Talle minderheidsregerings, wat in die algemeen baie onstabiel is, sal binnekort op plaaslike regeringsvlak in Suid-Afrika regeer.
So sê emeritus professor Susan Booysen, 'n kenner van koalisieregerings wat aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Mapungubwe-instituut verbonde is.
Ná verlede week se plaaslike verkiesings kon geen party in die 70 munisipaliteite landwyd - insluitende die Johannesburg-, Nelson Mandelabaai-, Ekurhuleni-, Tshwane- en eThekwini- metroraad - 'n volstrekte meerderheid (50% plus een) behaal nie.
Die gevolg is dat koalisieregerings gevorm moet word - of ooreenkomste moet bereik word - om dié munisipaliteite te bestuur.
Omdat van die partye weier om met mekaar saam te werk, kan dit beteken dat minderheidsregerings uiteindelik baie munisipaliteite se voorland is.
'n Minderheidsregering is wanneer 'n groep partye saam nie 'n volstrekte meerderheid kan behaal nie.
Booysen sê omdat minderheidsregerings nie baie stabiel is nie, hang 'n swaard deurlopend oor hulle.
Dit is makliker om mosies van wantroue teen sulke minderheidsregerings te aanvaar.
Ek het getel in Johannesburg is daar tien partye wat net 'n enkele setel in die metroraad het, en in eThekwini 14, plus vyf partye wat elk twee setels het.
Namate herskikkings op politieke vlak gebeur, kan die situasie binne sulke koalisies van week tot week verander.
Dit kan byvoorbeeld gebeur dat 'n party wat deel is van die koalisie, hom onttrek as 'n ander party buite die koalisie hom die burgemeesterskap aanbied om 'n koalisie saam met hom te vorm.
"Dit beteken minderheidskoalisies is nie soliede, stewige en versekerde koalisies nie - selfs al is hulle deur 'n koalisie-ooreenkoms gebind," verduidelik Booysen.
Partye hoef nie altyd in koalisie met mekaar te wees nie. Daar kan ook samewerkingsooreenkomste wees - soos wat die DA ná die vorige plaaslike verkiesings in 2016 met die EFF gesluit het.
Dit beteken dat hulle byvoorbeeld sal saamwerk om begrotings goed te keur en burgemeesters aan te wys.
Dit is omdat 'n blote meerderheidsbesluit nie genoeg is om dit te doen nie, maar slegs 'n volstrekte meerderheid.
In die praktyk beteken dit dié partye wat buite die koalisie is - maar 'n samewerkingsooreenkoms met die koalisie het - kan deur onderhandelinge tot voordeel van hul kiesers beding.
"Die probleem is dat die ooreenkomste wat ons ná 2016 gesien het, baie onstabiel was," sê Booysen.
"Die ideaal sal 'n meerderheidsregering wees wat deur 'n weldeurdagte verkiesingsooreenkoms ondersteun word."
Booysen sê dit is baie moeilik om te voorspel hoe die koalisies in byvoorbeeld Johannesburg en eThekwini saamgestel sal word omdat daar baie moontlike permutasies is.
"Ek het getel in Johannesburg is daar tien partye wat net 'n enkele setel in die metroraad het, en in eThekwini 14, plus vyf partye wat elk twee setels het.
"As die ANC en die EFF sou saamwerk, het hulle saam 120 setels, maar hulle kort 136 vir 'n volstrekte meerderheid.
"Dit lyk vir my of die ANC 'n baie naelskraapse meerderheid in Johannesburg sal hê, maar dit sal baie harde werk verg om só 'n koalisie bymekaar te hou."










