Druk dat dr. Nobuhle Nkabane, minister van hoër onderwys en opleiding, uit haar pos verwyder word, neem toe. Die South African Students' Congress (Sasco), wat bande met die ANC het, eis dat pres. Cyril Ramaphosa Nkabane uit haar pos verwyder.
Alungile Amtshe, president van Sasco, sê Nkabane het studente wat haar departement veronderstel is om te help, op verskeie fronte in die steek gelaat.

"Die krisis wat studente verduur, is nie toevallig nie. Dit is die direkte gevolg van swak bestuur deur die departement van hoër onderwys en opleiding en die opportunistiese, kwaadwillige en swak bourgeoisie-agenda deur die universiteits- en kollegebestuur," sê Amtshe.
"Dit is ons betoog dat die departement, wat deur Nkabane gelei word, binne die regering van nasionale eenheid, konsekwent versuim het om sy mees basiese verantwoordelikhede na te kom - van die katastrofiese vertragings in uitbetalings van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), tot die foutiewe aanstelling van raadsvoorsitters van sektorale onderwys- en opleidingsowerhede (SOOO's). Die mislukkings sluit ook in die chroniese onderfinansiering van instellings wat die kinders van die werkersklas en armes dien."
Amtshe benadruk Sasco het geen ander keuse nie as om dié drastiese stap te doen en te eis dat Nkabane uit haar pos verwyder word.
Die beleërde Nkabane is in die spervuur nadat sy daarvan beskuldig is dat sy LP's "mislei" het oor die onafhanklikheid van 'n paneel wat mense met ANC-bande aangestel het as nuwe SOOO-raadsvoorsitters.

Die DA en die EFF het ook Nkabane se afdanking geëis. Die DA het gesê hy sal in die parlement teen die begroting van Nkabane se departement stem.
LEES OOK | Seta-rade: Minister ál dieper in sop oor sy LP's glo mislei
Volgens Amtshe is Nkabane onbevoeg en kan sy nie die krisis met die NSFAS oplos nie. Amtshe sê studente is dus aan hul eie lot oorgelaat.
"Ons eis dat die NSFAS-toelaes teen die einde van die vakansie betaal word en dat daar geen uitsluiting van enige studente sal wees nie, hetsy finansieel, met akkommodasie en akademies, veral eerstejaarstudente weens uitstaande toelaes."
Sasco waarsku indien hul eise op dowe ore val, sal hulle studente tot aksie mobiliseer.
"Min. Nkabane moet verwyder word. Hoe langer sy bly, hoe langer sal studente ly."


















