’n Forum soortgelyk aan die Garden Route-omgewingsforum (GREF), ’n openbare platform in die Tuinroete wat onder meer op omgewingsbestuur en klimaatsverandering fokus, is in die Oos-Kaap tot stand gebring.
Die Oos-Kaapse Volhoubaarheidsforum (ECSF) is gestig ná ’n konsultasieproses met Oos-Kaapse belanghebbendes in die omgewing- en landbousektor vanweë die snelgroeiende groen-ekonomie en ’n veranderende klimaat.
Cobus Meiring, sameroeper van die GREF, is ook by die ECSF betrokke.
Die ECSF sal onder meer klem lê op grondherstel en die beskerming van rivierstelsels, vleilande, riviermondings en mariene hulpbronne. Die forum sal ook ’n jaarlikse indaba oor klimaatsverandering en die omgewing aanbied, lui ’n verklaring. (Die GREF hou jaarliks ’n soortgelyke indaba in die Tuinroete).
Volgens Meiring is die Oos-Kaap uniek geposisioneer om voordeel te trek uit so ’n platform. Dit is danksy sterk regeringsbetrokkenheid, agentskappe soos Gamtoos Water, toonaangewende akademiese instellings soos die Nelson Mandela Universiteit se departement landbouwetenskappe en die skool vir natuurlike hulpbronbestuur, private entiteite wat gemoeid is met bewaring en praktisyns in die omgewingsektor.
Die forum sal onder meer geleenthede vir strategiese vennootskappe skep deur gekoördineerde optrede en die deel van hulpbronne.
Intussen is ’n aankondiging dat die bosboumaatskappy Coldstream Timber Company (CTC) danksy veranderde regeringsbeleid weer dormante bosbouplantasies in die Suid-Kaap gaan herplant, in die Tuinroete verwelkom.
Volgens die Garden Route-risikovermindering-taakspan (GRRTT) sal die bykomende kapasiteit van die bosboubedryf die streek teen brandgevare help beskerm.
Deur beheerde brande, die grootskaalse bestuur van indringerplante en die ontwikkeling van noodsaaklike brandpaaie sal die bykomende personeel en hulpbronne help om kritieke biodiversiteit-korridors vry van indringerplante te hou.
Die taakspan is onlangs op die been gebring om rampe soos die Knysna-brande van 2017 te voorkom.
Die GREF het in ’n verklaring gesê die Suid-Kaap se ekonomie is vir bykans twee eeue op bosbou gebou, maar het agteruitgegaan namate groot plantasies op staatsgrond nie herplant is nie en slegs klein stukkies plantasies op grond in private besit oorgebly het. Dit het ’n groot sosio-ekonomiese impak gehad en tot werksverliese gely.
Meiring het Donderdag gesê hulle is bly oor die ekonomiese herlewing van die plantasies en wetgewing wat dit verpligtend maak om die verspreiding van indringerplantegroei in bedwang te hou.
Een van die omgewingsimpakte was dat digte besmettings van indringerplante ontstaan het in gebiede wat voorheen as kommersiële plantasies bestuur is. Dit het gelei tot aansienlike risiko’s vir die streek, soos potensiële veldbrande, kwessies oor watersekerheid en ’n verlies aan biodiversiteit.
5506
















