Ons as kiesers hoor kort voor die verkiesing almal dieselfde (meestal leë) beloftes van die verskillende partye. Ons raak dit gewoond en steur ons nie eens meer daaraan nie.
Maar interessant is hoe die moddergooiery al hoe erger geword het. Dít was nogal lagwekkend.
Die persoon wat hierin die spreekwoordelike koek vat, is Cameron Dugmore, die ANC-leier in die Wes-Kaap. Eers beskuldig hy die DA daarvan dat hulle medeverantwoordelik is vir die ineenstorting van die gebou op George. Dit is nie eens kommentaar werd nie. Eintlik skandelik ongevoelig teenoor die treurendes.
Hy raak toe nog meer desperaat deur te beweer die DA se goeie regering van die Wes-Kaap is oëverblindery. Wat dink hy van kiesers se intellek? Was hy al 'n bietjie verder noord in ons land om te sien hoe lyk die provinsies, stede en dorpe waar sy party in beheer is? Wie se skuld is daardie onbeskryflike verval? Ook die DA s'n, mnr. Dugmore?
Hy onderskat kiesers verder deur die Wes-Kaap se werkloosheidsyfer van 16,9% in 2008 te vergelyk met die huidige 21,4% (25,05). Wat hy gerieflikheidshalwe nie sê nie, is dat daar 16 jaar verloop het sedert 2008 waarin honderdduisende werkloses Kaap toe gestroom het op soek na blyplek, beter skole, dienste en werkgeleenthede in 'n provinsie waar alles beter funksioneer.
Hy verswyg ook om te meld dat die Wes-Kaap oor die afgelope jare die meeste werkgeleenthede van alle provinsies geskep het om sodoende die laagste werkloosheidsyfer in die land te hê.
Nee, wat, mnr. Dugmore, ons weet nie watter kiesers jy probeer beïndruk nie, maar vir seker nie die nugterdenkendes nie.
• Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com. Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.
















