Verkiesing 2021

ANC moet daad by woord voeg, anders misluk SA, waarsku Mbeki

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Oudpres. Thabo Mbeki. Foto: AP
Oudpres. Thabo Mbeki. Foto: AP

Die ANC se "beter lewe vir almal"-slagspreuk aan die vooraand van die plaaslike verkiesings moenie net by lippediens bly nie, maar daadwerklik mense se lewe verbeter.

"Die ANC moet by sy beloftes hou, anders sink Suid-Afrika as 'n land," het oudpres. Thabo Mbeki Donderdagaand op 'n geleentheid saam met sakelui in Parktown, Johannesburg, gewaarsku.

"Die ANC is sedert 1994 die party wat aan die bewind is en dit waaroor die media berig, is 'n weerspieëling van die mislukking van die ANC," het Mbeki gesê.

Hy het na onlangse berigte in die media verwys wat handel oor gebrekkige dienslewering in plaaslike munisipaliteite.

"Die ANC moet hierop reageer. Dit sal onverantwoordelik wees om te sê ons kan beter doen, maar ons bedoel dit nie," het hy gesê.

Volgens Mbeki is die een positiewe aspek van die Covid-19-pandemie dat die regering met sektore soos arbeid, sake en die burgerlike samelewing vergader en in gesprek getree het.

"Dit is die heel eerste keer sedert 1994 dat almal saamgestem het oor wat om te doen. Ons het hande gevat en saamgewerk om die situasie te verander en te besluit wat om te doen en wanneer om dit te doen."

Die oplossing is hernuwing. Die ANC is dood sonder hernuwing.

—  Oudpres. Thabo Mbeki

Volgens Mbeki het die gehalte van leierskap in die geledere van die party die afgelope paar jaar agteruit gegaan.

"Die oplossing is hernuwing. Die ANC is dood sonder hernuwing. Jy kan nie die realiteit net erken, maar nie daarop reageer nie. Daar is mense in die ANC wat uitstekend kan toi-toi en liedjies sing, maar nie werklik deel van die ANC is nie. Hulle het hul eie agendas," het Mbeki gesê.

"As 'n regerende party onvanpas optree, het dit 'n negatiewe impak op 'n land. Die ANC is te groot om te misluk. As hy misluk, sal die land misluk. Ons as 'n land moet daarom seker maak dat die party sy verpligtinge nakom," het hy gesê.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM