Inwoners van Mookgophong in Limpopo het Saterdagaand weer ’n luiperd in die dorp se strate gewaar.
Dit is heel moontlik dieselfde dier wat Donderdag in ’n tuin in Agtste Straat in David du Toit se erf gesien is.
Bonnita Roets, ’n inwoner, het Saterdag omstreeks 20:30 ’n boodskap op WhatsApp-groepe in die dorp versprei om te sê die dier is weer gewaar.
“Wees asseblief versigtig en hou jul kinders en diere binnenshuis.”
Carina Crayton van die Wild Heart Wildlife-vereniging in die gebied het Sondag gesê die luiperd is nog nie opgespoor nie.
Marita Louw, VF Plus-raadslid in Mookgophong, het Sondag bevestig dat inwoners die luiperd Saterdagaand weer in die omgewing van Agtste Straat gesien het.
“Die dier is daarna nog nie weer gesien nie.”
Mookopghong was verlede week behoorlik op hol toe ’n luiperd in ’n bedding in Du Toit se erf gesien is.
LEES OOK | Dorp op hoede na luiperd in tuin uitspan
Du Toit het gesê hy was Donderdagoggend vroeg in sy erf voordat hy na Pretoria sou ry toe Jacob Monyeki, sy tuinwerker, die dier gewaar.
Net nadat Du Toit by die eerste hek van sy erf uitgery het, het Monyeki vir hom gewys hy moet verder terugry. Daar is twee hekke in die erf. Du Toit het nie verstaan wat aangaan nie, stilgehou en die deur van sy voertuig oopgemaak. Dit is toe dat die luiperd na hom toe aangehardloop het. Hy het blitsig sy voertuig se deur toegemaak. Die dier het spoorloos verdwyn.
Monyeki het op die grond gelê en sy kop vasgehou. Hy het twee snye aan sy regterarm opgedoen waarvoor hy steke moes kry.
Du Toit meen die luiperd moes Monyeki gestamp of op sy rug gespring het. Dit is nie seker of die snymerke wat hy opgedoen het deur die luiperd veroorsaak is of weens die val nie.
Die departement van omgewingsake in Limpopo is bewus van die luiperd wat deur inwoners gesien is. Amptenare is Donderdag ontplooi om op die uitkyk vir die dier te wees.
Luiperds kom volop voor in Limpopo. Daar is etlike wildplase in die Waterbergstreek, waarbinne Mookgophong val, waar wilde diere soos luiperds is.





















