Indien die DA nog van plan is om eendag landwyd te regeer, het hy 'n groot taak wat voorlê om swart kiesers te oortuig dat hy nie 'n rassistiese party is nie.
So het politieke kenners Donderdag gesê oor nuwe navorsing wat wys dat die DA deur byna die helfte van swart mense in Suid-Afrika as die mees rassistiese van die land se drie groot politieke partye beskou word.
Onder dié kiesers word hy selfs as meer rassisties in vergelyking met die EFF beskou.
Volgens die kenners is dit ook geen verrassing nie dat die EFF deur onderskeidelik minderhede as die mees rassistiese party beskou word nie.
Die DA is die mees diverse van die land se grootste politieke partye, terwyl die EFF amper geen wit mense het nie.
— Dr. Theuns Eloff
Die navorsing is in Oktober deur 'n onafhanklike onderneming uitgevoer in opdrag van Netwerk24 en met die samewerking van News24, Rapport en City Press.
In die opname wat telefonies met 1 824 mense gedoen is, is respondente gevra om te sê of die woord "rassisties" die beste by die ANC, die DA of die EFF pas.
Byna die helfte van swart respondente het die woord "rassisties" met die DA vereenselwig.
Wat minderhede betref, meen dié groep egter dat die EFF die mees rassistiese party is. Sowat 57,7% van hulle meen die woord "rassisties" pas die beste by die EFF.
Volgens Victory Research, wat die studie gedoen het, is die foutmarge 2,3%.

Die opname was verteenwoordigend van die Suid-Afrikaanse bevolking in sy geheel omdat daar van sewe aanduiders gebruik gemaak is om mense in te sluit, onder meer op grond van ras, geslag en taal.
Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU), meen die DA is nie per definisie rassisties nie. Omdat dit histories 'n wit party is, word dit egter maklik as 'n rassistiese party beskou.
Volgens Croucamp is die probleem dat die DA deesdae te hard daarop fokus om minderhede te verteenwoordig en om hul belange te bevorder. "Daar is niks rassisties daaromtrent nie, maar sonder swart stemme gaan hy sukkel om meer as 25% van die stemme nasionaal op hom te verenig en 'n nasionale verkiesing te wen."
Dr. Theuns Eloff, voormalige rektor van die NWU, meen die persepsie van swart mense dat die DA meer rassisties as die EFF is, is ongegrond.
Die groot probleem is dat die DA sukkel met die balanseertoertjie om sy tradisionele steunbasis te behou en om terselfdertyd swart steun te lok.
— Prof. Zwelinzima Ndevu
"Die DA is die mees diverse van die land se grootste politieke partye, terwyl die EFF amper geen wit mense het nie. Voorts teiken die EFF gereeld wit mense as Suid-Afrika se grootste politieke probleem."
Hy raai egter die DA aan om te gaan besin oor hoe hulle die persepsie onder swart mense kan verander en om 'n strategie uit te werk om die narratief te verander.
Prof. Zwelinzima Ndevu, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), sê die narratief dat die DA rassisties is, is die afgelope paar jaar onder swart mense versterk deurdat verskeie swart leiers uit die party padgegee het. Dit sluit in Mmusi Maimane, voormalige DA-leier, Herman Mashaba, die party se voormalige burgemeester van die Johannesburg-metro, en Phumzile Van Damme, voormalige DA-LP en -woordvoerder.
Boonop kon die DA se besluit op sy beleidskonferensie in 2020 om na sy "liberale wortels" terug te keer, swart kiesers vervreem en persepsies oor rassisme versterk het.
"Die groot probleem is dat die DA sukkel met die balanseertoertjie om sy tradisionele steunbasis te behou en om terselfdertyd swart steun te lok," sê Ndevu.



















