"Hy sê ons moet vir die ANC stem, maar ons bruin mense word nooit raakgesien nie."
So het Justine Camphor (35) van Kuyga in Gqeberha Vrydag ná afloop van pres. Cyril Ramaphosa se besoek aan die Nelson Mandelabaai-metro gesê. Ramaphosa het verskeie gebiede in die metro besoek om stemme vir die ANC in die komende plaaslike verkiesings te werf.
In sy toespraak in Kuyga en later ook Alfonso het Ramaphosa die inwoners aangeraai om op 1 November vir die ANC te stem, terwyl hy "phuma, DA" (uit, DA) geskree het.
Volgens Camphor het party inwoners gedink hulle gaan 'n geleentheid kry om te praat.
"Ons almal het saam met ons kinders in die reën uitgekom, maar hy het net oor die ANC gepraat. Ons wil ook raakgesien word. Ons is ook mos mense. Apartheid is uit, maar dit lyk asof apartheid steeds met ons is."

Terwyl twee ander inwoners hul kop saamstemmend geknik het, het Camphor bygevoeg dis nie net bruin mense wat in Kuyga woon nie.
"Hier woon wit mense ook, maar hulle word ook nie raakgesien nie. Alles gaan altyd net vir die swart mense. Moet ons eers vir die ANC stem voordat ons raakgesien kan word? Dit werk mos nie so nie? Ons almal het 'n keuse. As ons die verkeerde keuse maak om vir die ANC te stem, gaan ons steeds almal agtergelaat word. Ons wou gehad het hy (Ramaphosa) moet oor sulke dinge praat."
Volgens Camphor is werkloosheid 'n groot probleem onder die bruin inwoners in die gemeenskap. Sy self is reeds drie jaar werkloos.
"Dis nie asof ons nie opstaan om werk te soek nie. Ons sal strate ook vee, maar die geleenthede word nie vir ons gegee nie. As jy sien, is daar reeds mense gekies."
Volgens Camphor is dit een van die redes waarom sy "altyd agter die DA sal staan".
"My hart was seer toe hulle ‘phuma, DA' skree. Ek sal altyd agter die DA staan, want hulle staan altyd by ons en probeer ons darem help. Daar is dit nie van bruin, wit en swart nie. Almal is saam. Nie soos met die ANC nie."
Ramaphosa, wat hoofsaaklik in Xhosa gepraat het, het meer werkgeleenthede en huise aan 'n juigende skare in Kuyga beloof. Die meerderheid van die sowat 200 inwoners het T-hemde van die ANC aangehad en het reën, wind en koue trotseer om na hom te luister.

Hy het inwoners aangeraai om in groot getalle vir die ANC te stem sodat die party weer beheer oor die metro kan terugkry. Die DA beheer tans die metro deur 'n koalisie met kleiner partye.
"Ons wil alles hier regmaak. Daarom moet julle vir ons stem," het Ramaphosa gesê. "Ons wil hê die ANC moet oorneem en die DA uitskop. Gaan weg, DA! Gaan weg! Die DA het geld ontvang om huise te bou, maar hulle het dit nie gedoen nie."
Volgens Ramaphosa het die DA die metro "opgemors" en sal die ANC alles "regmaak" as die party die verkiesings wen. Hy het ook huise en toegang tot elektrisiteit belowe.
"Ons sal die metro bestuur terwyl ons die belange van ons mense op die hart dra. Nelson Mandelabaai behoort aan die ANC."
Ramaphosa het ook die party se wykskandidaat vir Kuyga (wyk 40), Nosisa (Nonkie) Plaatjie, bekend gestel.
"Julle het haar as jul kandidaat gekies. Sy gaan vir die gemeenskap werk. As sy verkies word, moet sy in die munisipale kantoor slaap. Sy moenie geld steel of werk vir haar vriende gee nie. Sy het julle belowe sy gaan vir julle werk. Ek vertrou dis wat sy gaan doen."
Volgens Ramaphosa wil die ANC meer jong mense soos Plaatjie deel maak van die party.



















