Ná drie jaar en nadat meer as R100 miljoen bestee is, is die nuwe ruimteweersentrum in Hermanus vandeesweek geopen.
Dié sentrum is die enigste in Afrika en sal daarop fokus om die son te monitor vir verskynsels soos storms wat die aarde en toerusting in die ruimte kan raak. Dit sal gevolglik vroeë waarskuwings en voorspellings kan uitreik waarby Suid-Afrika, die vasteland en die internasionale gemeenskap kan baatvind.
Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, het Donderdag gesê die sentrum verteenwoordig die waarde van wetenskap, tegnologie en vernuwing in die ontwikkeling van tegnologie en toepassings in Suid-Afrika.
Volgens Nzimande het die regering reusebeleggings gedoen om wêreldklasgeriewe en -vermoë te skep wat nie net die land nie, maar ook die res van Afrika tot voordeel gaan strek.
Hy sê R107 miljoen is oor drie jaar in die sentrum belê, waarvan R36 miljoen van die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (Sansa) kom.


Sansa is 'n entiteit van die departement van hoër onderwys, wetenskap en innovasie en het die afgelope tien jaar 'n ruimteweersentrum met 'n beperkte fokus bedryf.
Dr. Lee-Anne McKinnell, besturende direkteur van Sansa in Hermanus, het daarop gewys dat die werk sedert Oktober 2019 die ontwikkeling van infrastruktuur en die installering van toerusting behels het, sowel as om die nodige vaardighede te verwerf.
Die sentrum is soos beplan in September vanjaar voltooi en binne die begroting, sê McKinnell.
Vroeë waarskuwings en voorspellings is noodsaaklik om satelliete, die kragnetwerk en stelsels vir kommunikasie en navigasie te beskerm teen die skadelike uitwerking van sonstorms en ander weerverskynsels in die ruimte, benadruk Sansa in 'n verklaring.
Nzimande het in sy toespraak genoem dat Sansa, soos ander regeringsentiteite, die verantwoordelikheid het om by te dra tot die stryd teen armoede, werkloosheid en ongelykheid terwyl dit ontwikkeling en veiligheid bevorder.
Sansa se mandaat sluit in die bevordering van samewerking in ruimteverwante aktiwiteite en navorsing, die ontwikkeling van vermoë in die wetenskappe en om by te dra tot die skep van 'n gunstige omgewing om ruimtetegnologieë te ontwikkel.
Nzimande het bygevoeg dat Suid-Afrika staatmaak op dienste en tegnologie in die ruimte en dat Sansa van strategiese belang is om uitdagings die hoof te bied en mense se lewe te verbeter. Terselfdertyd maak dit samewerking oor landsgrense heen en op planetêre skaal moontlik sodat die mensdom meer volhoubaar kan leef.






