ANC hernuwe en erken foute, sê Dugmore

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit is deel van die hernuwing van die ANC dat hy erken waar hy foute gemaak het en nie in "ontkenning" gaan wees oor korrupsie of gebrekkige dienslewering nie.

Cameron Dugmore, ANC-hoof van verkiesings in die Wes-Kaap, het Dinsdag aan lede van die Kaapstad-persklub gesê dié party glo die eerste stap op sy pad na vernuwing is om te erken waar daar foute gemaak is.

Hy sê die ANC-president en die nasionale uitvoerende komitee (NUK) lei van voor met dié hernuwing en begin mense só teruglok.

"Stadig, maar seker begin 'n kultuur van hernuwing posvat."

Daarby sê Dugmore die ANC het minstens 10 000 vrywilligers in die provinsie, terwyl ander partye glo vir mense moet betaal om aan hul veldtogte deel te neem.

Nog 'n faktor wat hy sê die party se ondersteuners opgewonde maak, is die "demokratiese, inklusiewe en lang proses vir die keur van kandidate in die meeste, indien nie al die wyke nie".

Dié kandidate is dan aan die gemeenskap voorgestel vir hul goedkeuring in die aanloop tot die plaaslike verkiesings op 1 November.

Die laaste faktor wat Dugmore noem, is die "woede in talle gemeenskappe oor skeefgetrekte dienslewering deur die DA".

"Dienslewering word gerig op gemeenskappe wat reeds oor die jare baat gevind het by infrastruktuur."

ANC wil ‘voluit gaan'

Volgens Dugmore gaan die Wes-Kaap se politieke landskap heelwat anders daar uitsien ná die verkiesings, terwyl die ANC daarop gaan fokus om die opkoms van sy kiesers te verbeter.

"Die doelwit is om elke munisipaliteit te wen. Ons gaan voluit."

Hy verwag dat die DA steun links en regs van die politieke spektrum gaan verloor, onder meer aan partye soos Good, Patriotic Alliance, VF Plus en 'n "energieke ANC".

Stadig, maar seker begin 'n kultuur van hernuwing posvat.

Dugmore het daarop gewys dat die ANC met die 2016-verkiesings net een munisipaliteit in die provinsie met die hulp van 'n koalisie oorgeneem het, maar sedertdien het hy met tussenverkiesings by nege munisipaliteite oorgeneem.

Van die ANC se suksesse in dié dele wat hy noem, sluit in wetstoepassers wat ontplooi is by skole in brandpunte in Bitou, Kannaland, wat glo van die laagste persentasie inwoners in informele nedersettings het, en Matzikama, wat arm inwoners toelaat om ooreenkomste aan te gaan om hul erfbelasting en tariewe af te betaal.

Die ANC het besluit dat onderhoude met burgemeesterskandidate gevoer sal word en 'n span nasionale leiers sal die kandidate nagaan voordat hulle bekend gemaak word.

"Ons wil hê kiesers moet weet dat ons ernstig daaroor is om dit reg te kry en deeglik wil wees om die beste span aan te wys."

Kommer oor dié wat nie registreer

Dugmore het ook kommer uitgespreek dat soveel as 1,7 miljoen stemgeregtigdes in die Wes-Kaap nie geregistreer het om te stem nie.

Hy het benadruk dat verkiesings oor eenheid en gelykheid gaan en dat almal gelyk is wanneer hulle stem, ongeag hul verskille wat ras, geslag of geloof betref.

"Dit gaan oor eenheid teen diskriminasie weens rassisme, seksisme of klassisme, asook eenheid in die voorneme om korrupsie te verwerp, of dit in die ANC, sakegemeenskap of kerk is."

Cameron Dugmore spreek Dinsdag die Kaapstad-persklub toe. Foto: Malherbe Nienaber
Cameron Dugmore spreek Dinsdag die Kaapstad-persklub toe. Foto: Malherbe Nienaber

Volgens Dugmore is daar geen plek vir partye wat dele van Suid-Afrika wil verdeel of afstig nie.

Hy het ook erken dat daar kommer is oor die persepsie dat die ANC korrup is en die party wil benadruk dat hy die stryd teen korrupsie ernstig opneem.

"Dit is 'n stryd wat voortduur en 'n kultuurverandering. Ons moet korrupsie bestry terwyl die oppergesag van die gereg ook eerbiedig word."

As iemand wat al lank in die ANC is, sê Dugmore hy het opgemerk dat daar onder gewone lede geen meer debat is oor die besluit dat leiers hul poste moet ontruim as daar klagte teen hulle in die hof is nie.

"Binne 'n kort tydperk is die feit dat ons dié punt bereik het 'n teken van vooruitgang."

Tien prioriteite vir Kaapstad

Die ANC se prioriteite vir die Kaapstad-metroraad sluit in om dienste te lewer aan die dele wat "afgeskeep en gemarginaliseer" is ná 15 jaar, sowel as om die begroting vir infrastruktuur ten volle te bestee en informele nedersettings op te knap.

Die uitgebreide program vir openbare werke (EPWP) sal onder meer benut word om gemeenskappe op te ruim en 'n "massiewe herwinningsprogram" van stapel te stuur.

Goedgeplaaste grond wat aan die staat en staatsondernemings behoort, sal vrygestel word vir behuising en private grond sal uitgewys word vir "geïntegreerde menslike nedersettings".

Dit gaan oor eenheid teen diskriminasie weens rassisme, seksisme of klassisme, asook eenheid in die voorneme om korrupsie te verwerp, of dit in die ANC, sakegemeenskap of kerk is.

Verder beloof die ANC om "apartheid- ruimtelike beplanning" uit te wis, onder meer deur grond en geboue in Seepunt, Woodstock, Parow, Bellville en Helderberg vir behuising te gebruik.

Plaaslike ekonomiese ontwikkeling en vroeëkinderontwikkeling sal ook bevorder word deur geriewe te verskaf, met 'n fokus op die "township-ekonomie".

Die ANC wil ook die Bambanani-veiligheidsveldtog met vrywilligers terugbring.

Dugmore beloof dat klimaatverandering met volhoubare ontwikkeling bestry gaan word, terwyl 'n stedelike landbouprogram ingestel gaan word.

Daarby sal 'n samewerkende benadering gevolg word om Kaapstad se probleem met openbare vervoer op te los en gaan 'n "volhoubare, humanitêre benadering" tot haweloosheid nagevolg word.

SPELETJIES VANDAG

CTA