Die verkeer is Dinsdagoggend in Kaapstad weens oorstroomde paaie ontwrig.
Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van die Kaapstad-metro se verkeersdienste, sê die regterbaan op die N1 inkomend net voor die Koeberg-wisselaar is gesluit.
In Baden Powell-rylaan by Monwabisi is die baan in die rigting van die N2 oorstroom.
Verkeersbeamptes is op die tonele.

Een motoris wat vanaf Parow reis, sê sy reistyd van Parow na die middestad het meer as dubbel so lank geneem as gewoonlik.
Netwerk24 het vroeër berig daar is Dinsdag 'n 80%-kans op buie die oggend in Kaapstad, die Paarl, Malmesbury, Langebaan, Hermanus en Grabouw, met 'n 80%-kans op buie deur die loop van die dag in Ceres.
Nog paaie en gebiede wat geraak is:
• Albei bane van Govan Mbeki-weg is oorstroom by die stad se Fezeka-kantore in Guguletu.
• Die hoofpad ná Deanstraat naby die Westerford High School in die rigting van die middestad.
• Die kruising tussen Duinefontein-weg en Govan Mbeki-weg in die rigting van Mitchells Plain.
• Die kruising by 35ste laan en Robert Sobukwe-weg.
Motoriste word aangeraai om voorsiening te maak vir ekstra reistyd of om ander roetes te gebruik waar moontlik totdat die watervlakke gedaal het.
Die regterbaan op die N1 inkomend net voor die Koeberg-wisselaar is intussen weer vir verkeer heropen.


















