Omgewing

Limpopo-boere ly groot skade, nog koue kom

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die kouefront wat tans in die noorde van die land heers, het grootskaalse verwoesting op plase in Limpopo gesaai en boere het reeds miljoene rande se verliese gely.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku boonop dat nóg kouer weer Dinsdag in die noorde verwag word voordat die kwik weer sal styg.

Minimum temperature van onder vriespunt word Dinsdag in die noorde verwag, sê Lehlohonolo Thobela, weervoorspeller van die SAWD.

"Die koue wat tans ervaar word, het sedert die naweek 'n spoor van verwoesting vir boere in Limpopo gelaat. Swartryp het Sondagoggend die grootste deel van die provinsie getref en talle boere het ernstige skade gely," sê Henk van de Graaf, voorsitter van TLU SA se noordstreek.

Aartappels is beskadig in Vivo, Limpopo.  Foto: Danie Britz
Aartappels is beskadig in Vivo, Limpopo. Foto: Danie Britz

"Die terugvoer van lede en ander boere dui daarop dat geweldige verliese gely is en dat voedseltekorte in die provinsie ervaar kan word.

"Boere het erge swartryp aangemeld in veral die Vivo-gebied, die gebied agter die Soutpansberge, Levubu, Marble Hall, Arabie en selfs in Bela-Bela. Talle ander gebiede is ook geraak. Ons is nog besig met 'n volledige opname."

Van de Graaf sê van die gewasse wat erg geraak is, is aartappels, tamaties en allerlei soorte groente. Skade aan infrastruktuur soos waterpype is ook aangemeld.

"Veral aartappelboere is baie kwesbaar nadat hulle ook in vorige seisoene erge skade gely het en steeds probeer om daarvan te herstel. Ons doen dus 'n beroep op finansiële instellings om begrip te toon vir hierdie boere wat nou weer groot skade gely het," sê Van de Graaf.

Hy sê TLU SA doen 'n beroep op alle produsente in Limpopo om hul skade by TLU SA se verskillende kantore, of by die streekbestuurder, Danie Prins, aan te meld sodat 'n volledige opname van die skade gedoen kan word. "Ons wil graag weet waar die skade gely is, met watter oeste, die aantal hektaar betrokke en indien moontlik 'n skatting van die finansiële verliese as gevolg daarvan, sodat ons dit aan die provinsiale en nasionale regerings kan voorlê.

Aartappeloeste by Arabie, Limpopo, is swaar getref.  Foto: Veeplaas Apél
Aartappeloeste by Arabie, Limpopo, is swaar getref. Foto: Veeplaas Apél

"Verder wil ons Grace Kekana, LUR vir landbou, sowel as John Steenhuisen, minister van landbou, nooi om die geaffekteerde gebiede saam met TLU SA Noord te besoek om hulself van die skade te vergewis met die oog op moontlike hulpverlening," sê Van de Graaf.

Thobela sê die ysige weer in Gauteng, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal weens die kouefront sal Dinsdag voortduur. "Dit sal Dinsdag nog kouer wees in die gebiede. Mense in veral Gauteng kan Dinsdag wakker word met snerpende koue weer. Van Woensdag af sal temperature weer toeneem, tot Vrydag toe," sê hy.

Thobela sê Standerton en Vereeniging was Maandag die koudste plekke in die noordelike provinsies. "In Standerton was dit -2 °C en in Vereeniging -4 °C."

Met koue weerstoestande wat tans oor Suid-Afrika heen heers, sê Thobela die sneeu wat oor ander dele van die land uitsak, speel nie 'n rol in die koue wat in die noorde ervaar word nie.

"Daar word tans ook nie enige sneeu of reën vandeesweek in die noorde verwag nie," sê Thobela.

Intussen het Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, inwoners gevra om versigtig te wees met verwarmingstoestelle terwyl die kouefront heers. "Dit sluit in verwarmers, paraffienstowe en kerse. Onthou om dit af te skakel en uit te doof voordat julle bed toe gaan," sê hy.

Mulaudzi sê die nooddienste is op 'n hoë gereedheidsgrondslag vir enige gebeurlikheid gedurende die bibberweer. "Nog geen ernstige voorvalle is aangemeld nie," sê hy.

Nooddienste is ook besig om veldbrande in die provinsie te bestry.

Die departement van samewerkende regering in KwaZulu-Natal het ook 'n beroep op die provinsie se inwoners gedoen om versigtig te wees in die gure weer.

"Die departement het die provinsie se nooddienste op hoë gereedheid geplaas weens erge winde wat vir die provinsie voorspel word.

"Inwoners in (die distriksmunisipaliteite) Ugu, uMgungundlovu, uThukela, Amajuba, Zoeloeland, Koning Cetshwayo en iLembe moet voorberei vir swaar weer," sê die departement in 'n verklaring.

Die departement raai mense aan om hul eiendomme te beveilig, binnenshuis te bly en reise te beperk.

"Nooddienste is ook besig om veldbrande in die provinsie te bestry. Inwoners word gevra om nie vure te maak nie, omdat dit maklik kan versprei," sê die departement.

Veldbrande is ook Maandag in Mpumalanga in die Schoemanskloof-gebied aangemeld, sowel as in dele van Noordwes.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM