Drie koalisieregerings, elkeen met sy eie verkose burgemeesters, het 'n onstuimige politieke verhaal van die Nelson Mandelabaai-metro die afgelope vyf jaar vertel. Tog voorspel kenners die kans is goed dat koalisieregerings ná 1 November se plaaslike verkiesings wéér 'n realiteit in dié metro sal wees, met geen politieke party wat 'n volsterkte meerderheid sal behaal nie.
Dié metro, wat onder meer Gqeberha, Despatch, Kariega (Uitenhage) en Colchester insluit, word vanjaar deur 27 politieke partye betwis.
Gedurende die vorige plaaslike verkiesings in 2016 het die DA 46% van die stemme in die metro gekry. Dit was die meeste van al die partye. Die ANC het 40% van die stemme ingepalm, gevolg deur die EFF wat 5% van die kiesers se steun geniet het.
Vyf jaar van politieke wipplankryery
Die DA het sowat 12 000 stemme te min gehad vir 'n volsterkte meerderheid in die vorige plaaslike verkiesing en moes noodgedwonge op kleiner politieke partye se samewerking staatmaak om deur 'n koalisieregering beheer van die stad te neem.
Die DA se Athol Trollip was aanvanklik in 2016 burgemeester, met Mongameli Bobani van die UDM, wat intussen dood is, as sy adjunkburgemeester, nadat die partye saam met die ACDP en Cope 'n koalisieregering gevorm het.
Trollip is egter twee jaar later uit die kussings gelig nadat van die koalisievennote onttrek en kleiner partye as koningmakers opgetree het in besluitnemings in die metroraad. Bobani het toe die burgemeesterstoel oorgeneem, maar hy is 'n jaar later en ná vier probeerslae deur 'n wantrouemosie uit die amp gestem.
Daarna het verskeie pogings op raadsvergaderings misluk om 'n nuwe burgemeester te kies en die metro was net langer as 'n jaar sonder 'n amptelike burgemeester. Nadat die hooggeregshof genader is, het die meeste raadslede oplaas in Januarie vanjaar vir Nqaba Bhanga van die DA tot burgemeester verkies. Die DA, Cope, ACDP, UF en AIC het opnuut 'n koalisieregering gevorm.
Wat kan wag ná 1 November
Ongama Mtimka, 'n politieke ontleder, dosent en navorser verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) in Gqeberha, meen die kans is uiters goed dat 'n koalisieregering weer op die metro wag.
Enkele faktore, onder meer 'n massiewe afname in kieseropkoms, meen Mtimka kan wel moontlik daartoe lei dat 'n party soos die DA 'n volsterkte meerderheid kan kry.
Hy sê die vorige nasionale verkiesing in 2019 kan ook 'n goeie aanduiding wees van wat die komende plaaslike verkiesings kan inhou vir die metro.
Dit sal interessant wees om die Khusta Jack-faktor dop te hou - as iemand wat 'n betroubare sakeman is, 'n voormalige vryheidsvegter en sterk teen korrupsie gekant is - en hoeveel kiesers hy lok, asook die invloed daarvan op die DA en ANC.
"Die afname van steun wat die DA gedurende die 2019 (nasionale) verkiesing in die metro gesien het, was byna dieselfde hoeveelheid steun wat hulle in die 2016 (plaaslike) verkiesing bo die ANC gehad het.
"Dít skets 'n prentjie van 'n besluitlose kieserskorps, wat nie kwaad genoeg is vir die ANC nie, maar ook nie té opgewonde oor die DA nie. Inteendeel, as die 2019-verkiesing in ag geneem word, blyk dit die kiesers hier het hul steun aan die DA teruggetrek."
Hy verwag dat nie die ANC of die DA enige beduidende afname sal sien in die koers waarteen hulle tans steun verloor nie.
Kleiner partye sal volgens Mtimka weer 'n groot rol speel in koalisieregerings, wat hul partye heelwat meer mag gee as wat dit op papier kan lyk.
Na sy mening is die Abantu Integrity Movement (AIM), met die sakeman Khusta Jack as leier, een van die nuwe partye wat dopgehou kan word, aangesien dit nie ongewoon is vir kiesers om 'n party te ondersteun bloot vanweë 'n enkele leier nie.
"Dit sal interessant wees om die Khusta Jack-faktor dop te hou - as iemand wat 'n betroubare sakeman is, 'n voormalige vryheidsvegter en sterk teen korrupsie gekant is - en hoeveel kiesers hy lok, asook die invloed daarvan op die DA en ANC."
Na sy mening wys die plaaslike kiesers toenemend hulle is bereid om nuwe rolspelers 'n kans te gee met die hoop op verandering en een van die redes hoekom die groot politieke partye steun verloor.

Leer uit die verlede
Trollip, wat deesdae as konsultant tussen die privaat en openbare sektor werk, meen dit is onwaarskynlik dat die metro 'n party met 'n volsterkte meerderheid sal sien en dat verdere chaos kan voorkom, mits die lesse wat die afgelope vyf jaar van koalisieregerings geleer is, nie oor die komende termyn toegepas word nie.
Volgens hom is dit belangrik dat politieke partye wat dieselfde waardes en ideologie deel, 'n koalisie vorm, terwyl die ooreenkoms tussen die partye ook op plaaslike vlak, eerder as nasionale vlak, beklink word.
Hy het ook kiesers daaraan herinner dat hul stem 'n kragtige wapen teen onbevoegde regerings is en strategies gebruik moet word. "Dit is uiters belangrik vir kiesers om in 'n plaaslike verkiesing met hul kop te stem, eerder as hul harte. Doen 'n evaluering en besluit wie aan jou belange sal kan voldoen."
Van die burgemeesterskandidate in die metro praat oor hul planne vir die metro en sê hoe hulle die dreigende waterkrisis in die metro sal hanteer:

Nqaba Bhanga, huidige burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro en ook die Demokratiese Alliansie (DA) se burgemeesterskandidaat vir die komende verkiesings:
Die party se visie is eenvoudig, "ons het 'n metro nodig wat werk sodat ons mense weer aan die werk kan kry. Ons moet die metro terugbring na sy regmatige plek as die sakekern van die provinsie, deur basiese dienste van gehalte aan die inwoners te verskaf en vertroue in die administrasie te herstel. Die metro moet 'n omgewing vir ekonomiese groei bied, waar sakelui kan floreer en sodoende werksgeleenthede vir ons inwoners skep."
Wat die waterprobleem betref, beoog Bhanga om die metro se besteding aan instandhouding en bestaande waterinfrastruktuur te verhoog, met die hoop om waterverliese te snoei. " 'n Nuwe water-meesterplan moet opgestel word wat fokus op hoe die aanvraag verlaag kan word, terwyl toevoer verhoog word. Ander waterbronne moet geïdentifiseer word, soos volhoubare grondwater en bekostigbare ontsoutingsaanlegte. Daar moet ook verseker word dat alle nuwe bouplanne vir behuising en kommersiële ontwikkeling goedgekeur word met die vereiste van 'n minimum waterstoorkapasiteit wat aangebou word."

Luxolo Namette, tans adjunkburgemeester in die Nelson Mandelabaai-metro en die United Democratic Movement (UDM) se burgemeesterskandidaat:
Omdat hy meen daar is 'n aantal dringende kwessies in die metro wat spesiale aandag verg en hy as een burgemeester nie alleen die sake kan bestuur nie, sal hy in sy burgemeesterskantoor jeugkoördineerders en burgemeesterskoördineerders aanstel. Elkeen sal 'n spesifieke mandaat gegee word vir elkeen van die kwessies, sodat hulle noukeurig bestuur word.
"Dít sal help om amptenare tot verantwoording te roep, aangesien ek nie op alle gebiede of direktorate tegelyk kan wees nie."
Die metro se waterprobleme kan volgens Namette beter bestuur word deur vennootskappe tussen private en openbare sektore, wat hy meen sal help met die uitdagings van die infrastruktuur.
"Ons het 'n vervalle infrastruktuur geërf wat dringend aandag benodig. Aangesien die staatskas opdroog en nie sulke duur infrastruktuur(projekte) kan ondersteun nie, kan dié vennootskappe ons help om die proses te bespoedig en die min water wat ons het bespaar, asook Dag Zero verder uitstel.
"Ons mense moet ook eienaarskap neem van die hulpbronne en dit bewaar. Daarom is 'n voortgesette opvoedkundige bewusmakingsveldtog nodig."

Lance Grootboom, die African Christian Democratic Party (ACDP) se burgemeesterskandidaat:
Die party se hooffokus is op die herbou van die metro.
"Ons sal fokus op die herbou van die ekonomie, vervalle geboue, beter dienslewering, beter samewerking met die sakegemeenskap en om huise van gehalte vir armes te bou," sê Grootboom.
Hy sê die party het in die laaste verkiesing slegs een setel in die metro gehad, maar hulle het bygedra tot die ontwikkeling van byna 80 speelparkies, 'n prys vir omgewingsgesondheid en groot skoonmaakveldtogte oor die stad gelei.
Sy planne vir die dreigende waterkrisis behels onder meer om sakelui in te trek vir die aanbring van 'n ontsoutingsaanleg in Schoenmakerskop en om meer loodgieters aan te stel. "Die stad het tans 38 loodgieters. Ons sal dit tot 120 loodgieters opstoot, sodat elke wyk sy eie loodgieter het en boonop sal ons self gaan soek na waterlekke."

Bill Harington, die Vryheidsfront Plus (VF Plus) se burgemeesterskandidaat:
Hy sê die doel van die VF Plus in die metro is om genoeg steun van inwoners te verkry en om kiesers wat voorheen nie gestem het nie, te oorreed om die DA te dwing om 'n koalisie met die VF Plus te sluit om juis minderheidsgroepe te verteenwoordig en hul regte te beskerm.
"My visie en strewe sal wees om dienslewering van gehalte in die metro terug te bring deur korrupsie en wanadministrasie stop te sit en te sorg dat elkeen in die metro verantwoordbaar gehou sal word om dan juis dienste van gehalte te lewer aan die inwoners.
"Gelyke kanse sal en moet die orde van die dag wees in teenstelling met die ANC en ander partye se swart ekonomiese bemagtigingsbeleid en werkswyses."
Hy skryf die metro se waterprobleme toe aan wanbestuur en swak beplanning.
"Ons moet sorg dat genoeg water van die binneland na ons opgaardamme gelei word. Die herstel van waterlekke moet 'n deurlopende prioriteit wees. Die VF Plus ondersteun die huidige inisiatief om ondergrondse water na damme te lei vir suiwering. Ander waterbronne soos volhoubare onttrekking van grondwater en bekostigbare ontsoutingsaanlegte, moet geïdentifiseer word."

Khusta Jack, sakeman en voormalige vryheidsvegter, is leier van die nuwe Abantu Integrity Movement (AIM)-party in die Nelson Mandelabaai-metro:
Jack sê AIM, wat bestaan uit besorgde inwoners wat wanadministrasie wil staak en dienslewering verbeter, is gereed om sy tienpuntplan van aksie te implementeer om die metro te red van wanadministrasie en die afbreek van infrastruktuur, wat hy meen oor die afgelope vyf jaar onder die huidige administrasie gebeur het.
"Ons metro is 'n massiewe nywerheidskern en het die grootste ekonomie in die Oos-Kaap. Ons is die enigste stad in die land met twee hawens - in Ngqura en Gqeberha."
Hy sê dit is skokkend dat die huidige administrasie oënskynlik nie besef dat sakegroei een van die belangrikste pilare is wat sosio-ekonomiese ontwikkeling ondersteun nie.
"Geen belegger sal hul geld in 'n disfunksionele metropool inploeg nie. Daarom sal die AIM 'n hoë vlak van betrokkenheid met die sakegemeenskap en voornemende beleggers vooropstel en ons tienpuntplan van aksie met hulle deel oor hoe munisipale dienste tot aanvaarbare vlakke herstel kan word en infrastruktuurontwikkeling kan verbeter."
Volgens Jack is AIM se strategie vir beter waterbestuur drieledig. Programme vir bewusmaking moet versterk word, terwyl die beskikbare bronne beter beskerm moet word deur waterlekke te herstel. Nuwe waterbronne moet voortdurend ontwikkel word.

Isaac Adams, burgemeesterskandidaat vir die nuwe United Independent Movement (UIM)-party:
Die UIM is 'n nuwe nasionale party met die Stellenbosse sakeman Neil de Beer as hul president.
Adams, 'n voormalige DA-raadslid in die metro, sê dienslewering aan die gemeenskap is een van die grootste uitdagings wat die metro ervaar, veral in die noordelike voorstede en in townships.
"Ek sal voorstel dat 'n ombudsman en 'n span saam by die (dienslewering)inbelsentrum werk sodat die honderde klagtes soos waterlekke, dreine wat oorspoel, slaggate, straatligte wat buite werking is en enige ander probleme binne 'n tydperk van 72 uur opgelos word."
Hy erken oplossings vir sommige probleme sal langer neem, maar inwoners sal dit aanvaar as daar deurlopend terugvoering gebied word.
" 'n Behoorlike beheerstelsel wat vir die inbelsentrum ontwerp word, sal sake verbeter. Wanneer die oproep ontvang word, moet dit direk by die betrokke direktoraat aangemeld word. Die operateur van die inbelsentrum of die sekretaris van die verantwoordelike departement moet die besonderhede van die klaer neem en direk terugvoering aan die inwoner bied."
Adams sê die beste roete vir die metro se waterprobleme is om raad en insae van ervare amptenare, asook betrokke rolspelers in te win en daarvolgens 'n plan van aksie saam te stel.
"Uit my ervaring is daar in die meeste gevalle nie behoorlike beplanning gedoen nie, en daarom sit ons steeds met die Nooitgedacht-debakel, waar die voltooiingsdatums van jaar tot jaar verander word. Dit sal nooit gebeur in die korporatiewe wêreld nie, want daar is geen plek vir luiaards nie."
• Die Nooitgedacht-waterskema verskaf tans 160 megaliter water per dag aan die metro uit die Gariepdam in die Vrystaat. Die kwota sou vroeër vanjaar tot 210 megaliter styg nadat die finale konstruksiefase voltooi word, maar het tot nou nog nie gerealiseer nie.
• Die ANC en EFF het nie gereageer nie.















