Daar is geen waarborg dat Maandag se plaaslike verkiesing sonder ontwrigting sal verloop nie, maar die Verkiesingskommissie (OVK) is daartoe verbind dat alle stemlokale sal open en dat elke stemgeregtigde in die land sal kan stem.
So het Sy Mamabolo, OVK-hoofkiesbeampte, Sondagaand op 'n nuuskonferensie in die nasionale uitslagsentrum in Pretoria gesê toe hy saam met Glen Mashinini, OVK-voorsitter, en ander OVK-amptenare verslag gedoen het oor Saterdag en Sondag se spesiale stemmery.
Hulle het ook die versekering gegee dat die OVK slaggereed is om Maandag 'n vrye en regverdige verkiesing te hou.
Die OVK is tevrede met die "baie suksesvolle" verloop van die spesiale stemmery by kiesers se huise en stemlokale die afgelope naweek.
502 837 Suid-Afrikaners het spesiale stemme by stemlokale uitgebring. Dit is 83% van die 602 780 kiesers wat daarvoor aansoek gedoen het.
Volgens Mashinini het 502 837 Suid-Afrikaners spesiale stemme by stemlokale uitgebring. Dit is 83% van die 602 780 kiesers wat daarvoor aansoek gedoen het.
Hy was vol vertroue dat almal wat by hul huise wou stem, dit teen die spertyd van 17:00 Sondag gedoen het. Diegene wat nie hul stemme só kon uitbring nie, kan dit Maandag steeds by stemlokale gaan doen.
Mashinini het gesê die twee dae van spesiale stemme het die kommissie in staat gestel om sy operasies vir Maandag te verfyn.
Hy het 'n beroep op die 26,2 miljoen geregistreerde kiesers gedoen om Maandag in groot getalle by die 23 148 stemlokale landwyd te gaan stem.
Dít moet jy weet as jy gaan stem
• Stemlokale is van 07:00 tot 21:00 op stemdag oop, maar mense wat die aand teen 21:00 steeds in rye by stemlokale staan, sal toegelaat word om te stem;
• Kiesers kan net stem by die stemlokale waar hulle geregistreer is;
• Om te kan stem, moet kiesers 'n geldige identiteitsdokument saamneem;
• Streng Covid-19-maatreëls sal vir kiesers en OVK-personeel by stemlokale geld;
• Penne sal by stemlokale verskaf en ná elke gebruik ontsmet word. Kiesers kan egter hul eie penne saamneem as hulle dit verkies;
• Kiesers in metro's sal twee stembriewe by stemlokale kry. Een vir die kies van 'n wykskandidaat en 'n ander vir 'n party. In plaaslike munisipaliteite sal daar drie stembriewe wees omdat hulle daar ook vir distriksrade sal stem;
• Kiesers moet seker maak dat hul stembriewe op die agterkant 'n OVK-stempel het om geldig te wees;
• Foto's van gemerkte stembriewe word verbied om kiesers se keuse geheim te hou;
• Gebeurlikheidsplanne is in plek om stemlokale teen enige ontwrigtings soos betogings of gure weer te beskerm; en
• Enigiemand wat met stembriewe peuter sal weens verraad gearresteer word omdat niemand toegelaat sal word om "die wil van kiesers te ondermyn nie".
Mashinini het 'n beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners om te help verseker dat die verkiesings vry en regverdig is en om die integriteit van die uitslae te beskerm.
Mamobolo het daarop gewys dat tegnici van die Tshwane-metro, diensverskaffers en tegnici van Eskom by die nasionale uitslagsentrum is om enige verdere kragonderbrekings daar te verhoed. Dié sentrum moes Saterdagaand weens 'n kragonderbreking ontruim word.





















