Die provinsiale rampbestuurspanne in die Vrystaat het Sondag reeds gebeurlikheidsplanne in plek gehad in afwagting van moontlike sneeu wat in die provinsie kan val.
Die rampbestuurspan in die Thabo Mofutsanyana-distrik in die Oos-Vrystaat, wat verlede jaar swaar sneeu gekry het, het teen Sondag reeds spanne ontplooi om die gebeurlikheidsplanne op die grond te implementeer, het die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) aangekondig.
Zimasa Mbewu, Cogta-woordvoerder, het gesê daar is padskrapers gereed om moontlike probleme op die N5,
R712 en R714 te hanteer en 'n bykomende padskraper is vir die N3 in die Harrismith-omgewing beskikbaar gestel.
Mbewu sê die span het reeds 'n gesamentlike operasionele sentrum in die Harrismith-omgewing gevestig en sal nou saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) werk om nog hulpbronne beskikbaar te stel, indien nodig.
Die ander distrikte se rampbestuurspanne is op bystand en monitor die situasie.
Hoe raak die sterk afsnylaagdrukstelsel die Vrystaat en Noord-Kaap?
Die sterk afsnylaagdrukstelsel wat die land vandeesweek al bibberend laat, kan moontlik ook sneeu in die Vrystaat en Noord-Kaap laat uitsak.
Muneiwa Singo, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein, sê ligte tot matige sneeuval word Maandag oor die suid-oostelike dele van die Noord-Kaap en die westelike en suidelike dele van die Vrystaat, asook langs die Lesotho-grens verwag.
Daar kan Dinsdag nog ligte sneeu langs die Lesotho-grens voorkom, sê sy.
Singo verwag sneeu op plekke soos Clarens, Ladybrand, Ficksburg, Fauresmith, Philipstown en Noupoort.
Die afsnylaagdrukstelsel beweeg Dinsdag uit die land, met die impak wat nog tot Woensdag gevoel sal word.
Geïsoleerde tot verspreide buie word Maandag oor die grootste deel van die Noord-Kaap en Vrystaat verwag, maar wydverspreide buie oor die suidelike dele van albei provinsies, sê Singo.
Geïsoleerde buie word Dinsdag nog oor die verre suidoostelike dele van die Noord-Kaap, westelike dele van die Vrystaat en langs die Lesotho-grens verwag.
Winderige toestande word ook Maandag en Dinsdag in dele van die twee provinsies verwag.
Temperature in die streek
Baie koud tot koue temperature word van Maandag tot Woensdag in die twee provinsies verwag.
Singo sê maksimums in die Vrystaat sal oor dié dae tussen 6 °C en 15 °C wissel en 6 °C en 17 °C in die Noord-Kaap.
Minimums sal vandeesweek tussen 0 °C en 8 °C in die streek wissel, met plekke langs die Lesotho-grens wat Woensdag -1 °C kan bereik.
Temperature sal Donderdag begin stabiliseer, met maksimum temperature in die Noord-Kaap wat tussen 13 °C en 24 °C vir die res van die week sal wissel en tussen 12 °C en 18 °C in die Vrystaat.
Temperature vir Maandag
• Bloemfontein: 6 °C tot 9 °C
• Bethlehem: 6 °C tot 12 °C
• Kroonstad: 8 °C tot 12 °C
• Ficksburg: 6 °C tot 9 °C
• Upington: 5 °C tot 12 °C
• Kimberley: 5 °C tot 9 °C
• Sutherland: 0 °C tot 8 °C
• Postmasburg: 3 °C tot 7 °C





















