gebruik.
Die grondpad word net al hoe slegter hoe verder jy vorder. Trouens, Fouriesburg se mense het ons gewaarsku om nié die pad aan te durf met ons spoggerige Ford Ranger nie - en dit is om dié rede dat ons eerder die voetpad gebruik.
Jy's natgesweet teen die tyd dat jy terug by jou ryding is. Dis oorgenoeg vir een dag. Die ander doendinge kan wag tot môre...
Dis jou voorlaaste dag in die Oos-Vrystaat en daar lê nóg mooi voor. Vandag gaan ons meer tyd in die gemak van ons ryding bestee.
Eerste aan die beurt is die Fairviewpad buite Fouriesburg.
Ry by Shumba Valley se hek uit en verby Destiny Castle se ingang - dan verby Hoenderkop, 'n sandsteenformasie genoem na 'n tradisie om 'n glasie mampoer hier te klink, tot by die R711-streekpad waar ons regs draai in die rigting van Clarens.
Ná ongeveer 5 km kry jy 'n padpredikant (S28.63900 E28.25701) wat jou na Fairview Estates beduie.
Dit is 'n pragtige grondpad wat jou teenaan die Klein-Caledonrivier en rondom die 2 007 m hoë Ventersberg neem.
Clarens

Ons steek die Klein-Caledonrivier twee keer met 'n staalbrug oor en ry verby sandsteenkranse en bonsmarakuddes wat kniediep in smaraggroen gras wei.
Ry terug met dieselfde grondpad, draai links op die R711-teerpad en volg hom oor die Surrender Hill-pas tot op Clarens.
Surrender Hill is genoem na die 4140 Boerekrygers wat hier die wapens neergelê en hulle aan die Britse magte oorgegee het. Clarens is so genoem omdat oudpres. Paul Kruger in Clarens, Switserland, oorlede is.
Die meeste van ons is goed vertroud met dié Vrystaatse toeristedorp en ons gaan dus nie té veel uitwei oor wat hier aangaan nie.
Kortliks is hier kunsgalerye, boetiekbierbrouerye, pottebakkers en 'n ooraanbod van restaurante. Koop gerus vir jou 'n kis witbier by die Clarens-bierbrouery - dit is na ons mening een van die lekkerste brousels wat op die dorp gemaak word.

Hiervandaan ry ons na die Oos-Vrystaat se grootste besienswaardigheid: die Golden Gate Hoogland- nasionale park.
Trek af by die vulstasie regoor die Glen Reenen-kampterrein en skaf 'n permit aan by die parkkantoor langs die vulstasie.

Van hier af volg ons die R712-streekpad in die rigting van Phuthaditjhaba.

Die afdraai na die eerste sirkelroete word deur 'n bruin padteken met 'n simbool vir 'n toerismeattraksie gemerk.
Draai hier regs en ry bergop met die 9 km lange Blesbok-sirkelroete. Dit is 'n geteerde pad wat deur die park se veldwagters onderhou word, en enige sedanmotor sal dit kan baasraak.

By die eerste vurk, sowat 1km nadat jy die R712 verlaat het, draai jy regs na die Langtoondam-uitkykpunt.
Hier kan jy die wandelpad sien wat by die Glen Reenen-kampterrein begin en 30 km deur die klowe kronkel, verby die Katedraalgrot en Woodheadpiek tot weer terug by Glen Reenen.

Keer in jou ryding terug na die Blesbok-sirkelroete en volg dit verder bergop tot by 'n tweede uitkykpunt, die Zoeloehoek, met nóg mooier uitsigte oor die nasionale park.
Skaars 2 km ná die afdraai na Zoeloehoek kry jy Generaalskop, teen 2 153 m bo seespieël die hoogste uitkykpunt op die roete.
Nou mik ons weer bergaf tot terug by die R712-streekpad.

