Wat maak die lewe lekker in Durban?
Die stad het ietsie van alles. Hier's strande, kuswoude en kos wat nie net vorentoe smaak nie, maar ook ryk is aan geskiedenis - soos die bunny chow. Die iSimangaliso-vleilandpark en Drakensberg is ook nie ver nie.
Daarby kan 'n mens Durban in die winter ook besoek. Die seewater raak nie koud nie en dit reën bykans nooit nie. Dis heerlik om die oggend met 'n sonsopkoms op die strand te begin en dan by Humble Coffee in Windermereweg te gaan ontbyt eet.
Jy is duidelik lief vir stap. Watter dagroetes in die Durban-omgewing sal jy aanbeveel?
Die roete tot by die Mackintosh-waterval in die Giba Gorge-bergfietspark is taai maar belonend.
Ek gaan stap graag op Umdlotistrand of in die aangrensende Sibaya-reservaat se woude met sy inheemse boomsoorte vol interessante goggas. Die strand is gewoonlik taamlik leeg en stil, met rotsriffies en -poele om te verken.
Wat is jou gunsteling- plaaslike bestemming?
Port Edward, op die grens tussen KZN en die Oos-Kaap. Daar's 'n visvangplek wat - heel gepas! - Splash Rock genoem word. Gaan kyk gerus 'n slag hoe die branders daar teen die rotse breek. Die Beaver Creek-koffieplaas se staproetes is in die omgewing en is daar heelwat padstalle met plaaslike produkte en handwerk.
Wat is jou droombestemming?
Wat bedoel jy - dit voel reeds soos 'n droom om in Suid-Afrika te woon!
Elke liewe provinsie het soveel ongelooflike plekke om te sien. Ek woon al my hele lewe in Durban, maar daar is steeds heelwat van KZN wat ek nog nie verken het nie. Ek het byvoorbeeld laasjaar vir die eerste keer Drakensberg toe gegaan.
Ek sal graag eendag die Otter wil stap. Of die Walvisroete. Wel, dié wenslysie groei elke dag!
Waarheen mik jy volgende?
Ek wil graag my driejarige nefie neem om in die uMhlanga-strand-meernatuurreservaat te gaan stap. Ek dink hy is nou uiteindelik groot genoeg om die stad se woude saam met my te kan verken.
Wat is altyd in jou rugsak?
'n Kragbank. Maar of dit altyd gelaai is, is 'n ander saak...















