Nog 'n strand in Gqeberha in die Oos-Kaap is die afgelope naweek deur 'n rioolkrisis bedreig.
Rioolwater het op Koningstrand uitgevloei nadat 'n rioolpypleiding van 600 mm in deursnee in Suideinde gebreek het.
Dit het gelei tot 'n rioolstorting in die stormwaterstelsel wat op Koningstrand in Humewood uitloop.
Die publiek is Vrydag in 'n kennisgewing gewaarsku om nie hier te swem, te hengel of enige ander wateraktiwiteite in die see te beoefen nie.
Dieselfde kennisgewing is Sondagoggend opnuut deur die Nelson Mandelabaai-metro uitgestuur. Die metro sê hierin hy probeer nog die presiese plek bepaal waar die pyp gebreek het.
Teen Sondagmiddag het Sithembiso Soyaya, munisipale woordvoerder, by navraag gesê daar is geen uitvloei van rioolvuil op Koningstrand nie. Volgens hom is die Rudolph-rioolpompstasie, wat verwerkte afvalwater na die strand afvoer, ten volle in werking.

Hy het egter nie vrae beantwoord oor die herstelwerk van die gebreekte rioolpypleiding nie en ook nie of die water by die strand as veilig vir strandgangers beskou word nie.
Verlede week is berig dat Gqeberha se Brighton-strand weens besoedeling al ses maande lank gesluit is.
Die metro het in Desember gesê die strand word tydelik gesluit "weens uitdagings by die (nabygeleë) Fishwater Flats-watersuiweringsaanleg wat hoë vlakke van E. coli veroorsaak het".
Dié aanleg het 'n afvoerpypleiding wat onder die kaai op Brighton-strand na die see loop waar verwerkte afvalwater uitvloei. Grootskaalse vandalisme en diefstal aan die infrastruktuur by die aanleg veroorsaak egter dat substandaard-verwerkte water van dié aanleg in die see vloei.
Die metro het twee weke gelede gesê herstelwerk by die aanleg is steeds aan die gang.
Die DA in die metro sê egter Gqeberha se rioolprobleme word nie tot die Fishwater Flats-afvalwatersuiweringsaanleg beperk nie.
Retief Odendaal, DA-burgemeesterskandidaat vir die munisipale verkiesing in 2026, het vroeër die week 'n toesigbesoek na die Cape Recife-afvalwatersuiweringsaanleg en aangrensende strandgebied gelei. Volgens Odendaal vloei verwerkte en gedeeltelik verwerkte rioolwater van die aanleg in die see.
Hy het die probleme by die aanleg aan swak instandhoudingswerk en verouderde infrastruktuur toegeskryf.
Hy sê daar is ook lekke by die aanleg wat afvalwater tot op die strand laat vloei.
"Die munisipaliteit moet nog geld beskikbaar stel om nie net aanlegte in stand te hou en op te gradeer nie, maar ook om al die afvalwatersuiweringsaanlegte omvattend op te knap."
Net die Fishwater Flats-afvalwatersuiweringsaanleg se herstelwerk beloop sowat R19 miljoen.




