Draai regs; ná slegs 100 m draai jy af op die Oribi-sirkelroete, wat net soos die Blesbokroete ook geteer is. Die Oribiroete loop oor platter terrein, en hoewel jy nie juis uitkykpunte gaan teëkom nie, was hier met ons besoek meer wild te sien.
Hou jou oë oop vir elande, sebras, springbokke, blouwildebeeste en natuurlik oorbietjies - die piepklein bokkie (Ourebia ourebi) waarna die Oribi-sirkelroete genoem is.
Wat voëls betref, kan jy die kranse dophou vir witkruisarende en baardaasvoëls, terwyl die grasvlakte deur bloukraan- en sekretarisvoëls gepatrolleer word.

Die Oribi-sirkelroete is 4 km lank, en jou eerste aftrekplek is by die parkeerterrein vir die aasvoëlrestaurant.
'n Wandelpad neem jou 300 m te voet teen 'n kliprantjie uit tot by 'n skuiling met 'n uitsig op karkasse wat deur veldwagters gestort word.
Bring jou verkyker of langlenskamera sodat jy duidelik kan sien hoe die aasvoëls nekdiep in 'n sebrakarkas delf.

'n Kort entjie anderkant die aasvoëlrestaurant se parkeerplek is die Drakensberg-uitkykpunt waar jy 'n goeie blik het op die Lichenspas aan die oorkantse berghang.
Die grondpad na die uitkykpunt was met ons besoek erg verspoel en ons moes ons bakkie se ewenaarslot inhaak om deur te kom.
Jy't oorgenoeg tyd om nog 'n bietjie rond te rits - ons stel voor jy ry oor Lichenspas tot by die Basotho- kulturele dorp.
Hier is argeologiese tentoonstellings en kulturele besienswaardighede, maar dis slegs in die spitsseisoen oop - die res van die tyd beland jy voor dooiemansdeur.
Mik dan terug Fouriesburg toe vir 'n laaste bederf...
Op Fouriesburg móét jy eenvoudig by die Orange Apple-kontreiwinkel-en-bistro in Theronstraat Ansje Steyn se bunny chow bestel.
Ja, ons begryp ons is meer as 400 km van Durban af, die tradisionele setel vir hierdie Indies-geïnspireerde gereg, maar Ansje s'n smaak waarlik vorentoe!
Sy gebruik 'n tuisgebakte potbrood wat met lams- of hoenderkerrie gevul word.

Jy kan ook kies tussen 'n matige kerrie of een met 'n lekker byt. 'n Lekkerder middagete kan ons ons beswaarlik voorstel.
Dink twee keer of jy môreoggend huis toe wil gaan, want daar's nog die Rebellie-4x4-roete buite Clarens wat jy kan takel - na ons mening een van die land se top 5-roetes! (Gaan na die webwerf rebellie.co.za vir kontakbesonderhede.)
Ons het ook nooit by die rotskuns in die pienk kranse uitgekom nie, en dan bied Bob Armour se ánder buurman, Fritz Kerkhoff, op die plaas Ventersberg boonop perdryritte deur die Malutiberge aan wat wissel van 'n vinnige dagrit tot 'n driedaagse toer waarop jy én jou perd langs 'n kampvuur slaap, nes die pioniers van ouds.
Bel Fritz by 072 371 9732 as jy belang stel.
Vanaand langs jou braaivleisvuur, terwyl jy een van Clarens se biere knak, wonder jy waarskynlik waarom sommige mense glo die Vrystaat is vaal, plat en vervelig. Allesbehalwe!
Hier het ons gebly
Koranna Getaway

Ongemerkte staanplek in die hoofkamp met elektrisiteit, water, braaigeriewe, 'n ablusieblok en lapa. Verskeie chalets reg oor die plaas is volledig toegerus indien jy jou neus optrek vir kamp.
Kontak 082 302 9638 (Isa) | korannagetaway.com | info@korannagetaway.com
Rusplaas-gasteplaas (voorheen Shumba Valley-gasteplaas)

20 staanplekke met elektrisiteit, water, braaigeriewe, 'n ablusieblok en 'n kontantkroeg. Hier is ook 6 kothuise met slaapplek vir tot 30 mense indien jy nie wil kamp nie.
Kontak 058 223 0277 (Landlyn) | info@rusplaasguestfarm.co.za | rusplaasguestfarm.co.za







