Omgewing

Publiek gemaan oor groot olifanttroppe in noorde van Limpopo

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wildbewaarders van die departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme (Ledet) in Limpopo is ontplooi na die grensgebied met Zimbabwe nadat 'n soldaat Sondag daar vermoedelik deur 'n trop olifante doodgetrap is.

Xavier Raynard (32) was deel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se Operasie Corona om die landsgrense teen oorgrensmisdaad te beskerm.

Xavier Raynard (32), 'n soldaat van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, is Sondag dood toe hy naby die Madimbo-weermagbasis in Limpopo deur olifante vertrap is. Foto's: Deaan Vivier en verskaf
Xavier Raynard (32), 'n soldaat van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, is Sondag dood toe hy naby die Madimbo-weermagbasis in Limpopo deur olifante vertrap is. Foto's: Deaan Vivier en verskaf

Hy was in die Madimbo-gebied gestasioneer. Luidens 'n verklaring van die weermag was hy besig met 'n roetine-patrollie toe hy vermoedelik deur 'n trop olifante vertrap is.

Die besonderhede van die presiese gebeure word deur die weermag in samewerking met Ledet ondersoek.

LEES OOK | Soldaat dood toe olifante hom vertrap

Raynard was van Kimberley.

Intussen het Ledet die publiek gewaarsku teen buitengewoon groot troppe olifante, van tot soveel as 50 per trop, wat in Limpopo teen die grens met Zimbabwe en Botswana gesien is.

Wildbewaarders van die provinsie is in gebiede wat aan Botswana en Zimbabwe grens ontplooi om die troppe se bewegings dop te hou en om hulle terug te dryf na vanwaar hulle kom.

Zaid Kalla, woordvoerder van Ledet, sê die jaarlikse migrasie van olifante van Julie tot Oktober na Suid-Afrika is nie vreemd nie. Die diere is op soek na weiding en vertrap alles wat in hul pad kom.

"Die wildbewaarders probeer om die olifante se bewegings tot sekere gebiede te beperk waar hulle nie 'n gevaar vir mense inhou nie."

Die olifante is elke jaar 'n kopseer vir boere wat met sitrus en tamaties teen die Limpoporivier boer. Olifante trap grensdrade plat en vreet van die sitrus en tamaties.

Daar is ook baie wildplase in die gebied en elektriese heinings word deur die olifante verwoes.

LEES OOK | Dors grootvoete migreer uit Zimbabwe, maak amok in Limpopo

Volgens Kalla is vanjaar se migrasie egter effens anders omdat van die olifante "verhoogde aggressie" toon.

"Dit is moontlik weens omgewingstres en vorige gevalle waar die diere in konflik met mense was."

Die Limpopo Newspaper, 'n plaaslike koerant, het 'n video op hul Facebook-blad geplaas wat Sondagmiddag ná die voorval waarin Raynard dood is, geneem is. In die video kan 'n weermag-ambulans en soldate gesien word. Meer as 10 olifante kan ook gesien word waar hulle uit die bosse oor 'n grondpad loop.

Die departement het mense in die Pontdrift-, Musina-, Tshikondeni-, Makuya-, Masisi- en Punda Maria-gebiede gewaarsku oor vanjaar se buitengewoon groot olifanttroppe.

"Mense moet onder geen omstandighede die diere probeer konfronteer, skrikmaak of selfs foto's van hulle neem nie."

Ledet is bekommerd oor voorvalle waar mense op verskeie maniere probeer om die olifante te verjaag.

"Wilde diere se gedrag is onvoorspelbaar en hul gedrag kan boonop skielik verander as hulle bedreig voel."

Mense in klein nedersettings soos Tshamutumbu is ook gewaarsku om nie op hulle eie hout in die veld te gaan soek nie.

"Die olifante se reuksin is uiters skerp en die diere kan mense van 'n afstand af ruik. Die diere kan ook deur geluide ontsenu word en hulself verdedig."

- mlouw1@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM