Verkiesing 2021

ANC ‘wil toesien dat sy raadslede die mense nou begin dien’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die ANC is vasberade om te verseker dat sy nuwe munisipale raadslede ná die komende verkiesing in belang van die mense en nie hulself optree nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagmiddag dié versekering aan inwoners van die eThekwini-metro gegee toe hy hulle as deel van die regerende party se veldtog in aanloop tot 1 November se plaaslike verkiesings toegespreek het.

Hy het Saterdag en Sondag verskeie gebiede in die provinsie as ANC-president saam met Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal en ANC-voorsitter, en ander partyleiers besoek. In van die gebiede het hy 'n louwarm ontvangs gekry soos inwoners hul ontevredenheid met die party uitgedruk het. Dié provinsie is 'n groot steunbasis vir oudpres. Jacob Zuma.

Met drie weke oor voor stemdag het Ramaphosa en ander ANC-topleiers die afgelope naweek soos hul eweknieë van ander politieke partye hul verkiesingsmasjinerie in die hoogste rat geskuif en die land deurkruis om kiesers te oorreed om vir hul onderskeie partye te stem.

Pres. Cyril Ramaphosa het die naweek as deel van die ANC se verkiesingsveldtog met inwoners van KwaZulu-Natal gesels. Foto: Twitter/Fikile Mbalula
Pres. Cyril Ramaphosa het die naweek as deel van die ANC se verkiesingsveldtog met inwoners van KwaZulu-Natal gesels. Foto: Twitter/Fikile Mbalula

John Steenhuisen, DA-leier, was Sondag in Metsimaholo (Sasolburg) in die Vrystaat en Julius Malema, EFF-leier, in Noordwes, terwyl Velenkosini Hlabisa, IVP-leier, Sondag sy party se Gautengse verkiesingsmanifes in Soweto bekend gestel het.

Partye soos die Vryheidsfront Plus, die National Freedom Party en die Patriotic Alliance het die naweek ook hul verkiesingsmanifeste in onder meer Pretoria, Nongoma (KZN) en Eldoradopark aan kiesers bekend gestel.

Intussen het Ramaphosa Sondagmiddag in eThekwini aan ANC-kandidate gesê dat die ANC hulle vir die eerste keer ooit vanjaar deur gemeenskappe laat verkies het omdat inwoners vertroue in hulle het.

"Hulle glo dat julle vir hulle sal werk en nie jul eie sakke sal volstop of jul eie belang sal bevorder nie."

Hy het op 'n ander saamtrek in dieselfde metro gesê dat enige ANC-raadslid wat oortree, "steel of ons mense bedrieg, hulle buite die ANC plaas".

Ramaphosa het 'n beroep op kiesers gedoen om vir die ANC te stem omdat "net die ANC 'n beter bestuurde munisipaliteit kan verseker om ons mense se lewens te verbeter".

"Ons het in die onlangse verlede foute gemaak, maar is nou meer as vasberade om seker te maak dat ons en ons kandidate in ons mense se belang werk en hulle eerste stel."

Malema het in aan inwoners van die Maquassi Hills-munisipaliteit (Wolmaransstad) in Noordwes gesê dat die ANC-regering nie behoorlike dienste aan "swart mense kan lewer nie omdat die ANC aan selfhaat ly".

"Ons dink baie van ons mense. Ons sal nooit 'n middelmatige regering wees of middelmatige dienste lewer nie, omdat ons onsself respekteer."

Volgens hom kan Suid-Afrikaners niemand anders blameer as hulle nie die ANC-regering in munisipaliteite uitstem nie. "Hou op om politici op te hemel asof hulle meer mag het. Die mag is in jul hande. Gebruik dit op 1 November."

Hlabisa het in Soweto gesê die IVP het nog altyd sy beloftes aan landsburgers nagekom omdat hulle "dienaars" van die mense is.

"In ons geskiedenis was daar nog nooit een van ons burgemeesters of ministers op nasionale of provinsiale vlak wat in 'n hof op aanklagte van korrupsie verskyn het nie."

Hy sê dat geen IVP-lid ook by enige wanbesteding van staatsgeld of tender-onreëlmatighede betrokke was nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM