Wat veronderstel was om die begin van ’n jong Suid-Afrikaanse boer se lewe in Amerika te wees, het tragies geëindig toe ’n trein sy stroper tref.
Die familie van Stephan van den Berg (33) van Bultfontein is nie presies seker wat gebeur het nie.
Hulle is baie geskok, sê Charles Hughes, die familiewoordvoerder.
Van den Berg was Donderdag met die stroper op pad na ’n ander landery toe die trein hom tref.
Hy het in Colgate in Noord-Dakota gewoon en vir ’n saaiboer naby die stad Page gewerk.
’n Plaaslike nuuspublikasie, KX News, het berig die ongeluk het Donderdag omstreeks 11:00 gebeur. Foto’s van die toneel wys dat ’n treinwa op die John Deere-stroper geval het. Die impak het die lokomotief aan die brand laat raak en ongeveer 20 waens het ontspoor.
Van den Berg is op slag dood.
Die trein se masjinis en drywer kon uit die lokomotief ontsnap voordat die brand versprei het en is nie beseer nie.

Hughes sê Van den Berg het groot drome vir die toekoms gehad en was in die proses om permanente verblyfreg in Amerika te verkry. Hy het al sy geld gespaar en wou graag ’n onderneming daar begin het.
Saterdag word ’n gedenkdiens vir hom by die NG kerk Bultfontein-Oos gehou. Hy sal in Amerika veras word en sy as sal dan na Suid-Afrika gebring word.
Hughes beskryf sy vriend as iemand wat altyd bereid was om te help.
“Hy sou seker die klere aan sy lyf vir jou gegee het as jy dit nodig gehad het. Hy het baie hard gewerk en het beslis ’n verskil in die lewe van mense gemaak. Ons is bitter trots op hom,” sê Hughes.

Van den Berg se suster, Samantha, beskryf hom as ’n bron van lag, liefde en krag.
“Om hom te verloor het ’n leemte gelaat wat woorde nie kan vul nie,” skryf sy op Facebook.
CV Placements, die maatskappy wat Van den Berg gehelp het om in Amerika te gaan boer, het ook sy medelye betuig.
“Stephan was ’n waardevolle werknemer wat vir baie seisoene in Noord-Dakota gewerk het,” lui die plasing.
Van den Berg se alma mater, die Hoërskool Bultfontein, het ook medelye betuig.
5506

















