Jy het in die Kaap grootgeword… het jy toe ook in De Hoop gekuier?
Ja, ek het goeie herinneringe aan De Hoop toe ons kleintyd daar vakansie hou het; dit was voor die opknappingswerk in 2007. Die reservaat was nog basies en ek onthou ek het volstruisvere opgetel, perde gestreel en die vryheid van die natuur geniet.
Ek vermoed jy was die enigste joernalis by die uitstalling wat vir Glenda Kemp, die bekende slangdanseres uit die 70's, opgesoek het…
Ja, ek dink ook so. Ek was geamuseer deur die toevallige invalshoek van die uitstalling. Gegewe Glenda se legendariese status was dit verbasend maklik om haar in die hande te kry. Ná 'n Google-soektog het ek afgekom op 'n onderhoud in 2019.
Glenda het op die ouderdom van 70 ander vroue na haar danslesse genooi. Sy was later baie vriendelik op die foon toe ons gesels het.
Nadat ek jare lank nuusstories vir die Sunday Times en City Press geskryf het, hou ek steeds daarvan om die legkaartstukke inmekaar te sit... om die hartklop te voel en met woorde alles saam te weef.
Waarvan hou jy meer: adrenalienvakansies of ontspanne dae?
Ek was onlangs in die Samara-Karoo-reservaat buite Graaff-Reinet en 'n olifantbul het op 'n tweespoorpaadjie ons van voor af bestorm. Een van my reisgenote het opgemerk: "Ek verkies die natuur mooi, nie dreigend nie!" Gelukkig kon die gids ons bergaf na veiligheid neem.
Ek verkies ook die natuur mooi, maar met 'n tikkie uitdaging. Ek het byvoorbeeld in 2024 Palermo in Italië besoek en vir 'n ruk uit die gewoel van die stad ontsnap en afgeleë paadjies in die nabye Zingaro-natuurreservaat gevolg. (Terloops, Sisilië is 'n gawe bestemming vir Suid-Afrikaners; dis baie goedkoper in vergelyking met die res van Europa.)
Kan jy as joernalis ooit regtig afskakel wanneer jy reis?
Nee, ek is altyd op soek na interessante en buitengewone ervarings en nuwe maniere om my waarnemings weer te gee. Die Franse skrywer Anaïs Nin het dit goed gestel: "We write to taste life twice."
Indien jy 'n gemaksartikel in jou huis kan saamneem op reis, wat sal dit wees?
My ou houtklereklas. Ek lees dikwels die weer verkeerd en dink altyd dit gaan warmer wees. Maar dis elk geval groot moeite om klere rond te karwei... 'n sakgrootte klere- kas sal perfek wees!
Waarheen wil jy nog reis?
Die Sederberg is in my visier, die Amatolaberg, en ook KwaZulu-Natal se kus tot by Mosambiek. Ek is ook nuuskierig oor Lissabon (die Angolese lugredery TAAG het fantastiese aanbiedinge) of dalk moet ek maar net 'n espetada by Dias Tavern in Distrik Ses in die Kaap gaan eet.

















