‘Sensoriese kamer’ by Bloem-skool ingerig

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

'n Skool in Bloemfontein het onlangs hul klasse vir gespesialiseerde onderrig herontwerp wat 'n opgeknapte sensoriese kamer insluit.

Die Laerskool Willem Postma in Bloemfontein het 'n afdeling wat daarin spesialiseer om kinders te onderrig wat op die outismespektrum is of leerprobleme het.

Van links is Tylon Maasdorp, Isabel Homsek, Liam Cavanagh en Hané Landman. Hier sit hulle in die sensoriese kamer se leeshoekie.  Foto: Mlungisi Louw
Van links is Tylon Maasdorp, Isabel Homsek, Liam Cavanagh en Hané Landman. Hier sit hulle in die sensoriese kamer se leeshoekie. Foto: Mlungisi Louw

Die afdeling het altesaam sewe klasse: een vir elke graad met slegs ses kinders in elke klas, sê Isabel Homsek, afdelingshoof.

Die herontwerp van die klaskamers het ook 'n groter sensoriese kamer ingesluit. In hierdie kamer is 'n hangmat, 'n klein tentjie, 'n leeshoekie en 'n donker deel waar die kinders kan herstel indien hulle dit nodig het. Daar is ook 'n boekrak met boeke wat hulle kan lees om te ontspan.

Buite die klaskamer is daar 'n springmat waar die kinders kan gaan spring as hulle van energie ontslae moet raak, sê Homsek.

"Sommige moet soms ontspan en ander kan weer nie stilsit nie, so daar is iets vir almal."

Homsek sê die skool het eintlik lankal 'n behoefte vir 'n groter sensoriese kamer.

"Voor die klaskamers oorgedoen is, was daar altyd net 'n tentjie, maar dit was nie genoeg nie, want ons het ouer en groter kinders ook en hulle kan dit nie gebruik nie," sê sy.

Met die uitleg van die sensoriese kamer het die skool ook van arbeidsterapeute gebruik gemaak om raad te gee oor hoe om die kamer doeltreffend in te rig.

Daar is vandag altesaam 33 kinders wat in die afdeling onderrig kry, teenoor die vyf toe die afdeling in 2013 begin is.

Die afdeling is ook na Prisma@Possies herdoop. Die prisma verwys na die lig wat deur die kinders skyn.

SPELETJIES VANDAG

CTA