Johannesburgers wat in Maandag se plaaslike verkiesing in dié stad hul kruisies agter ActionSA trek, kan net sowel vir die EFF stem.
Só sê Thomas Walters, federale adjunkvoorsitter van die DA.
Die DA en ActionSA, wat gelei word deur Herman Mashaba, 'n voormalige DA-burgemeester van Johannesburg, sal na verwagting saam met die ANC en die EFF 'n groot invloed op die uitslag van die verkiesing in dié metro hê.
Walter sê die DA het dit reeds baie duidelik gemaak hy sal nié in koalisie met die EFF gaan nie.
"Ons is fundamenteel twee totaal verskillende partye wat in die teenoorgestelde rigtings trek."
Mashaba, wat deur baie in die DA gekritiseer is oor sy noue samewerking met die EFF toe hy nog burgemeester was, het reeds gesê hy is bereid om op plaaslike regeringsvlak in koalisie met die EFF te gaan omdat dienslewering op dié vlak belangriker is as politiek en beleid.
Hy sal dit egter nie op provinsiale en nasionale vlak doen nie omdat hul beleid totaal verskil, het Mashaba gesê.
Die DA het ná die vorige plaaslike verkiesing in 2016 die EFF se steun nodig gehad om die beheer van Johannesburg by die ANC oor te neem.

Hoewel hulle nie in koalisie was nie, het die twee partye 'n samewerkingsooreenkoms gehad.
Toe Mashaba uit die DA bedank, het die EFF sy werksverhouding met die DA opgeskort en hom by die ANC geskaar wat weer die beheer van die Goudstad oorgeneem het.
Die DA het later ná 'n interne ondersoek gesê dit was 'n fout om destyds met die EFF saam te werk.
Walters het in 'n verklaring gesê terwyl die DA 'n geskiedenis van goeie dienslewering het en dinge gedoen kry waar hy regeer, is die EFF 'n party van "anargie, geweld en chaos".
Hoewel die DA onder geen omstandighede ná die verkiesing met die EFF sal saamwerk nie, moet hy kiesers wat vir ActionSA stem, waarsku dit sal die agterdeur vir die EFF in munisipaliteite en metrorade landwyd oopmaak.
Mashaba het onlangs in Netwerk24 se gespreksreeks oor die verkiesing gesê ActionSA sal met die DA, die VF Plus en die EFF saamwerk, maar nié met die ANC nie.
Hy het toe gesê die EFF en die VF Plus was twee van die partye wat hom die meeste gesteun het toe hy Johannesburg se burgemeester was.





















