Agter die skerms: Jean Cooper

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jean Cooper en sy vrou, Fransie.
Jean Cooper en sy vrou, Fransie.

Lees die laaste aflewering in hierdie Reisjoernaal-reeks.

Wat was die grootste lesse wat jy uit die toer geleer het?

Sjoe, dis 'n groot vraag. Só groot dat ek pas 'n boek daaroor voltooi het! Die reis het my die geleentheid gebied om myself teen 'n ander agtergrond te beleef. Die toer het gemaak dat sekere aspekte van myself, wat gewoonlik ongesiens verbygaan, op gefokus word. Vrae oor wat saakmaak, wat ek glo, en of ek die moed het om eerlik daaroor te wees, hou my kop nogal besig.

Die mense van Afrika het tyd vir mekaar, én vir vreemdelinge soos ons. Wanneer 'n mens stilhou om water te drink, hou hulle langs jou stil; een na die ander om te vra of jy orraait is, of hulle jou met iets kan help.

Hulle lewe met net die nodigste. Na aan die natuur en na aan mekaar. Met minder fieterjasies en angs as ons. Dis 'n harder lewe, met minder luukshede, maar meer medemens-likheid en sielsgeluk.

Ek dink dis makliker om deur Afrika op 'n motorfiets te ry as om die belangrike vrae oor 'n mens se lewe aan te durf! Op 'n manier begin die ware avontuur dus nou eers!

Jy noem 'n paar keer jou vrou, Fransie, in die artikels. Wat was haar rol tydens die toer?

Haar grootste ondersteuning was dat sy my die avontuur gegun het. Dat sy bereid was om die fort te hou by die huis, tesame met haar voltydse werk. Omdat sy in die diplomatieke wêreld werk, kon sy vir ons help blyplek reël by kollegas in Luanda, Accra en Madrid.

Waar grense skielik gesluit is (Gaboen, Guinee) en ons ompaaie moes soek, kon sy ook deur haar netwerk navraag doen oor die veiligheid van moontlike opsies.

Jy en De Witt ken mekaar al sedert universiteit - hoekom was hy die beste vennoot op 'n toer soos dié?

Daar is nie nog iemand soos De Witt op hierdie planeet nie. Hy is die een saam met wie jy 'n oorlog wil aanpak. Hy vat raak, kan logies deur probleme werk wat vinnige oplossings verg - én hy verdwaal nie! Hy's ook 'n uitstekende gespreksgenoot vir al die vrae en gewaarwordinge wat op so 'n reis by 'n mens opkom.

As jy een land kan kies waarheen jy sou wou terugkeer, wat sal dit wees?

Marokko, veral as dit saam met my gesin is. Dié land is beter gerat vir toeriste. Senegal, Benin en Angola bied almal ook uitstekende geleenthede vir strandvakansies saam met 'n gesin. Die hawestad Pointe-Noire in die Republiek van Kongo ook - dan kan jy die pragtige oerwoudpad ry van Pointe-Noire af Brazzaville toe om die Kongorivier te beleef.

Watter land wil jy verkieslik nooit weer sien nie?

Nigerië. Die verkeer en padblokkades maak 'n mens klaar.

Julle het die Husqvarna-motorfietse aan die einde van die toer in Madrid verkoop - het jy sedertdien weer een aangeskaf?

Ja, ek het 'n tweedehandse Husqvarna Norden 901 gekoop. Dis die goedkoper boetie van die Expedition-fietse waarmee ons getoer het. De Witt ry nog al die tyd sy Yamaha Tenere 700 in Australië, waar hy woon. Ek sal volgende graag deur Suid-Amerika wil ry, maar het nog nie begin planne maak nie...

SPELETJIES VANDAG

CTA