Omgewing

Witwarm nuwe leeu-gene vir Bergkwaggapark buite Nxuba

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Niklaas is een van die twee leeumannetjies wat van die Addo-olifantpark na die Bergkwaggapark buite Nxuba verskuif is.  Foto: Verskaf
Niklaas is een van die twee leeumannetjies wat van die Addo-olifantpark na die Bergkwaggapark buite Nxuba verskuif is. Foto: Verskaf

Nomad, die bekende leeumannetjie van die Bergkwaggapark net buite Nxuba (Cradock), is onlangs van kant gemaak ter voorbereiding van die koms van twee jonger leeumannetjies.

'n Groot risiko het bestaan dat Nomad beserings sal opdoen, of selfs vrekgemaak sou word, as hy in 'n konfrontasie met die nuwe leeumannetjies betrokke sou raak.

"Hoewel die verlies van Nomad 'n aanmerklike oomblik vir die park en sy gereelde besoekers is, is hierdie bekendstelling (van ander leeus) noodsaaklik vir die gesondheid en veerkragtigheid van die park se leeubevolking op die lang termyn," lui 'n verklaring van JP Louw, hoof van Sanparke se kommunikasie-afdeling.

Hoewel Nomad se ouderdom nie bekend gemaak is nie, lui Louw se verklaring dat hy heelwat langer geleef het as die gemiddelde leeumannetjie in die natuur.

Sanparke het voorheen gesê 'n leeu se lewensverwagting in die natuur is tussen agt en 16 jaar.

Netwerk24 het in Julie berig oor die twee leeumannetjies, bekend as Niklaas en Witwarm, wat vanuit die Addo-olifantpark in die Oos-Kaap na die Bergkwaggapark verskuif is.

Hulle is geskuif om plek in die Addo-olifantpark te maak vir twee leeumannetjies vanuit die Kgalagadi-oorgrenspark in die Noord-Kaap.

Net soos dié stap deel is van die park se groter bestuursplan om die genepoel van die leeubevolking in die Addo-olifantpark te vergroot, so ook sal Niklaas en Witwarm 'n nuwe diversiteit van gene na die Bergkwaggapark bring.

Die ander leeumannetjie, Witwarm, wat na die Bergkwaggapark verskuif is.  Foto: Verskaf
Die ander leeumannetjie, Witwarm, wat na die Bergkwaggapark verskuif is. Foto: Verskaf

Luidens Louw se verklaring het die Bergkwaggapark ook vier leeuwyfies en is daar opwinding oor die moontlikheid van leeuwelpies binnekort in die park.

Benewens Nomad, is die Bergkwaggapark se ander leeumannetjie, wat aan besoekers as Roy bekend was, in April 2024 van kant gemaak nadat sy gesondheid sedert daardie voorafgaande Desember verswak het. Hy was 17 jaar oud.

Ten tyde van Roy se dood is daar reeds begin beplan aan die hervestiging van twee nuwe leeumannetjies na die park.

Sanparke het Niklaas en Witwarm op 11 Julie na die park geskuif. Ná 'n aanpassingstydperk is die leeus op 29 Julie in die park vrygelaat.

Die hervestiging van die twee leeus is volgens Louw deel van Sanparke se roofdierbestuursbeleid, wat poog om te verseker dat leeubevolkings ekologies volhoubaar bly, terwyl oorbevolking en inteling vermy word.

- caralee.scheun@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM