Herman Mashaba, leier van ActionSA, het Dinsdag op 'n mediakonferensie ontken een van sy party se voorwaardes vir 'n koalisie in Johannesburg is dat hy burgemeester moet word.
Dié voormalige DA-burgemeester van Johannesburg sê hoewel hy sy party se burgemeesterskandidaat was, is dit nie een van ActionSA se voorwaardes dat hy die burgemeester moet word nie.
"Ons is hier om te dien en nie om poste te beklee nie."
Mashaba sê sy party het van die begin af gesê hy wil nie 'n opposisieparty wees nie. Die werklikheid is egter dat hy in Johannesburg slegs 16% van die stemme gekry het, wat nie genoeg is om 'n regering te vorm nie.
Geen party in die Johannesburg-metroraad kon 'n volstrekte meerderheid behaal nie en 'n koalisieregering is nou dié stad se voorland.
"As ons nie deel van 'n koalisieregering is nie, sal ons deel van die opposisie wees en ons in dié tyd voorberei op die volgende algemene verkiesing in 2024 om die ANC te onttroon."

Mashaba het gesê 'n koalisie sal nie suksesvol wees as partye dit met arrogansie benader nie.
Michael Beaumont, voorsitter van die party, het op die mediakonferensie gesê 91% van die 17 500 Suid-Afrikaners wat aan ActionSA se meningspeiling oor koalisies deelgeneem het, het aangedui hulle wil hê dat dié party op plaaslike vlak waar hulle verlede week aan die plaaslike verkiesings deelgeneem het, deel van die regering moet wees.
ActionSA het dit opnuut duidelik gemaak dat hy nié met die ANC in gesprek sal tree nie.
John Moodey, een van ActionSA se onderhandelaars oor moontlike koalisievorming, het gesê die party het wel al verkennende gesprekke met die EFF, die DA en ACDP gevoer. Dinsdag sal ook met die IVP en Cope gesprek gevoer word.
Moodey sê ActionSA was nie beïndruk met die EFF se voorstelle nie, maar is nog besig om die voorlegging te bestudeer wat dié party sedertdien aan ActionSA gestuur het. Beaumont sê die stabiliteit van plaaslike regerings en dienslewering is nou 'n prioriteit.
• Hou Netwerk24 dop vir meer hieroor.











