2021

DA sê amptelik nee vir ANC

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, Sondagmiddag op ’n spesiale vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).Foto: Sarel van der Walt
Pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, Sondagmiddag op ’n spesiale vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).Foto: Sarel van der Walt

Bespiegeling dat die DA en die ANC moontlik in die drie metrorade in Gauteng (Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane) koalisies kan vorm, is Sondag deur die federale raad van die DA in die kiem gesmoor.

Die federale raad het ná 'n vergadering in die DA se hoofkantoor in Bruma, Johannesburg, aangekondig die DA sal nié met die ANC ooreenkomste aangaan nie. Ook nie met die EFF nie.

Die DA sê hy wil nie in dieselfde slagyster beland as die MDC destyds in Zimbabwe toe dié party "bloot die lewe van Zanu-PF in 'n eenheidsregering" verleng het nie.

Jessie Duarte (links), waarnemende sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe (middel), voorsitter van die ANC, en pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, Sondagmiddag op 'n spesiale vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in Irene buite Pretoria. Foto: Sarel van der Walt
Jessie Duarte (links), waarnemende sekretaris-generaal van die ANC, Gwede Mantashe (middel), voorsitter van die ANC, en pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, Sondagmiddag op 'n spesiale vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in Irene buite Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

John Steenhuisen, DA-leier, sê sy party se doel is om die ANC met die volgende algemene verkiesing in 2024 uit die kussings te help lig.

Verlede week se munisipale verkiesings, waarin die ANC sy swakste vertoning sedert 1994 gelewer het, het gewys dit is moontlik.

Op sy beurt het die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) in Irene 'n spesiale vergadering gehou om planne te beraam oor hoe hy met ander partye kan saamwerk om steeds in baie munisipaliteite te regeer waar hy verlede week nie 'n volstrekte meerderheid kon behaal nie.

Die ANC kon net 46,05% van die stemme op hom verenig.

Jessie Duarte (regs) praat Sondagmiddag in Irene met joernaliste. Agter staan Jeff Radebe, beleidshoof van die ANC. Foto: Sarel van der Walt
Jessie Duarte (regs) praat Sondagmiddag in Irene met joernaliste. Agter staan Jeff Radebe, beleidshoof van die ANC. Foto: Sarel van der Walt

Nadat geen party 'n volstrekte meerderheid in sowat 70 munisipaliteite kon behaal nie, moet koalisieregerings gevorm of samewerkingsooreenkomste bereik word om plaaslike regerings te vorm.

Ingevolge wetgewing moet dié rade binne twee weke ná die uitslag van die verkiesings, wat Donderdagaand amptelik bekend gemaak is, saamgestel word.

Die Inkatha-Vryheidsparty, wat 'n stewige vertoning in veral KwaZulu-Natal gelewer het, het Sondag ook aangedui hy sal nie in dié provinsie met die ANC saamwerk nie.

Ons taak is om Suid-Afrika re red.

Jessie Duarte, waarnemende sekretaris-generaal van die ANC, en Jeff Radebe, beleidshoof, het in Irene aan joernaliste gesê die ANC se onderhandelingspan het 'n mandaat gekry om te praat met enige party wat met die ANC in gesprek wil tree.

"Die onderhandelaars het vanmiddag terugvoering aan die NUK gegee oor met wie hulle gepraat het," het Duarte gesê. Geen name is genoem nie.

"Daar is nog geen ooreenkomste bereik nie," het sy gesê.

Die ANC se swak vertoning in die verkiesings is nie bespreek nie. Dit sal op 'n afsonderlike vergadering gedoen word.

Lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee Sondag op 'n spesiale vergadering van dié komitee. Links sit Bheki Cele, minister van polisie.  Foto: Sarel van der Walt
Lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee Sondag op 'n spesiale vergadering van dié komitee. Links sit Bheki Cele, minister van polisie. Foto: Sarel van der Walt

Pres. Cyril Ramaphosa, ANC-leier, sal Maandagmiddag in Soweto die eerste keer as ANC-leier in die openbaar oor die verkiesings praat. Hy praat op 'n byeenkoms waar hy ANC-kiesers en -helpers sal bedank vir hul rol in die verkiesings.

Steenhuisen het ná die vergadering van die DA se federale raad gesê dit is nie die DA se plig om die ANC "te help red nie".

"Ons het onsself verbind tot opposisie-meerderhede en partye wat soos ons dink en ten doel het om die ANC op baie plekke in die land te onttroon," het Steenhuisen gesê.

"Dit is nie die DA se werk om die ANC te red nie. Dit is nie wat ons kiesers wil hê nie en dit is ook nie wat ons missie as 'n party is nie.

"Ons taak is om Suid-Afrika te red."

Die DA sal volgens hom in goeder trou onderhandel met ander partye met wie hy moontlik koalisies kan vorm. Kommunikasiekanale is reeds geopen met verskeie partye oor die land heen, onder meer ActionSA, waarvan Herman Mashaba, vorige DA-burgemeester van Johannesburg, die leier is, die VF Plus en die ACDP.

"Ons het konsep-ooreenkomste voorgelê en wag nou op hul antwoorde."

Gesprekke is ook aan die gang met verskeie kleiner partye.

Dit is nie die DA se werk om die ANC te red nie. Dit is nie wat ons kiesers wil hê nie en dit is ook nie wat ons missie as 'n party is nie.

"Ek glo ons as opposisiepartye kan aan Suid-Afrika wys dat daar lewe ná die ANC is en dat dit wat nou op plaaslike vlak gebeur het, ook 'n realiteit op nasionale en provinsiale vlak kan word.

"As die DA plek-plek nie 'n skikking met ander partye kan bereik nie, is hy meer as bereid om 'n leidende rol as 'n opposisieparty te speel omdat dit ook 'n belangrike rol is om te speel."

Hy glo opposisiepartye kan in die toekoms blokke vorm om saam te werk om dienslewering te bevorder en die ANC te verswak voor die volgende verkiesing.