ANC se steun duik in Mpumalanga

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die telbord by die verkiesingsuitslagsentrum in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Die telbord by die verkiesingsuitslagsentrum in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Oor die afgelope 21 jaar het die ANC se steun in die munisipale verkiesings in Mpumalanga met meer as 20 persentasiepunte afgeneem.

In die verkiesings van 2000 en 2006 het die party byna die 80%-grens oorgesteek toe hy onderskeidelik 79,77% en 79,84% van die steun gekry het.

Oor die afgelope vyf jaar het sy steun egter gebloei tot 70,74% in 2016 en 59,31% vanjaar.

Koalisieregerings is in drie munisipaliteite (Govan Mbeki, Steve Tshwete en Lekwa) die voorland.

Prof. Dirk Kotzé, politieke wetenskaplike van Unisa, sê dit het nie in die ANC se guns getel dat hy sy veldtog 'n nasionale een gemaak het nie.

"Hulle wou nie oor diensleweringskwessies praat nie. In die meeste gevalle moes hulle egter noodgedwonge daaroor praat."

In die Govan Mbeki-munisipaliteit het die ANC net 41,08% van die steun getrek teenoor 2016 se 56,95%. Daar is 63 setels in die raad. Die ANC het die meeste met 26 gevolg deur die DA (17), die EFF (13), die VF Plus (3), die ARP (2) en die IVP en ATM met 1 elk. Die DA, die EFF en die VF Plus se steun in die munisipaliteit het gegroei. In 2016 het die DA 15 setels op hom verenig, die EFF 9 en die VF Plus 1.

Met 58 setels in die Steve Tshwete-munisipaliteit, het die ANC net 21 op hom verenig en sy steun is tot onder 40% gedwing vergeleke met 55,49% in die vorige verkiesing. Die DA (17), die EFF (9), die MHRF (7), die VF Plus (3) en 'n onafhanklike kandidaat met een setel sal in die raad verteenwoordig word. In vergelyking met die vorige verkiesing het die ANC 11 setels in die raad verloor. Daar lê 'n groot taak vir die koalisievennote voor om dié munisipaliteit reg te ruk.

Hulle wou nie oor diensleweringskwessies praat nie. In die meeste gevalle moes hulle egter noodgedwonge daaroor praat.

Die munisipaliteit is in November 2018 onder provinsiale administrasie geplaas. In die ouditeur-generaal se verslag vir 2019-'20 is die munisipaliteit se finansiële posisie as benard beskryf omdat daar nie voldoende inkomste is om die uitgawes te dek nie. Die munisipaliteit se oudits is die laaste drie jaar afgewys en hy was een van die grootste bydraers tot vrugtelose en verkwiste uitgawes met R200 miljoen en ongemagtigde uitgawes van R550 miljoen.

Geen party het ook 'n volstrekte meerderheid in die Lekwa-munisipaliteit behaal nie. Die ANC het 13 setels uit die 30 gewen, die LCF 6, die DA 4, die EFF en VF Plus 3 elk en die ATM (1). Luidens News24 en Netwerk24 se Buitewerking-indeks is die munisipaliteit in 2018 en 2021 ingesluit op die departement van samewerkende regering en tradisionele sake se lys van wanfunksionele munisipaliteite wat in nood is.

Volgens Kotzé is daar twee tendense in Mpumalanga in die ANC se steun.

"Die dele aan die ooste van Mpumalanga om die Laeveld en die Krugerwildtuin is die party se steun nog hoog met sommige munisipaliteite wat bo 70% is."

Kotzé sê hoe verder jy wes beweeg, hoe swakker het die ANC gevaar.

"In die westelike gedeelte van Mpumalanga naaste aan Gauteng, is die partysteun laag. Dis deel van die invloed en kwessies van Gauteng wat hier ter sprake is."

Kotzé sê hoewel die EFF taamlik goed gevaar het, was die DA nog altyd in 'n swak posisie in Mpumalanga.

"Die ANC se oorheersing in die provinsie het dit omtrent onmoontlik vir die DA gemaak om hier vas te skop. Hulle maak net nie vordering hier nie."

SPELETJIES VANDAG

CTA