Sy was dus die perfekte kandidaat vir 'n storie oor die Dwarsriviervallei net oos van Stellenbosch.
Wat was die hoogtepunte van jou besoek aan die Dwarsriviervallei?
Die mense is vreeslik gasvry. Ek was oorweldig deur hulle opregtheid. Ek het in die strate rondgeloop en foto's geneem en mense sou stop, gesels, en dié vreemdeling sommer in hulle huise nooi.
Die mense is vir lank hier alleen gelaat en afgesonder. Dit het 'n gemeenskap geskep waar sterk waardestelsels in plek gebly het.
Dis amper 'n outydse atmosfeer van omgee en mekaar versorg. Mense sien mekaar raak.
Hoekom moet lesers soontoe gaan?
Hierdie vallei is 'n geheime paradys - die natuurskoon is verruklik. Dis ook besig om te verander namate die ouer garde afsterwe en eiendomsmagnate dit ontdek en mure bou.
Wat het jou verras?
Die Banhoek-bewarea se stap- en fietsroetes is netjies en die uitsigte puik. Ek was verstom deur Lanquedoc. Dis 'n argitektoniese skatkis wat deur sir Herbert Baker ontwerp is.
Die meeste van die huisies is nog redelik mooi versorg. Ek hoop daar word maatreëls in plek gestel om die gemeenskap en argitektuur te bewaar.
Wat is 'n lekker dag in die Dwarsriviervallei?
Gaan stap, hardloop of ry fiets in die Banhoek-bewarea. Gaan drink koffie by Beker en Bord of die Banhoek Chilli Oil Company of by die Hillcrest Berry Farm met ongelooflike uitsigte.
Stap saam met 'n gids deur die vallei en verken die geskiedenis en wynplase.
Eindig met 'n glas wyn in die hand op die Delaire Graff-restaurantstoep en kyk hoe die son die berge hier in die vallei verkleur tot oranje en pienk.
Wat is jou volgende avontuur?
Ek gaan in die winter die Walvisroete stap. My groot droom is om 'n fietstoer aan te pak - eers hier in my eie omgewing om te sien hoe 'n mens dit doen en wat jy nodig het.
En dan wil ek 'n bietjie verder gaan. Dalk Namibië en miskien kan ek weer 'n slag op 'n vliegtuig klim.
Wat is altyd in jou rugsak wanneer jy reis?
My Switserse mes wat ek by 'n Switserse toeris present gekry het, 'n sakkie Rehidrat en 'n noodhulpstel.
'n Sarong is lig en veeldoelig - ek gebruik dit as laken, kombers, tafeldoek, handdoek en skadunet. En natuurlik duct tape - dit maak enigiets reg.
Gaan loer by flyingfeet.co.za as jy Montagu besoek.









