EFF het grootste potensiaal om te groei – opname

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Julius Malema, EFF-leier. Foto: Elizabeth Sejake
Julius Malema, EFF-leier. Foto: Elizabeth Sejake

In vergelyking met die ANC en die DA het die EFF beslis die grootste potensiaal om te groei, hoewel hy sukkel om ondersteuners by die stembus uit te kry.

So het Gareth van Onselen, uitvoerende hoof van Victory Research, Sondag gesê oor die omvangryke navorsing wat sy maatskappy uitgevoer het in opdrag van Media24-publikasies.

In die opname, wat telefonies met 1 824 mense gedoen is, is respondente gevra om op 'n skaal aan te dui hoe hulle oor agt van die land se politieke partye voel, met 100 wat dui op 'n "baie warm, gunstige gevoel" en 0 wat dui op 'n "baie koue, ongunstige gevoel".

Sowat 46,7% van respondente het die ANC in 'n "baie gunstige" of "redelik gunstige" lig beskou, gevolg deur 26,4% vir die DA en 23,2% vir die EFF.

Die EFF verander te veel van standpunt oor kwessies, hy is nie divers genoeg nie, sy interne prosesse is ondemokraties en daar is geen diepte aan sy wykskandidate op voetsoolvlak nie.

—  Dr. Ntsikelelo Breakfast

Volgens Van Onselen dui bogenoemde persentasies op die "poel van potensiaal, oftewel kiesers wat gewillig is om na jou te luister of oop is vir oortuiging".

Hoewel die ANC en DA se "poel van potensiaal" redelik in ooreenstemming is met wat hulle in die verlede in werklike stemme ontvang het, ontvang die EFF baie minder stemme in vergelyking met sy "poel van potensiaal".

Van Onselen sê dit kan enersyds toegeskryf aan die soort kiesers wat die EFF teiken. Hulle sal minder geneig wees om op 1 November te gaan stem.

Volgens die navorsing het 15,3% van die respondente aangedui dat hulle vir die EFF sal stem, hoewel 'n swak kieseropkoms die party sal benadeel. Indien 45% van alle kiesers gaan stem, sal die party slegs 10% van die steun op hom verenig, hoewel hy 14% van die steun op hom sal verenig indien 72,2% van kiesers uitgaan om hul kruisies te trek.

'n Verdere faktor wat deur die navorsing uitgewys word en wat volgens Van Onselen daartoe kan bydra dat die EFF sukkel om steun in stemme om te skakel, is dat die EFF as die gewelddadigste party beskou word.

Respondente voel ook in die algemeen minder geneig om die EFF te vertrou, as die ANC of DA.

Dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder aan die Nelson Mandela-Universiteit, stem saam dat die EFF baie potensiaal het om te groei, maar dat hy om verskeie redes sukkel om dié groei te bewerkstellig.

"Die EFF verander te veel van standpunt oor kwessies, hy is nie divers genoeg nie, sy interne prosesse is ondemokraties en daar is geen diepte aan sy wykskandidate op voetsoolvlak nie," meen Breakfast.

* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

SPELETJIES VANDAG

CTA