Suid-Afrikaners het vertroue in politici en die politieke stelsel verloor.
Dit was reeds duidelik in die lae kieseropkoms in verlede jaar se nasionale en provinsiale verkiesings. Hoewel verkiesings ’n meer wetenskaplike meetinstrument van deelname en belangstelling in die politieke stelsel is, is die tekens van wantroue oral.
Mense wat moeg is vir korrupsie is selfs skepties oor nuwe regeringsprojekte omdat hulle vrees dat miljarde rand gesteel sal word.
Terwyl gehoop is dat ANC-politici ná die 2024-verkiesing uitgeskop sal word, sit hulle steeds in die koalisieregering. Dit is ook duidelik dat korrupsie nie tot die ANC beperk is nie. Die DA en ander partye staan ook agter die deur.
Die ontnugtering met formele politiek verduidelik waarom lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, so verafgod word.
Mkhwanazi het met mening op die toneel verskyn toe hy in Julie by ’n mediakonferensie beweer het dat misdaadkartelle die polisie binnegedring het en dat hulle met politici saamspan om hul doelwitte te bereik.
Mkhwanazi se bewerings is dadelik vir die waarheid aanvaar. Niemand wou vir enige bewyse wag nie. Vir die meeste mense is dit presies wat hulle verwag het – dit is immers moeilik om politici van misdadigers te onderskei.
Mkhwanazi is oornag tot ’n held verhef en daarom is enigiemand wat in sy pad staan, as ’n vyand gesien. Gelukkig vir hom, het die president ’n spesiale kommissie byeengeroep om die bewerings te ondersoek.
Die probleem met Mkhwanazi se kultusstatus is dat, sover dit die meeste mense aangaan, hy niks verkeerd kan doen nie. En hy self het dit begin glo, want hy val almal aan wat dit waag om hom te kritiseer. Hy het selfs voorgestel dat diegene wat hom kritiseer deur die staatsveiligheidsdiens en die polisie ondersoek moet word. Dit is ’n kommerwekkende ontwikkeling, want so voed hy diktatoriale neigings.
Politieke geskiedenis wys dat wanneer gemeenskappe vertroue in politici en politieke instellings verloor het, hulle na kitshelde begin hunker en dat dit gewoonlik diepgaande en potensieel vernietigende gevolge inhou.
Die “helde” wat hierdie vakuum vul, is dikwels populistiese of charismatiese leiers wat daarop aanspraak maak dat hulle outentieke leiers is teenoor die korrupte elite.
Hierdie figure verkry steun deur in opstand te kom teen die bestaande stelsel. Dit resoneer met die publiek se frustrasie met kwessies soos ekonomiese stagnasie, korrupsie, en die oënskynlike gebrek aan verteenwoordiging.
Die retoriek wat gebruik word vereenvoudig dikwels ingewikkelde probleme tot ’n maklike narratief van “ons teen hulle”, wat aanklank vind by diegene wat vir eenvoudige, vinnige oplossings soek.
Die geskiedenis wys egter wanneer hierdie kitshelde eers mag bekom, hulle die instellings verswak wat daarop gemik is om uitvoerende mag in te perk. Hierdie nuwe helde val dikwels die onafhanklikheid van die howe, die staatsdiens en die media aan, en beweer dat dié instellings deel is van die korrupte elite.
Dit is presies wat Mkhwanazi gedoen het toe hy beweer het dat daar wydverspreide korrupsie in die regbank en die media is. Die media het sterk teenkanting gekry toe hulle hom oor sy uitlatings gekritiseer het. Sommige lede van die publiek het selfs voorgestel dat hy sy eie politieke party moet begin.
Suid-Afrikaners het vertroue in die polisie en die regering verloor en is daarom bereid om hierdie helde te omarm.
• Tabane is politieke redakteur van City Press.











