ActionSA gaan beslis een van die koningmakers wees in die koalisiegesprekke in Johannesburg. Dié nuwe politieke party, onder leiding van Herman Mashaba, het veral in Gauteng vir groot opwinding gesorg in die plaaslike verkiesings.
Die party moet egter daarteen waak om in 'n sekere identiteit vas te val.
So het prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, Donderdagoggend in gesprek met Gert van der Westhuizen, Stemme-redakteur van Netwerk24, en Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, gesê.
Hy het voorbehoude gehad oor ActionSA omdat dié party hom gedefinieer het as 'n nisparty deur net aan drie verkiesings in Gauteng en drie in KwaZulu-Natal deel te neem.
"Dit beteken as jy kyk na die uitslagbord en hulle vergelyk met ander partye, is dit 'n ongelyke vergelyking. Pleks van nege provinsies is dit nou net twee, terwyl hulle eintlik gesien word as deel van die toekoms op nasionale vlak."
Die wyse waarop Mashaba homself voorstel, blyk groter as die party self te wees, meen Kotzé.
"Een van die groot probleme met klein partye is dat dit rondom leiers gebou word. Vat die IVP. Dit was absoluut gebou rondom Mangosuthu Buthelezi. Die UDM is gebou rondom Bantu Holomisa, die NFP was rondom hul leier gebou wat nou onlangs dood is. In 'n sekere mate is dit dieselfde vir die ANC dat hulle nie genoeg van 'n tweede of 'n derde generasie opbou wat outomaties kan opvolgers wees van partye nie. Wat bly oor as Herman Mashaba nie meer deel van ActionSA is nie?
"Wat ons nou sien met die uitslae, is dat die fokus uiteindelik primêr op Johannesburg is ondanks die feit dat hulle ook in Tshwane 'n goeie teenwoordigheid het. In eThekwini, waar Makhosi Khoza veronderstel is om 'n nasionale figuur te wees en waar sy haar eie magsbasis kon ontwikkel, het dit nie op dieselfde vlak plaasgevind as in Johannesburg nie.

"Die fokus is op Johannesburg en daarvoor moet hulle krediet kry. Hulle is beslis in 'n sentrale posisie geplaas in Johannesburg as dit gaan kom by koalisievorming. Hulle gaan een van die koningmakers wees. Dit is vir seker die geval, maar ek wonder oor 2024. Waar gaan ActionSA wees? Is hulle 'n plaaslikeregeringsparty of 'n party vir die groter politieke toneel van die toekoms?"
Benewens die feit dat Suid-Afrika se opposisiepartye dikwels rondom hul leiers gekonsentreer is, is nog 'n probleem dat hulle baie op sekere provinsies konsentreer.
"Die IVP en NFP is 90% in KwaZulu-Natal, UDM in die Oos-Kaap en Good in die Wes-Kaap en Noord-Kaap. Hulle het geen nasionale basis nie. Selfs die DA is primêr Wes-Kaap, Gauteng en nou KwaZulu-Natal. 70% van hul steun kom uit daardie drie provinsies. Gaan dit dieselfde wees met ActionSA? Gaan dit primêr 'n party vir Gauteng wees? As dit die geval is, is die groeipotensiaal beperk. As hulle 'n identiteit begin ontwikkel as 'n party in Gauteng, skakel Kaapstad, Limpopo en die Noord-Kaap af."
Volgens Kotzé kan 'n party vasval in 'n sekere identiteit en manier van doen wat moeilik gaan wees om te verander. "Wat hulle nodig het, is 'n klomp Makhosi Khozas, mense wat sterk is en wat met die jong mense van die IVP kan meeding."












