Suid-Afrikaners kry Sondagaand die kans om ’n besonderse verskynsel in die nagruim te sien – die sogenaamde bloedmaan wat sowat 80 minute sigbaar sal wees.
Die maan sal rooi-oranje lyk tydens die maansverduistering wat met die blote oog sigbaar sal wees, sê dr. Pieter Kotzé, buitengewone professor in astrofisika aan die Noordwes-Universiteit se sentrum vir ruimtenavorsing.
Kotzé sê dit is een van die langste vensterperiodes waarin die maan rooi sal vertoon en hy sal aanbeveel dat belangstellendes moeite doen om dit te sien.
In Kaapstad sal ’n gedeelte van die maan reeds met maanopkoms om 18:24 rooi vertoon. Die algehele verduistering duur van omstreeks 19:30 tot 20:52. Die maksimum verduistering vind om 20:11 plaas, sê die Nasionale Navorsingstigting (NNS) in ’n verklaring.
In Johannesburg sal die tye baie dieselfde wees, behalwe dat die maan reeds om 17:49 sal opkom.
Kotzé sê die rooi kleur word veroorsaak deur stofdeeltjies in die aarde se atmosfeer. “Hoe meer stofdeeltjies teenwoordig is, hoe rooier sal die maan vertoon.
“Die maansverduistering vind plaas wanneer aarde tussen die maan en die son is, en die maan dus in die aarde se skaduwee is.
“Dit is een van die beste maansverduisterings van alle tye – of wat ’n mens kan verwag om te kry – want dit duur net ’n bietjie meer as 80 minute.”
Hy sê die langer vensterperiode bied ’n geleentheid vir ’n kykie na die bloedmaan, al moet daar dalk ’n bietjie gewag word vir ’n wolk om pad te gee.

Die maan kom op in die ooste nadat die son in die weste gesak het.
Hy sê maansverduisterings gebeur gereeld, maar dit is nie altyd sigbaar vanaf alle dele van die aarde nie.
“Die besonderse maansverduistering sal sigbaar wees oor Asië, groot gedeeltes van Europa, Afrika en Australië. Dit sal nie so goed wees aan die Amerikas se kant nie, want dan het die son weer opgekom en is die maan nie meer sigbaar aan daai kant nie,” sê Kotzé.
Die rede dat dit meer seldsaam is, is omdat die wentelbaan van die maan met sowat 5° gekantel is ten opsigte van die wentelbaan van die draai-as van die aarde, sê Kotzé.
“Die maan beweeg daarom nie elke maand deur die volskaduwee van die aarde nie – net wanneer die maan, son en aarde in ’n reguit lyn is.”
Die NNS sê indien die weerstoestande dit toelaat, sal die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag (NRF-SAAO) ’n spesiale publieke vertoning tydens die verduistering in Kaapstad aanbied.
Lede van die publiek sal die maan deur NRF-SAAO se amateur-teleskope kan bekyk en aansluit by begeleide toere van die geskiedkundige hoofgebou en die nuwe besoekersentrum.
Andersins raai die stigting mense aan om na die verduistering te kyk vanaf ’n plek waar hulle die horison duidelik kan sien omdat die maan nog laag bo die horison is wanneer die maksimum verduistering begin.
Anders as met ’n sonsverduistering is geen oogbeskerming nodig nie. Verkykers of ’n klein teleskoop sal die uitsig verbeter, sê die NSS.
“Vir foto’s, stabiliseer jou foon of kamera, fokus op die maan, verlaag die beligtingstyd (exposure) ’n bietjie en probeer om ’n bietjie vergroting (zoom) te gebruik.
Weervoorspelling
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel gedeeltelik bewolkte weer en koel tot warm toestande in die noordooste van die land, met geïsoleerde tot verspreide buie en reën in daardie gebiede.
Reënbuie word Sondag oor Mpumalanga en Gauteng verwag, asook oor die grootste dele van KwaZulu-Natal, Limpopo en die Vrystaat.
Sonnige weer word vir Sondag in die Kaapstad-metro, Paarl, Langebaan, Malmesbury, Ceres, Calvinia, Sutherland en Redelinghuys voorspel.
Bewolkte weer word egter in Worcester en in die ooste van die Overberg-distrik tot in die Suid-Kaap en Karoo verwag.


















