Dis lekker by die see – op stemdag in Durban

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Isabel (76) en Jurgen (78) Schmitt, inwoners van uMhlanga, het Maandag nadat hulle gestem het die res van die dag op die strand deurgebring. Foto: Melinda Stuurman
Isabel (76) en Jurgen (78) Schmitt, inwoners van uMhlanga, het Maandag nadat hulle gestem het die res van die dag op die strand deurgebring. Foto: Melinda Stuurman

Met die sonnige en warm weer wat Maandag in eThekwini geheers het, het mense die openbare vakansiedag ook gebruik om op die strand te baljaar.

Sonskerm, sambrele, swemklere, strandballe, roomys en koelhouers het vir 'n vakansiestemming op strande in en om Durban gesorg.

Van die strandgangers by die uMhlanga-hoofstrand het gesê dat hulle reeds gestem het of nog sou gaan stem. Ander het gesê hulle gaan glad nie stem nie.

"Ons het reeds vroegdag gaan stem. Ons het vir dieselfde party as voorheen gestem. Nou kan ons die vars seelug geniet en die res van ons dag op die strand deurbring," het 'n energieke Isabel (76) en Jurgen (78) Schmitt, inwoners van uMhlanga, aan Netwerk24 gesê.

Chokozani Nzimande het gesê sy gaan die dag saam met geliefdes op die strand deurbring omdat sy nie gaan stem nie. "Die regering beteken niks vir ons nie, en ons beteken niks vir hulle nie. Kyk net wat het gebeur in Phoenix. Waar was hulle toe?" wou sy weet.

Nzimande is 'n inwoner van Phoenix waar 36 mense in Julie vanjaar tydens die onluste dood is. Grootskaalse rassespanning het ook daar geheers.

Nog 'n paartjie van Phoenix het vertel dat hulle die dag by die strand deurbring voordat hulle Maandagaand sou stem. "Ons wag eers dat die rye by die stempunt korter word en dan sal ons gaan stem. Ons geniet die dag hier saam en ons sal aandete by een van die plaaslike restaurante eet voordat ons gaan stem.

"Ons gaan vir dieselfde party stem as voorheen, omdat ons voel hulle staan op vir ons regte.

"Wat in Julie in Phoenix gebeur het, was tragies, maar ons was nie verkeerd nie. Ons word nou gebrandmerk as rassiste en wie weet wag nog alles. So daarom stem ons vir ons party, want hulle staan op vir ons," het die paartjie, wat verkies om anoniem te bly, vertel.

'n OVK-beampte is in eThekwini in hegtenis geneem omdat sy glo stembriewe vervals en in stembusse gegooi het.

20 stemlokale in KwaZulu-Natal het ook nie Maandagoggend betyds oopgemaak nie.

Geen ander ernstige voorvalle by stempunte in KwaZulu-Natal is by die polisie aangemeld nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA