Suid-Afrika se elektrisiteitsprobleme is 'n nasionale kwessie waarvoor almal ná Maandag se plaaslike verkiesings moet saamwerk om 'n oplossing te vind.
Dit was Sondag pres. Cyril Ramaphosa se boodskap aan ANC-ondersteuners in Mogale City in Gauteng toe hy as ANC-president die laaste dag van dié party se verkiesingsveldtog moes gebruik om wal te gooi oor die beurtkrag wat Suid-Afrika steeds teister.
Die Vereniging van Plaaslike Regerings (Salga), wat alle munisipaliteite verteenwoordig, het Sondag 'n beroep gedoen op alle geregistreerde kiesers, veral jeugdiges, om Maandag in groot getalle te gaan stem sodat die demokrasie oorleef.
Laat ons asseblief nie enige kanse vat nie.
— Julius Malema
"Plaaslike regering is as die regeringsfeer wat die naaste aan die mense is, baie belangrik om te verseker dat burgers gehaltedienste soos skoon water en sanitasie, vullisverwydering, elektrisiteit, munisipale paaie, stormwater-infrastruktuur en munisipale vervoer ontvang. Deur nie te stem nie, laat ons toe dat ander ons leiers kies en besluite neem. Gaan stem," sê Salga in 'n verklaring.
Ramaphosa het in Mogale City aan joernaliste gesê die ANC sal Maandag 'n "volstrekte" oorwinning behaal. "Daarom bestaan koalisies nie in my woordeskat nie."
Volgens hom het hy en Eskom reeds beurtkrag aan landsburgers verduidelik. "Ons vertrou dat daar oor die volgende paar dae geen beurtkrag sal wees nie."
Volgens hom het Eskom 'n enorme en moeilike taak, maar "ek plaas baie druk op hulle om die elektrisiteitstelsel in ons land te stabiliseer omdat ons mense dit verdien".
Op die vraag of beurtkrag 'n negatiewe invloed op die ANC in die verkiesings sal hê, het Ramaphosa gesê hy dink nie so nie. "Ons mense is baie kwaad, maar verstaan die verduidelikings.
"Ons het altyd geweet dat Eskom die grootste risiko nie net vir die ekonomie is nie, maar ook vir ons mense se lewe. Daarom moet ons daardie risiko bestuur. Tans doen ons dit."
Daarom bestaan koalisies nie in my woordeskat nie.
— Pres. Cyril Rampahosa
Ramaphosa het verder aan ANC-ondersteuners gesê dat hy ná die verkiesings lekgotlas met gemeenskappe beplan sodat almal kan help om die elektrisiteitsprobleem op te los.
Intussen het John Steenhuisen, DA-leier, Sondag saam met ander DA-amptenare kiesers van die party se inbelsentrum in Mitchells Plain, Kaapstad, gebel om hulle te oorreed om te gaan stem.
Hy het in 'n stemboodskap kiesers aangeraai om seker te maak dat "julle in die verkiesings vir 'n party stem wat 'n bewese geskiedenis het dat hy dinge gedoen kry. Net die DA het die mag om die ANC en die EFF uit te hou en te verseker dat julle vyf jaar van dienslewering het. Stem DA."
Julius Malema, EFF-leier, het Sondag ondersteuners in Polokwane aangeraai om reeds Maandagoggend 05:00 op te staan om te gaan stem omdat ons "die seuns van die manne sal skei".
"Laat ons asseblief nie enige kanse vat nie."
Volgens Malema is die "beurtkrag op die vooraand van die verkiesing" 'n bewys dat die ANC uitgestem moet word.





















