Tussen 1 500 en 1 600 blesbokke en tot 20 elande in die Wolhuterskop-natuurreservaat naby Bethlehem moet uitgedun word om die veld kans te gee om te herstel en oorbeweiding te voorkom.
Dis een van Estie Senekal, DA-raadslid van die Dihlabeng-munisipaliteit, se voorstelle om die omgewings- en veiligheidsprobleme by die reservaat te takel.
Die munisipaliteit sluit dorpe soos Bethlehem, Clarens, Paul Roux en Fouriesburg in.
Senekal sê die DA gaan dringend voorstelle oor die toenemende veiligheids- en omgewingsprobleme by die reservaat by die munisipaliteit indien.
Dit volg ná konsultasies met plaaslike kundiges en inwoners wat bekommerd is dat die blesbokke ondervoed is weens 'n tekort aan gras en dat die situasie vererger het omdat geen wildsensus gedoen is nie.
" 'n Veldbrand in Julie 2024 het noodsaaklike plantegroei vernietig en die omgewing het nog nie herstel nie," sê Senekal.
Sonder voldoende veiligheidsmaatreëls is dit vir stropers ook maklik om oor naweke toe te slaan, sê sy.
"Volgens gerugte is sommige wagte betrokke wat by die reservaat werk en wildsvleis word onder die dekmantel van brandhout uitgesmokkel omdat voertuie nie deeglik deurgesoek word nie."
Senekal sê elande ontsnap omdat die heinings beskadig is wat hulle kwesbaar maak.
Mense kap gesonde bome vir brandstof af en 'n onwettige varkplaas by die ingang van die reservaat skep gesondheidsgevare.
Van die stappe wat die DA voorstel, is:
• Dun tussen 1 500 en 1 600 blesbokke en tot 20 elande uit om die veld te laat herstel en oorbeweiding te voorkom. Gebruik genetiese bestuur om 'n sterk teelgroep te behou;
• Vermeerder patrollies oor naweke en verseker dat voertuie deeglik deurgesoek word;
• Begin 'n buurtwagprogram om misdaad aan te meld;
• Herstel en hou die heining in stand;
• Stel 'n permitstelsel vir brandhout in wat slegs die versameling van dooie bome of bome wat omgeval het, toelaat onder toesig van gemagtigde persone;
• Stel 'n plaaslike toesigkomitee aan om die reservaat se bedrywighede te monitor; en
• Maak seker dat alle tenders vir uitdunning en instandhouding duidelik is.
Senekal sê die toepassing van die voorstelle sal help om die natuurlike balans te herstel, diere te beskerm en die reservaat vir toekomstige geslagte veilig te hou.
"Wolhuterskop is nie net 'n gebied met 'n ryk verskeidenheid van plante en diere nie, maar is ook van groot belang vir toeriste en die plaaslike gemeenskap. As daar nie onmiddellik opgetree word nie, sal die ineenstorting van die reservaat langtermyngevolge vir die ekonomie en die omgewing hê."
Navrae is aan Tshediso Maitse, woordvoerder van die Dihlabeng-munisipaliteit, gestuur. Teen Dinsdagmiddag het Maitse geantwoord die spertyd sal nie gehaal kan word nie.

















