Politiek

Die wilde plan teen ANC

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lede van ActionSA maak verlede week somme by die OVK se uitslagsentrum in Pretoria.                             Foto: Deaan Vivier
Lede van ActionSA maak verlede week somme by die OVK se uitslagsentrum in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Terwyl koalisie-onderhandelinge tussen die ANC en die EFF sukkel, smee opposisiepartye planne om die Tshwane-metro te behou, en Johannesburg af te neem by die ANC.

Die EFF het sy steun aan die ANC in Johannesburg beloof in ruil vir 'n burgemeesterpos in Tshwane of Ekurhuleni, maar die ANC het glo nie hiervoor aptyt nie.

Die Johannesburgse metro, met 270 setels, word tans deur 'n koalisieregering regeer wat bestaan uit die ANC, African Independent Congress (AIC), IVP, UDM, Cope­, en Al Jama-ah.

Die IVP weier om met die ANC saam te werk.

Maar sedert die afgelope verkiesing weier die IVP (7 setels) om met die ANC saam te werk. Ook Gayton McKenzie se Patriotic Alliance (8 setels) se aptyt vir 'n ANC-koalisie het tot 'n mate verdamp.

Die DA en ander opposisiepartye sien die IVP en PA nou as moontlike sleutels tot 'n meerderheidsregering daar, wat bestaan uit die PA (8), DA (71), ActionSA (44), VF Plus (4), IVP (7), ACDP (3), Cope (1), UDM (1) en die UIM (1). Dié partye het saam 140 setels - 'n meerderheid van 52%.

As die DA-groepering boonop 'n nasionale ooreenkoms sluit met die PA, kan dit die partye in staat stel om ook die Wes-Kaapse munisipaliteite van Matzikama, Witzenberg, Beaufort-Wes, Laingsburg en Oudtshoorn by die ANC af te vat.

Intussen sal 'n koalisieregering na verwagting Dinsdag gevorm word tussen drie partye in die Cederberg-munisipaliteit in die Wes-Kaap, wat 'n burgemeester sal hê van Cederberg Eerste, 'n nuwe dorpsparty, 'n VF Plus-onderburgemeester en 'n DA-speaker.

'n DA-VF Plus-koalisie sal na verwagting ook in die rade van Saldanhabaai, Kaap Agulhas, Langeberg, Breedevallei, George en Hessekwa gevorm word.

Onderhandelinge met die PA, wat groot gevolge in Gauteng kan hê, is egter ook ingewikkeld.

McKenzie, die partyleier, eis glo die burgemeestersketting in van die munisipaliteite waar hulle koningmaker is. Die DA is glo versigtig daarvoor om "gevange" gehou te word deur sulke eise.

John Steenhuisen, DA-leier, het verlede week aan Rapport gesê die PA het reeds gevra dat die omstrede sakeman Truman Prince burgemeester moet word as die PA 'n koalisieregering help vorm in die Karoodorp Beaufort-Wes.

Die meeste NUK-lede beskou die EFF-eise as belaglik.

Steenhuisen het nie kans gesien nie. Hy lei die DA se onderhandelinge saam met Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, en dr. Ivan Meyer, federale voorsitter van die DA.

Die DA en VF Plus het albei voorgeneem om nie te probeer om minderheidsregerings met steun van onder 50% te vorm nie, want dit is te onstabiel. Albei partye glo "stabiele koalisieregerings" is nodig om kiesers te oortuig dat koalisieregerings in hierdie regerings kan werk in die aanloop tot 2024 se algemene verkiesing.

Steenhuisen het gister bevestig dat onderhandelinge oor Johannesburg môre en Dinsdag sal voortduur.

Die toekoms is ook onseker in Tshwane, met 214 setels.

Hier kan die DA (69 setels) die grootste party word in 'n koalisie saam met ActionSA (19), die VF Plus (17), die ACDP (2) en Cope (1).

Só 'n groepering sal 108 setels hê.

John Moodey, Gautengse leier van ActionSA wat die party se koalisie-onderhandelinge lei, wil egter slegs met die DA onderhandel as hulle oor al ses munisipaliteite kan onderhandel waar dié party verteenwoordiging het.

Volgens DA-bronne is die party te vinde vir onderhandelinge met Action­SA oor munisipaliteite waar meerderheidsregerings moontlik is, soos Tshwane en Johannesburg.

Benewens Johannesburg en Tshwane, het ActionSA ook kandidate in Ekurhuleni (6,6%), eThekwini (0,9%), Newcastle (3,5%) en KwaDukuza (7,9%) gehad.

Die kans lyk intussen skraal dat opposisiepartye sonder die ANC regerings sal kan vorm in Ekurhuleni, eThekwini of Nelson Mandelabaai.

Hoewel die ANC en EFF 'n koalisie in Johannesburg sou kon vorm, kan die EFF se radikale voorwaardes - soos die nasionalisering van die Reserwebank - dit vir die ANC onmoontlik maak.

Marshall Dlamini, sekretaris-generaal van die EFF, het reeds voorgestel dat die EFF die ANC in Johannesburg help mits die EFF in Ekurhuleni of Tshwane die burgemeestersketting kry.

Dié voorstel is Maandag tydens 'n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) afgeskiet deur Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die party, en Jeff Radebe, wat die ANC se onderhandelinge lei.

Die meeste NUK-lede beskou die EFF-eise as belaglik. Hulle sal slegs oor plaaslike kwessies onderhandel.

Die EFF-eise beduiwel ook sy gesprekke met ActionSA. Herman Mashaba, ActionSA-leier, het gister in 'n verklaring gesê sy party sou ook nie meer met die EFF 'n koalisie kon smee nie, omdat enige voorstel van die EFF staatgemaak het op ANC-steun, waarvoor ActionSA nie kans sien nie.

Moodey het Dinsdag op 'n mediakonferensie gesê dat die EFF se vereiste van grondonteiening 'n onoorkombare struikelblok in die onderhandelinge sou wees.

* Munisipale regerings moet teen 23 November hul nuwe rade verkies.

CTA