DA bevoordeel, sê ontleders

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Stemmery gaan voort by die Hoërskool Waterkloof in die ooste van Pretoria. Foto: isabel venter
Stemmery gaan voort by die Hoërskool Waterkloof in die ooste van Pretoria. Foto: isabel venter

Vrese vererger dat die kiesersopkoms in die plaaslike verkiesings een van die laagstes ooit kan wees.

Politieke kenners meen dat die ANC die swaarste getref sal word daardeur terwyl die DA die meeste munt sal slaan.

Die Verkiesingskommissie (OVK) het Maandagaand egter erg wal gegooi oor die algehele kiesersopkoms vir gister se verkiesing.

Die OVK het kort ná 20:00 Maandagaand bekend gemaak dat net agt miljoen Suid-Afrikaners hul kruisies teen 17:00 gister getrek het.

Dit terwyl sowat 26,2 miljoen kiesers geregistreer het om gister te kon stem.

Stembusse het teen 21:00 gesluit. Die eerste uitslae sal van middernag begin instroom.

Van links is, voor: Tobie Coetzee, Saskia en Zandri Franzsen; agter: Jack Coetzee, Louchje en Dries Franzsen. Klein Ezra Franzsen het ook saamgekom na die Prestasieskool in Germiston aan die Oos-Rand waar die volwassenes gestem het.  Foto: Arisa Janse van Rensburg
Van links is, voor: Tobie Coetzee, Saskia en Zandri Franzsen; agter: Jack Coetzee, Louchje en Dries Franzsen. Klein Ezra Franzsen het ook saamgekom na die Prestasieskool in Germiston aan die Oos-Rand waar die volwassenes gestem het. Foto: Arisa Janse van Rensburg

Mosotho Moepya, OVK-kommissaris, het Maandagaand op vrae oor of die land afstuur op die laagste kiesersopkoms ooit in 'n verkiesing, gesê hulle kan tans nie vergelykings daaroor tref nie.

Glen Mashinini, OVK-voorsitter, het bygevoeg dat dit nog te vroeg is vir die kommissie om ontledings of menings oor die kiesersopkoms te lig.

In die laaste plaaslike verkiesings van 2016 het ook net 58% van geregistreerde kiesers gestem.

Alle oë sal daar daarom op die finale uitslae, wat heel waarskynlik eers later die week bekend gemaak sal word, wees om te sien hoe die "hernuwende" ANC onder pres. Cyril Ramaphosa in hierdie uiters belangrike verkiesings sal vaar.

Dit veral nadat 'n reeks onlangse meningspeiling van Ipsos Suid-Afrika en eNCA voorspel het dat ANC-steun landwyd vanjaar vir die eerste keer ooit onder 50% sal val.

Mashinini het vroeër gister nog sy tevredenheid uitgedruk oor die "sterk" kiesersopkoms teen gisteroggend. Dit nadat 99% van die 23 148 stemlokale betyds oopgemaak het.

Klagtes van kiesers van regoor die land het deur die dag egter ingestroom oor onder meer stembriewe wat opgeraak het en die nuwe elektroniese kieserbestuurtoestelle wat nie behoorlik gewerk het nie en 'n lang gewag en rye veroorsaak het.

Die OVK het ook gehoor van kiesers wat nie kon stem nie omdat hulle nog nie deur die OVK in hul nuwe wyke geregistreer is nie.

Verder is die opening van talle stemlokale gisteroggend landwyd vertraag deur protesoptogte, kragonderbrekings en 'n haelstorm.

Die OVK het die elektroniese kieserbestuurtoestelle ten sterkste verdedig.

Mashinini het bygevoeg dat dit ook nog te vroeg is om te sê of daar "probleme" met die 29 000 kiesersbestuurtoestelle was.

Werner Horn, die DA-verteenwoordiger by die OVK, het gisteraand bevestig dat die party 'n klag oor die toestelle by die OVK ingedien het weens probleme daarmee by "ongeveer 300 stempunte".

Die OVK meen kiesers wat vroeër geregistreer het maar nie op die kieserslys Maandag was nie, wel toegelaat is om te kon stem.

Die OVK het Maandag ook sy "jammerte" uitgespreek oor die arrestasie van Ziniko Mhlaba, 'n joernalis van die televisienuusdiens NewzRoom Afrika, by 'n stemlokaal in Soweto wat na ingryping van die kommissie weer vrygelaat is.

Die voorval word ondersoek.

'n Voorsittende beampte van 'n stemlokaal in eThekwini (Durban) is ook in hegtenis geneem nadat die persoon na bewering gemerkte stembriewe in 'n stembus gestop het.

Nog 'n voorsittende beampte in Taung, Noordwes, is ook by die polisie aangekla wat 'n ver­seëlde stembus daar oopgemaak het.

Intussen voorspel die jongste peiling van Ipsos en eNCA wat Sondag uitgereik is dat die ANC met 'n baie lae kiesersopkoms tot net 43,4% van die steun landwyd kan kry.

Dr. Oscar van Heerden, politieke ontleder en adjunk-visekanselier van die Fort Hare-Universiteit, het saamgestem dat die ANC kan "sneuwel" as die kiesersopkoms baie laag bly.

Volgens hom sal die DA grootliks by 'n lae kiesersopkoms baat vind omdat sy ondersteuners in groot getalle gaan stem het.

"As mense veral nie in die metro's in groot getalle steun nie, sal dit die ANC se beheer van talle metro's negatief raak." - Llewellyn Prince, Sarel van der Walt, Gert van der Westhuizen en Christiaan du Plessis

SPELETJIES VANDAG

CTA