Omgewing

Koue weer op pad na Rosestad

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Krugersdriftdam en die nat wêreld tussenin. Foto: Stanley Schimper
Die Krugersdriftdam en die nat wêreld tussenin. Foto: Stanley Schimper

Die seisoen van jasse, truie, musse, serpe, langbroeke en stewels is hier, met 'n uiterse daling in temperature wat vir Vrydag vir die Rosestad en dele langs die Lesotho-grens voorspel word.

Minimum temperature van 4 °C word vir Bloemfontein en dele langs die Lesotho-grens deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel.

Die kwik gaan tot slegs 16 °C (maksimum) in Bloemfontein styg, sê Julius Mahlangu, weervoorspeller van die SAWD se Bloemfonteinse kantoor.

"Koue weersomstandighede word verder vir groot dele van die Vrystaat voorspel."

Die temperature sal die naweek egter geleidelik styg, sê Mahlangu.

Mildelike reën het laat Woensdag oor dele van die Vrystaat uitgesak met 15 mm wat by die plaas Oostenryk in die Dewetsdorp-distrik geval het. Teen Donderdagoggend was die minimum temperatuur 7 °C, met die maksimum wat op 15 °C voorspel is.

Die Bloemhofdam. Foto: Stanley Schimper
Die Bloemhofdam. Foto: Stanley Schimper

Johan Fourie van die plaas Oostenryk sê hulle het sedert Januarie 'n totale reënval van 586 mm gehad, met

79 mm in Januarie, 93 mm die daaropvolgende maand, 250 mm in Maart, 154 mm in April en 8 mm op die eerste dag van Mei.

Volgens Fourie het hulle in die afgelope 20 jaar slegs in 2006 'n soortgelyke reënval gehad met 670 mm wat dié jaar geval het.

Op die plase Azarede, Grootfontein, Nooitgedink en Neethlingsrust in dieselfde distrik is onderskeidelik 18 mm, 14 mm, 15 mm en 12 mm reën gemeet.

Intussen sê die SAWD erge donderstorms met gepaardgaande hael kan lei tot oorstromings in die oostelike dele van Noordwes, die verre oostelike dele van die Vrystaat en Gauteng, en die suidelike en die sentrale dele van Mpumalanga.

Johan van den Berg, onafhanklike weerkundige van Bloemfontein, sê dit lyk of die reën vir die volgende week of twee eers verby is.

Voorts kan koue weersomstandighede op die eerste paar dae van Mei verwag word met temperature wat tot onder vriespunt in dele van die Oos-Vrystaat en die Oos-Kaap kan daal, sê hy.

Die Oranjerivier by Keimoes Donderdagoggend.Foto: Anena Burger
Die Oranjerivier by Keimoes Donderdagoggend.Foto: Anena Burger

Minimum temperature kan in Ficksburg en Barkley-Oos tot onderskeidelik -4 °C en -2 °C daal.

"Dit lyk of die koue nou hier is en dit blyk Nampo gaan vanjaar heelwat kouer wees as wat dit verlede jaar was."

Ryp word vir die volgende paar dae vir veral die suidelike en die sentrale dele van die Vrystaat, en die suidelike dele van die Noord-Kaap voorspel, sê Van den Berg.

Hy sê verder 'n groot vloedrisiko word vir die Benede-Oranjeriviervallei, tussen Prieska en Onseepkans in die Noord-Kaap, voorspel, aangesien daar massas water is wat van die bo-Oranjerivier, die Vaalrivier en Oranjerivier afkom.

Die kleinbrug in Upington is Donderdagmiddag gesluit weens die watervlakke van die Oranjerivier wat aanhou styg. Die Dawid Kruiper-munisipaliteit raai inwoners op Facebook aan om die brug nie te gebruik nie en veilig te wees.

Ook die Kanoneiland-brug is deur openbare werke gesluit.

Daarmee saam lyk dit of reën Vrydag in die sentrale dele kan voorkom.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM