Die vakverbond Cosatu het met ontsteltenis en teleurstelling kennis geneem van die groot wegblystem in Maandag se plaaslike verkiesings landwyd.
Net 45,24% van die geregistreerde kiesers het by die stempunte opgedaag om hul kruisies te trek. Die ANC erken dit het bygedra tot sy swakste vertoning in 'n verkiesing sedert 1994.
"Dié apatie onder kiesers weerspieël die woede, wantroue en minagting van baie Suid-Afrikaners vir ons ondoeltreffende en oneerlike politieke stelsel," sê Cosatu in 'n verklaring.
"Die meeste van ons politieke partye is oneerlik en sien net om na hul eie belange. Die lae stempersentasie is 'n beskuldiging teen almal van hulle.
"Hulle het geen geloofwaardigheid nie en die Suid-Afrikaanse kiesers is duidelik nie beïndruk met hulle nie."
'n Kenner van plaaslike regering wat verkies om anoniem te bly omdat hy steeds op dié regeringsvlak werk, sê daar is moontlik 'n dieperliggende rede dat mense traag was om vir die verkiesings te registreer óf te gaan stem.
"Onderliggend aan swak dienslewering faal die strukture en die plaaslike regeringstelsel myns insiens ons inwoners.
"Dit is dié gebreke in die stelsel wat hulle elke dag beleef wat meegebring het dat daar apatie is.
"Hulle sien dat die plaaslike regeringstelsel, wat veronderstel is om volhoubare menslike nedersettings te skep wat hul lewensgehalte verbeter, dit nie doen nie," sê die kenner.
"Die strukture en stelsels wat ingestel is, het munisipaliteite geskep wat eerder 'n streek- as 'n plaaslike karakter het. Dít het 'n geografiese afstand geskep tussen die kiesers en dié wat hulle regeer.
Die meeste van ons politieke partye is oneerlik en sien net om na hul eie belange. Die lae stempersentasie is 'n beskuldiging teen almal van hulle.
"Dit het ook 'n fiskale raamwerk geskep wat die meeste munisipaliteite onderbefonds laat. Daarby het dit 'n stelsel van politieke patronaatskap op plaaslike regeringsvlak veroorsaak.
"Dan is daar ook die bykomende las op plaaslike belastingbetalers om raadslede se salarisse te betaal," sê hy.
Voorts faal die stelsel van geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning om doelwitte tussen regeringsvlakke (nasionaal, provinsiaal en plaaslik) werklik te belyn.
"Die stelsel van openbare deelname is oor die algemeen nie doeltreffend nie."
Die kenner sê dit is enkele van die uitdagings.
"As dié kwessies nie doelbewus aandag kry as deel van die hervormingsprogram vir plaaslike regering nie, sal munisipaliteite nié hul ontwikkelings- en diensleweringsmandate kan nakom nie.
"As dit nie gedoen word nie, is die gevolg dat al hoe meer kiesers ontnugter sal word deur die stelsel van plaaslike regering en sy vermoë om aan die behoeftes van die inwoners te voldoen - sowel as met die verskillende politieke rolspelers wat deel van die stelsel is," meen hy.
"Dit is dus nie net die politieke partye wat die mense moeg maak vir plaaslike regering nie, maar ook dit wat hulle in hul woonbuurte sien gebeur."
















