ActionSA ‘terug na sy kiesers’ oor moontlike koalisies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Herman Mashaba, leier van ActionSA, spreek Woensdagmiddag lede van die media by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria toe. Foto: Deaan Vivier
Herman Mashaba, leier van ActionSA, spreek Woensdagmiddag lede van die media by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria toe. Foto: Deaan Vivier

ActionSA sal met sy kiesers in gesprek tree en vir hulle vra met wie hulle bereid is om in koalisie te gaan, sê Herman Mashaba, partyleier.

Hy het Woensdagmiddag by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria herhaal ActionSA sal beslis nie met die ANC in gesprek tree nie.

Wie ook al met ActionSA in koalisie wil gaan, moet besef maatskaplike geregtigheid is deel van dié party se kernwaardes.

Ander politieke partye wat met ActionSA wil praat oor moontlike koalisievorming, moet weet sy party se doel is om die armes te help. "Ons is nie 'n politieke party wat net daar is om sekere gemeenskappe te dien nie."

Die party, wat net kandidate gestel het in die drie metrorade van Gauteng - Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane - en in drie munisipaliteite in KwaZulu-Natal, insluitend die eThekwini-metro (Durban), het baie goed gevaar in die plaaslike verkiesings.

In al ses dié munisipaliteite is koalisieregerings die enigste uitweg.

"Dit was 'n strategiese besluit van ons senaat (die party se hoogste besluitnemingsliggaam) om net aan dié ses verkiesings deel te neem.

Ons is besonder tevrede met die uitslae tot dusver.

"ActionSA is net meer as 'n jaar gelede gebore as 'n politieke party om die ANC te onttroon en dít is presies wat ons reggekry het daar waar ons kandidate gestel het.

"Ons is besonder tevrede met die uitslae tot dusver," het Mashaba, 'n voormalige DA-burgemeester van Johannesburg, gesê.

In Johannesburg het die party teen Woensdagmiddag 16,08% van die stemme op hom verenig, 8,84% in Tshwane en 6,57% in Ekurhuleni. Dit plaas hom in 'n goeie posisie om deel te vorm van 'n koalisieregering.

ActionSA is steeds ontevrede omdat die party se kenteken nie op wykstembriewe was nie. Hy glo dit het hom in die wykstemme benadeel.

Michael Beaumont, voorsitter van ActionSA, sê die bewys lê daarin dat dié party 30% meer proporsionele stemme gekry het as in die wyke.

Mashaba sê ActionSA het nou gewys hy is die enigste party wat die vermoë het - en daartoe verbind is - om die ANC te onttroon. "Ons kan Suid-Afrikaners van alle agtergronde bymekaar bring en die ANC uit die kussings lig."

Die party gaan nou sy vlerke na ander provinsies sprei om die ANC met die algemene verkiesings in 2024 uit te skop.

"Gaan kyk maar na die uitslae. Ons is nie 'n party wat net in sekere gebiede steun het nie. Ons het steun in tradisionele woonbuurte én in die townships.

"Ons het mense oor die kleurgrense heen wat vir ons stem. Ons sal slegs oorweging gee aan moontlike deelname aan koalisies waar die doel is om die breër gemeenskap te dien."

Hy sê ActionSA wil hê alle beweringe van korrupsie in munisipaliteite moet ondersoek word.

Hy het vroeër aan die SAUK gesê ActionSA is nie 'n party wat sal fokus op die sny van gras solank daar mense is wat nie toilette het nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA