Verkiesing 2021

Johannesburg: Groot uitdaging met baie slaggate

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Politieke partye se verkiesingsplakkate hang reeds in Johannesburg.  Foto: Melinda Stuurman
Politieke partye se verkiesingsplakkate hang reeds in Johannesburg. Foto: Melinda Stuurman

Hoewel Johannesburg die finansiële hoofstad van Suid-Afrika is, gaan die stad gebuk onder geweldige diensleweringsprobleme.

Infrastruktuur het ook verswak in dié metrogebied, sê Roland Henwood, 'n politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria.

Hy sê Johannesburg is 'n geweldige uitdaging.

"Die feit dat die metro 'n tyd lank nie 'n meerderheids- en stabiele regering gehad het nie, speel beslis 'n rol.

"Daar is nog baie vrae oor Johannesburg wat nie beantwoord is nie. Vrae oor die gebeure in die vorige administrasie, die rol van die EFF en hoeveel dit bygedra het tot die agteruitgang van die gehalte van die burokrasie en dienslewering, is nog onbeantwoord. Dis 'n baie groot en uiteenlopende metro. Dit is ook 'n moeilike plek om alles bymekaar te hou vergeleke met Tshwane."

Herman Mashaba, ActionSA se leier en burgemeesterskandidaat vir Johannesburg. Foto: Deaan Vivier
Herman Mashaba, ActionSA se leier en burgemeesterskandidaat vir Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Volgens emeritus professor Pieter Labuschagne, 'n politieke kenner van Unisa, is die brandpunte in Johannesburg 'n gebrek aan water en elektrisiteitsverskaffing.

"Johannesburg het erger as Tshwane deurgeloop met hierdie munisipale kwessies die afgelope paar maande. Die munisipaliteit kan net nie bybly om krag te verskaf nie en dan is daar die massiewe probleem dat sommige inwoners nie vir krag betaal nie sowel as onwettige aansluitings. Dit lei weer tot 'n klomp ander goed."

Levy Ndou, 'n politieke kenner verbonde aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie in Pretoria, voeg by ander probleme waaronder die ekonomiese hartland van Suid-Afrika gebuk gaan, is slaggate en werkloosheid.

"Die voortslepende kragkwessie in Soweto kan ook die ANC stemme kos."

Tydens pres. Cyril Ramaphosa se besoek in September aan Soweto het inwoners gedreig dat hulle van die stembus sal wegbly as die probleem nie opgelos word nie. Van die inwoners is al maande lank sonder krag. Soweto skuld Eskom ook meer as R7 miljard in agterstallige skuld.

Ndou sê die elektrisiteitsprobleme in veral Soweto is 'n krisis.

"Instandhouding kry nie genoeg aandag nie. Daar is planne dat die metro die kragverskaffing by Eskom sal oorneem. Maar dit gaan nie oornag gebeur nie. Daar moet 'n strategie wees oor hoe die party die probleem gaan oplos, want dit is moeilik om inwoners van Johannesburg tevrede te stel. Hulle wil altyd hê meer moet gebeur.

"Dit gaan ook oor die vermoë om met die inwoners te kan praat. As die party nie sy beloftes kan nakom nie, moet hy inwoners in sy vertroue neem sodat hulle kan weet wat die uitdagings is en wanneer daar oplossings sal wees."

Mpho Moerane, burgemeester van Johannesburg. Foto: Luba Lesolle
Mpho Moerane, burgemeester van Johannesburg. Foto: Luba Lesolle

Mashaba se tweede asem

Volgens Herman Mashaba, ActionSA se leier en burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, het hy nog onafgehandelde sake in die metro. Hy was drie jaar die DA-burgemeester voordat hy in 2019 uit die party bedank het.

Ndou is onseker oor hoe groot Mashaba se impak sal wees.

"Ons het nog nie 'n situasie in Suid-Afrika gehad waar 'n nuwe party, wat aan sy eerste verkiesing deelneem, 'n munisipaliteit, provinsie of die nasionale regering bestuur nie. Ons moet wag op die uitslae om te sien hoeveel steun Mashaba geniet.

"Onthou, daar is ook nog mense wat ontevrede was met Mashaba omdat hy die DA verlaat het. Daarteenoor is daar ook Johannesburgers wat tevrede was met Mashaba se tydperk as burgemeester en sy visie om Johannesburg reg te ruk.

"Hy is vasbeslote om Johannesburg reg te ruk, maar of die inwoners hom gaan vertrou en hom die mandaat gaan gee, is nog onduidelik."

Henwood meen wat in Mashaba se guns tel, is dat hy as persoon bekend is.

"Maar ek weet nie of hy dit gaan maak in terme van kompetisie met die ANC en die DA nie."

Dr. Mpho Phalatse, die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg. Foto: Lucky Morajane
Dr. Mpho Phalatse, die DA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg. Foto: Lucky Morajane

Vier burgemeesters sedert 2016

In die vorige plaaslike verkiesings kon geeneen van die partye 'n volstrekte meerderheid op hom verenig nie. Mashaba, wat toe nog die DA se burgemeesterskandidaat was, het saam met die EFF en ander kleiner partye 'n koalisie gevorm. Uit die 270 setels van die metro het die ANC 121, die DA 104 en die EFF 25 op hulle verenig. Die res is deur die kleiner partye opgeraap.

Mashaba het einde 2019 sy goed gepak omdat hy gefrustreerd was met die DA se nasionale leierskap en die rigting van die party. Die ANC het in Desember 2019 die bestuur by die party oorgeneem en sedert Julie het Johannesburg drie ANC-burgemeesters gehad.

Geoff Makhubo is in Julie vanjaar aan Covid-19 dood. Sy opvolger, Jolidee Matongo, is op 18 September in 'n motorongeluk dood. Mpho Moerane het Matongo op 1 Oktober opgevolg.

Volgens Labuschagne het die dood van die vorige twee burgemeesters bygedra tot die onstabiliteit.

Ndou sê enige party sal in beheer wil wees van die finansiële hoofstad, want alles gebeur in Johannesburg.

"Die party wat Johannesburg regeer, het 'n groter aansien as dié wat ander metro's en munisipaliteite beheer. Johannesburg het 'n verskeidenheid van leierskap gehad. Die DA se verhouding met die EFF het goed gelyk toe Mashaba nog die burgemeester was. Toe hy uit die DA bedank, het die verhouding versuur. Die ANC het daarna oorgeneem. Dis 'n teken dat jy nie kan staatmaak op 'n koalisie nie, omdat dit enige tyd kan vou afhangende van die rolspelers."

Henwood voeg by daar was baie leierskapprobleme en binnegevegte.

"Die situasie met die dood van die burgemeesters kort ná mekaar het ook 'n impak op dienslewering gehad."

Henwood meen Johannesburg het regte leierskap nodig.

"Die metro benodig iemand wat moet vasvat en voorloop en prioriteite bepaal."

Henwood dink ook nie die regte amptenary is in die belangrike poste nie.

"Geen politieke leier kan iets regruk sonder die regte korps van amptenare nie."

Geen volstrekte meerderheid

Henwood reken dit is onwaarskynlik dat die ANC 'n volstrekte meerderheid op hom sal verenig.

Labuschagne weet nie hoe stabiel 'n koalisieregering ná die verkiesing gaan wees nie.

"Wanneer 'n party koalisies aangaan, bring dit onsekerheid en onstabiliteit. Dan word daar tougetrek en dit gaan meer oor persoonlikhede en binnegevegte in die party eerder as om dienste aan die mense te lewer."

Hy sê daar sal net stabiliteit wees as 'n party meer as 50% van die stemme op hom verenig.

"Dis dalk tyd dat 'n opposisieparty meer as 50% steun kry sodat hulle nie weer in 'n verbrokkelde koalisie vasgevang word soos wat ons die afgelope paar jare ervaar het nie."

Ndou is onseker oor die DA se mag in die metropool.

"Hulle het 'n paar wyke in die laaste paar tussenverkiesings afgestaan veral teen die Patriotic Alliance in Eldoradopark. Hulle het ook nie by die twee vorige burgemeestersverkiesings ná die dood van Makhubo en Matongo kandidate voorgestel nie. Hulle het moed opgegee, want hulle het geweet hulle het nie die getalle nie. Dit lyk of hul steun weggekwyn het, maar dinge kan nog gebeur wat dit kan laat omswaai."

Burgemeesterskandidate

Die DA se dr.Mpho Phalatse het voorheen as burgemeesterskomiteelid vir gesondheid en maatskaplike ontwikkeling in die Johannesburg-metro gedien. Sy is 'n dokter. Sy het 15 jaar ervaring in die staatsdiens. Phalatse het beloof dat sy R20 miljard in die herstel, vervanging en opknapping van paaie, brûe, waterpype en kragnetwerke sal belê.

Hoewel die ANC nog nie 'n burgemeesterskandidaat bekend gemaak het nie, het Mpho Moerane, nuutverkose burgemeester, 'n goeie kans om ná 1 November steeds in die amp te dien. Sedert Moerane aan die bewind is, probeer hy 'n ooreenkoms met Eskom bereik dat die metropool die kragverskaffing aan gebiede in Sandton en Soweto oorneem wat tans regstreeks deur Eskom verskaf word.

Herman Mashaba, van ActionSA, is 'n voormalige burgemeester van Johannesburg. Mashaba is van mening dat hy 'n bietjie meer ervaring het. Sy termyn as burgemeester het ook sy oë laat oopgaan vir die disfunksionele toestand van die metro. Mashaba wil van kaderontplooiing ontslae raak en korrupsie pak.

Die EFF gaan eers ná die verkiesings sy kandidaat bekend maak.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM