Die Phoenix-1C- en -1D-vuurpyle wat Maandag en Dinsdag by Denel se Overberg-toetsterrein gelanseer is, het nie net ten doel om meganiese-ingenieur-studente van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) se vaardighede te ontwikkel nie - dit wil uiteindelik ook Suid-Afrika se ruimtevoetspoor uitbrei.
Die Phoenix-program is in 2010 deur die fakulteit meganiese ingenieurswese van stapel gestuur, het prof. Michael Brooks, dosent aan die fakulteit, aan Netwerk24 verduidelik.

"Dit is hoofsaaklik 'n opleidingsprogram vir ons ingenieurstudente. Ons wou iets meer prakties aan studente bied waar hulle die teorie kan toepas. Die vuurpyle word deur studente gebou en daar is 'n baie groot span (van hoofsaaklik studente) wat seker maak dat alles vlot verloop."
Die vuurpyle in die Phoenix-program is prototipes en bereik glad nie die ruimte nie, sê hy.
"Hulle bereik tussen 20 km en 25 km, terwyl die ruimte eers by 100 km begin."
Phoenix-1C het volgens die webwerf Space in Africa 'n eksperimentele vrag gedra van die Durban-Universiteit vir Tegnologie, die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap.
Brooks sê die Phoenix-1D is Maandag gelanseer. Denel se toetsterrein by Waenhuiskrans in die Wes-Kaap is volgens hom geskik vir dié soort toetse "omdat daar altyd met die lansering van sulke projekte risiko's is".
Dit bied ook aan studente insig in hoe hierdie projekte in die praktyk uitgevoer word met al die prosesse wat in die agtergrond nodig is, sê hy.
Brooks is een van die stigters van die UKZN se ruimtevaartstelsel-navorsingsgroep. Hy sê die instelling is daartoe verbind om Suid-Afrika, en ook die vasteland, se ruimtevoetspoor te bevorder.

"Die Phoenix-program is ook deel van 'n groter projek - Saffire (South African First Integrated Rocket Engine). Dié projek is nog in sy teoretiese fase, maar wat ons hierdeur wil bereik, is om meer satelliete van Suid-Afrikaanse grondgebied af te lanseer," sê Brooks.
"Suid-Afrika het satelliete in die ruimte, maar ons beskik nie oor al die hulpbronne om self ons satelliete te lanseer nie. Dit word dikwels uitgekontrakteer, wat geld kos. Deur die Saffire-program wil ons 'n vuurpyl ontwikkel wat ons in staat sal stel om self hoër en verder in die ruimte in te gaan."
Philani Ngcobo (20) 'n derdejaarstudent in meganiese ingenieurswese wat deel van die program was, het aan Netwerk24 gesê dit was opwindend toe die vuurpyl in die lug opgaan.
"Ons het so baie deur die hele proses geleer. Met Maandag se toets was dit veral goed om te leer van al die veiligheidsmaatreëls wat met hierdie tipe werk gepaardgaan - nie net tydens die lansering nie, maar ook tydens die hele opstelproses," sê hy.

"Ek wil baie graag 'n ruimtevaartingenieur word. Hierdie ervaring het my baie geleer oor ballistiek, lugdinamika, die termodinamika van vuurpylaandrywingstelsels en die radaropsporing van vuurpyle. Dit gaan my beslis in my loopbaan help."
Die UKZN se ruimtevaartstelsel-navorsingsgroep word deur die departement van hoër onderwys, wetenskap en innovering gefinansier.
Dr. Blade Nzimande, minister van dié departement, het Woensdag gesê hy is trots op "die jong mense agter hierdie opwindende program by UKZN".
"Hulle is 'n span van toegewyde meganiese-ingenieur-studente wat onverpoosd daaraan gewerk het om te verseker dat die lansering suksesvol is."
UKZN is tans die enigste Suid-Afrikaanse universiteit wat 'n toegepaste vuurpylaandrywingsprogram aanbied.




















