Dit voel dalk vir sentrale binnelanders, veral Vrystaters, asof die koue van vanjaar se winter ekstra tande het, maar dit is die geval nie.
Johan van den Berg, 'n onafhanklike landbouweerkundige van Bloemfontein, sê hoewel dit kouer as verlede jaar is, is die wintertemperature normaal.
Die koue het die laaste ruk behoorlik sy tande te midde van 'n reeks kouefronte ingeslaan, met net effense verligting tussenin.
Die lae temperature wat die laaste ruk in die Vrystaat en die Noord-Kaap voorgekom het, is temperature wat gewoonlik van middel Junie tot einde Julie te wagte is, sê Van den Berg.
Hy het egter goeie nuus: Hoewel die nagte in dié provinsies nog aan die koue kant sal wees, is die dagtemperature reeds weer aan die styg.
Van den Berg sê 'n reeks kouefronte, minstens ses, word nog vandeesmaand oor die sentrale streek verwag. Die meeste van dié frontale stelsels sal egter na verwagting swakkerig wees. 'n Sterk front word wel volgende naweek in die twee provinsies verwag.
"Omdat dit koud is, gaan die minimum temperature in die Vrystaat en die Noord-Kaap die meeste van die tyd, minstens tot middel Augustus, by of onder vriespunt wees."

Hy sê maksimum temperature in die Vrystaat en die Noord-Kaap styg en sal vir 'n ruk meestal tussen 18 °C en 21 °C wissel. Van 21 Julie sal daar weer 'n effense daling in maksimum temperature wees weens 'n verwagte sterk front.
"Dit lyk asof daar nog tot in Oktober ryp in die sentrale binneland kan voorkom, maar nie aanmekaar soos nou nie."
Muneiwa Singo, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein, sê temperature in die Vrystaat begin van Donderdag af herstel ná die afgelope naweek se kouefront, en reeds van Woensdag af in die Noord-Kaap.
Ysige minimum temperature word nog Woensdag oor dele van die Vrystaat verwag, maar hoofsaaklik in die Oos-Vrystaat en langs die Lesotho-grens.
Singo verwag van Donderdag tot die einde van die week minimum temperature van meestal tussen 2 °C en 6 °C in die provinsie, met sekere gebiede (langs die Lesotho-grens en Bloemfontein) wat wel -2 °C kan bereik.
Minimum temperature in die Noord-Kaap sal vir die res van die week meestal van 0 °C tot 7 °C wissel.
Maksimum temperature in die Vrystaat sal in die res van die week meestal tussen 16 °C en 22 °C wees, behalwe Woensdag langs die Lesotho-grens, waar dit tussen 11 °C en 15 °C sal word, sê sy.
Maksimum temperature in die Noord-Kaap sal meestal tussen 20 °C en 26 °C wees, maar in die suide sal die kwik Woensdag en Vrydag net tot tussen 16 °C en 18 °C styg.
Volgens die weerdiens Ogimet is onder meer die volgende minimum temperature Dinsdag aangeteken: -6,4 °C in Wepener, -6,2 °C in Bloemfontein en Fauresmith, -5,2 °C in Ficksburg, -5,1 °C in Bethlehem en Frankfort, -4,9 °C in Noupoort, -4,7 °C in Kimberley, -4,6 °C in Van Zylsrus, -4,3 °C in Sutherland en -3,8 °C in Fraserburg.
• Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vir Woensdag 'n waarskuwing uitgereik oor 'n uiters hoë brandgevaar in die Kareeberg-munisipaliteit in die Noord-Kaap.
Die weervoorspelling vir Woensdag
• Bloemfontein: -1 °C tot 17 °C
• Welkom: 1 °C tot 18 °C
• Bethlehem: -5 °C tot 14 °C
• Kroonstad: 0 °C tot 18 °C
• Fauresmith: -2 °C tot 18 °C
• Ficksburg: -4 °C tot 13 °C
• Sasolburg: -1 °C tot 17 °C
• Upington: 5 °C tot 22 °C
• Kimberley: 1 °C tot 19 °C
• De Aar: 3 °C tot 18 °C
• Postmasburg: 3 °C tot 19 °C
• Alexanderbaai: 14 °C tot 23 °C
• Springbok: 10 °C tot 22 °C
• Calvinia: 3 °C tot 23 °C
• Sutherland: -2 °C tot 16 °C




















