Koalisie-onderhandelings tussen ActionSA en die EFF het in duie gestort nadat ActionSA Saterdag amptelik besluit het om 'n EFF-voorstel vir Gauteng van die hand te wys.
Herman Mashaba, leier van ActionSA, het in 'n onderhoud met die SAUK gesê dié voorstel is van die hand gewys omdat dit glo ook samewerking met die ANC sou behels.
"Kiesers het aan ons 'n mandaat gegee om die ANC te ontsetel en ons sal onder geen omstandighede met die ANC saamwerk nie," het Mashaba gesê.
Die party het die oggend in 'n verklaring aangekondig dat ActionSA se senaat, sy hoogste besluitnemingsliggaam, Vrydagaand besluit het om die voorstel af te keur.
Mashaba beweer die EFF wou ingevolge die voorstel gehad het die EFF moet in Tshwane, die ANC in Ekurhuleni en ActionSA in Johannesburg aan die stuur van sake staan.
Politieke partye sal probeer om teen volgende week koalisie-ooreenkomste te beklink voordat raadsvergaderings volgens wet teen Donderdag moet plaasvind - 14 dae nadat die verkiesingsuitslae aangekondig is.
Kiesers het aan ons 'n mandaat gegee om die ANC te ontsetel en ons sal onder geen omstandighede met die ANC saamwerk nie.
Hoewel die Cederberg Eerste Gemeenskapsorganisasie, die DA en die VF Plus reeds 'n koalisie-ooreenkoms vir die Cederberg-munisipaliteit bekend gemaak het, is daar nog geen koalisies beklink vir die ander 66 rade waar geen party 'n volstrekte meerderheid het nie.
Mashaba sê in die verklaring hy het reeds aan die EFF 'n skrywe gerig om te verduidelik hoekom hy nie die koalisie-voorstel aanvaar nie.
"ActionSA werk onverpoosd voort met ander politieke partye om koalisie-reëlings te tref wat die inwoners voorop stel. Ons doen 'n beroep op eensgesinde partye om vinnig en beslis op te tree om die behoeftes van Suid-Afrikaners te weerspieël deur die ANC van mag te ontneem," lui die verklaring.











