Onderwys

Onderneming verkoop glo ‘matriekuitslae’ vooraf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Skermgreep van die Gautengse leerling se matriekuitslae wat hy gekoop het voordat die webtuiste dié funksie gedeaktiveer het. Die leerling se naam, van en eksamennommer word weerhou.   Foto: Verskaf
’n Skermgreep van die Gautengse leerling se matriekuitslae wat hy gekoop het voordat die webtuiste dié funksie gedeaktiveer het. Die leerling se naam, van en eksamennommer word weerhou. Foto: Verskaf
'n Skermgreep van die Gautengse leerling se matriekuitslae wat hy gekoop het voordat die webtuiste dié funksie gedeaktiveer het. Die leerling se naam, van en eksamennommer word weerhou. Foto: Verskaf
'n Skermgreep van die Gautengse leerling se matriekuitslae wat hy gekoop het voordat die webtuiste dié funksie gedeaktiveer het. Die leerling se naam, van en eksamennommer word weerhou. Foto: Verskaf

'n Onderneming het oënskynlik 2024-matrikulante se "matriekuitslae" aanlyn teen R99,90 per persoon verkoop.

Dít terwyl leerlinge eers Dinsdag hul uitslae van die departement van onderwys by hul skole kan kry.

Al wat 'n leerling benodig het, is sy eksamennommer en dat hy vir die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS)-eksamen geregistreer moes wees. Leerlinge van private skole wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB)-kurrikulum volg, kon dus nie hul uitslae op dié manier ontvang nie.

Die webtuiste was laat Sondagmiddag nog aanlyn, maar die portaal waar leerlinge hul uitslae kon koop, was toe skielik van lyn af. Dit is nie duidelik waarom of wie daarvoor verantwoordelik is nie.

Lukhanyo Vangqa, woordvoerder van Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het vroeër Sondag gesê die departement is bewus van die webtuiste en dat hy 'n ondersoek saam met die Valke hierna van stapel gestuur het.

"Ons het geen verbintenis met die onderneming nie, maar ons is bewus daarvan dat hulle uitslae verkoop. Ons werk saam met wetstoepassers om die saak te ondersoek, maar op die oog af blyk dit 'n slenter te wees."

Edumarks, die onderneming, dui op sy webtuiste aan hy het met die 2022- en 2023-matriekuitslae 'n akkuraatheidsyfer van onderskeidelik 99% en 97% met die verskaffing van die uitslae behaal.

Vangqa sê egter die departement se uitslae vir 2022 en 2023 is in die openbaar beskikbaar en die onderneming kon dit van daar af geneem het. Volgens hom kan die onderneming slegs daardie jare se data "verkoop", maar nog nie 2024 se uitslae nie.

Voordat die betrokke portaal gedeaktiveer is, het Netwerk24 'n Gautengse leerling genader om te kyk of hy sy uitslae op die webtuiste kan koop. Hy sê hy het maklik reggekom en sy uitslae ontvang vir elk van die vakke wat hy geneem het. "Dit was baie vinnig. Die e-posse het vinnig op mekaar gevolg om te wys dat die betaling suksesvol is en dat my punte op pad is. Wat my punte betref, is dit min of meer wat ek verwag het om te kry. Dalk 'n bietjie hoër as wat ek gedink het . . ." sê hy.

Die leerling se naam en eksamennommer word weerhou om sy identiteit te beskerm. Dit is nie duidelik hoe akkuraat die leerling se punte is alvorens die uitslae Dinsdag amptelik uitgereik word nie.

Vangqa sê: "Ons is nie in hierdie stadium bewus van 'n dataskending nie en ons datastelsels word baie goed beskerm. Die enigste verduideliking vir so iets sal wees as iemand die data op ons stelsels gekry het of op dié van entiteite soos universiteite wat reeds die uitslae ontvang het.

"As die uitslae wat die onderneming verkoop, akkuraat is, sal dit 'n baie ernstige dataskending wees."

Ons is besig om dit te doen waarmee ons regering sukkel.

Edumarks het nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie. Die onderneming sê wel op sy webtuiste dat daar "hoegenaamd nie" gevolge sal wees vir leerlinge wat hul uitslae op dié manier bekom nie.

"Die Edumarks-groep tree binne die wetlike grense op en voldoen aan al die relevante regulasies. Ons proses is deursigtig, dit benodig die verbruiker se toestemming en dit voldoen aan etiese standaarde."

Die maatskappy het selfs 'n terugbetalingsbeleid en sê hy sal leerlinge wie se uitslae "geheel en al onakkuraat" is, se geld aan hulle terugbetaal.

In 'n plasing op X sê 'n gebruiker hy meen dit is 'n slenter, want die uitreiking van die matriekuitslae behoort verniet te wees. Edumarks antwoord egter hierop: "Matriekuitslae is veronderstel om verniet te wees, maar ons hef hierdie eenmalige fooi vir ons ontwikkelingskoste. Ons is besig om dit te doen waarmee ons regering sukkel. Pleks daarvan om die belastingbetaler se geld te gebruik om 'n stelsel te ontwikkel wat voldoen aan Popi (die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting), mors hulle eerder geld op 'n sinlose regstryd."

Dié kwessie kom nadat die Inligtingsreguleerder (IR) die afgelope week 'n dringende interdik teen die departement van onderwys probeer bekom het om te verhinder dat die matriekuitslae vanjaar in die media gepubliseer word. Die hof het dit egter met koste van die hand gewys.

Nie Tshegofatso Letshwiti, IR-woordvoerder, of Mukelani Dimba, hoof van onderwys en kommunikasie by die IR, het op navrae gereageer nie.

Vangqa het nie voor die tyd van publikasie 'n saaknommer aan Netwerk24 verskaf of op verdere navrae gereageer nie.

- ruhan.friedrichs@media24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM