Fikile Mbalula, die ANC se verkiesingshoof, het onlangs die lof besing van Mzwandile Masina, burgemeester van Ekurhuleni, deur te sê dié metro is ANC se munisipaliteit wat die beste bestuur word.
Kenners verskil van Mbulala en sê die enigste erkenning wat dalk na Masina se kant gegooi kan word, is dat hy daarin geslaag het om die koalisieregering sedert 2016 in stand te hou.

Masina hou koalisie bymekaar
Die ANC in Ekurhuleni kon nie in 2016 'n volstrekte meerderheid in dié metro behaal nie. Met 48,6% van stemme wat hy om hom verenig het, het die ANC 'n volstrekte meerderheid net-net gemis ná sy steun van 61,6% in die munisipale verkiesing van 2011.
Masina het vroeër al gesê koalisieregerings is 'n onvermydelike realiteit vir die land se politieke toekoms en die ANC en ander partye sal dit moet aanvaar. Anders as die ANC, het DA se steun met 4% gegroei teenoor die vorige munisipale verkiesing.
Levy Ndou, 'n politieke kenner verbonde aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie in Pretoria, sê die ANC sal in sy noppies wees dat die koalisieregering tot dusver glad verloop het.
"Dit is die enigste koalisieregering in Gauteng wat nie 'n gesukkel soos in Tshwane en Johannesburg was nie. Die opposisiepartye sal ook nie gelukkig wees oor die feit dat die koalisie nog nie in duie gestort het nie."
Volgens Ndou verdien Masina 'n klop op die skouer dat hy 'n koalisie met die PA, African Independent Congress (AIC), PAC en die Onafhanklike Belastingbetalersvereniging (Irasa) bestuur het.
"Onder sy leierskap het die koalisieregering sonder haakplekke verloop, anders as by die ander twee metro's in Gauteng."
Ndou sê hoewel Masina die koalisie goed bestuur het, is daar ander goed wat die ANC-kiesers pla.
"Een van die ANC se uitdagings in Ekurhuleni is dat sy ondersteuners ook daar ontevrede is met die kandidatelys."
Toe die ANC-president, Cyril Ramaphosa, op 26 September stemme in wyk 6 in Tembisa gewerf het, het 'n groep ANC-lede betoog teen die party se kandidaat in dié wyk vir die komende verkiesing. Die ontevrede ANC-lede het gesê die kandidaat is nie hul voorkeurkandidaat nie. Dieselfde het 'n paar dae later in Katlehong gebeur waar Ramaphosa die Vooma-inentingsveldtog bekend gestel het.
Ndou stel voor dat die ANC die geskille oplos voor verkiesingsdag.
"Hulle moet met hul kiesers gaan praat en antwoorde gee. Kiesers is geneig om die ANC te straf as die voorkeurkandidate waarvoor die strukture gestem het, nie op die lys is nie. Die ANC sal sy boodskap baie goed aan die inwoners moet oordra as hy wil keer dat hulle op stemdag van die stembus wegbly.
Die DA en die EFF wil die ANC onttroon. Ek verwag dat daar nog 'n gestoei tussen die partye sal wees vir beheer oor die metro. Die DA en die EFF wil ook hier regeer en hulle sal wil voordeel trek uit die foute van die ANC."

Persoonlikhede bo dienslewering
Volgens Roland Henwood, 'n politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, word Ekurhuleni gekenmerk deur swak regering, bestuur en dienslewering.
"Ekurhuleni word ideologies en polities in 'n bepaalde konteks geplaas wat beteken baie van die ander kwessies is nie hoog op die lys van prioriteite nie.
Tot 'n sekere mate is daar 'n omstrede burgemeester wat hom polities in 'n baie spesifieke kategorie posisioneer. Dit gee vir Masina 'n mate van beskerming deurdat mense nie teen hom of oor hom praat nie, maar hy bestuur nie 'n beter administrasie nie. Daar is groot probleme by die metro."
Hy sê die regeringskwessies is nie hoog op die lys van prioriteite nie.
"Dis persoonlikhede, belange en ander goed. Dienslewering in meeste plekke is nie belangrik nie. Daar is ander kwessies wat belangriker weeg soos in watter kamp jy is en wie se belange jy dien. Dit het die norm geword, terwyl dienslewering op baie plekke tot stilstand gekom het.
"Die vraag is hoekom die kiesers aanhou om deel te neem aan 'n proses waar die kwessies wat hul lewens raak, nie die prioriteit is nie."
Refiloe Nt'sekhe, die DA se burgemeesterskandidaat in die metro, stem saam dat dienslewering agteruitgegaan het.
"Ekurhuleni se werkloosheidsyfer van 39% het bygedra daartoe dat misdaad in die gebied vererger.
"Die huidige ANC-beheerde administrasie het min gedoen om 'n omgewing te skep vir die ekonomie om te groei. Onder die ANC is die ekonomie van Ekurhuleni trouens in 'n afwaartse spiraal. Sosio-ekonomiese toestande dra by tot die misdaadstatistieke wat die hoogte ingeskiet het.
"Die metro gaan daagliks gebuk onder kragonderbrekings en sommige buurte is dae lank sonder water. Dit het nie net nadelige gevolge vir inwoners nie, maar ook sakeondernemings."
Tlhogi Moseki, ActionSA se burgemeesterskandidaat in die metro, meen die ANC het die plaaslike ekonomie van Ekurhuleni, wat eens Gauteng se nywerheidskern was, met sy swak bestuur verwurg.
Is die aerotropolis 'n droombeeld?
Die O.R. Tambo-lughawe, die grootste en besigste lughawe in Afrika, is in Ekurhuleni. Daar is verlede jaar besluit om die metro as die eerste aerotropolis ('n metropool met 'n lughawe as die middelpunt vir ontwikkeling) te vestig. Die doel was om beleggings te lok, werk te skep en dienste wat verband hou met die lugvaartbedryf, te stimuleer.
Prof. Erwin Schwella, regeerkundige aan die Hugenote Kollege in Wellington, sê om daarmee te slaag, moet die infrastruktuur - veral dié vir verkeer en paaie - uitnemend wees.
"As die basiese goed reg gedoen word, is dit in elk geval van waarde om die ekonomiese groei en werkskepping te bevorder. As dit sleg gedoen word, is dit nadelig vir ekonomiese groei, dienslewering en stabiliteit. Ongelukkig het die gehalte van dienslewering in die metro verswak. Dit het gekom saam met Masina se bepaalde leierskapstyl.
"Dit is goeie idees, maar as jy nie die basiese goed reg doen nie, help dit nie dat jy droom oor 'n aerotropolis nie."

Groot partye gaan bloei
Schwella meen die groter partye se steun sal 'n bietjie afneem.
"Vir die ANC sal dit wees omdat mense toenemend begryp dat daar 'n ondoeltreffende en onetiese regering is asook swak dienslewering.
"Die DA kan net nie daarin slaag om tot die kiesers deur te dring oor wat die party glo hy is en waarna hy strewe nie. Daar is 'n deurlopende wantroue by kiesers jeens die DA. Is hulle nie maar net daar vir die bevoorregtes - en veral wit mense - nie.
Die party se opposisie buit dié opvatting uit en nou skiet die party homself ook in die voet met sy interne kwessies. Dit is nie altyd regverdig nie, maar is persepsies is persepsies. Die plakkaat-debakel van Phoenix sal ook nie help nie."
Schwella is oortuig daarvan dat dié twee partye tot 'n mate by die stembus gaan bloei.
"Die Vryheidsfront Plus gaan steun by die DA afrokkel, terwyl Herman Mashaba se ActionSA steun by die DA én ANC gaan wegneem omdat kiesers ontevrede is met albei partye."
Henwood meen die ANC sal goed vaar, maar hoe goed is nog onduidelik. "Hulle sal nie met 'n volstrekte meerderheid wen nie."
Hoewel die ANC nog nie 'n burgemeesterskandidaat in die metro bekend gemaak het nie, dink Henwood die party sal vir Masina 'n tweede termyn gee.
"As hulle hom uithaal, sal daar gesê word hulle haal die anti-Ramaphosa-mense uit. Dit is die soort beskerming wat hy geniet. Hy is openlik pro Zuma en daar is 'n hegte band tussen hom en Julius Malema, EFF-leier. Dié verhoudings gee hom aansien wat baie van sy kollegas nie het nie. Dis nie opsigself 'n probleem nie, maar dis 'n probleem dat hy nie vasgevat word vir dit wat hy verkeerd doen nie."
Ndou meen ook dat Ekurhuleni weer 'n koalisieregering sal hê.
"Die EFF en ActionSA sal 'n deurslaggewende rol hier speel. ActionSA sal nie net stemme wegneem van die ANC en DA se kiesersbasis nie, maar ook by dié van die kleiner partye. Die EFF sal weer kiesers by die ANC afrokkel."





















