Partye kap na mekaar op laaste saamtrekke

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
ANC-ondersteuners Vrydag in Ekurhuleni, Gauteng, waar hulle regstreeks geluister het na pres. Cyril Ramaphosa wat die hooftoespraak van die ANC se finale Siyanqoba-saamtrekke in Soweto gelewer het. Foto: Twitter, ANC
ANC-ondersteuners Vrydag in Ekurhuleni, Gauteng, waar hulle regstreeks geluister het na pres. Cyril Ramaphosa wat die hooftoespraak van die ANC se finale Siyanqoba-saamtrekke in Soweto gelewer het. Foto: Twitter, ANC

Kiesers moet op stemdag "die slang genaamd die ANC uitbrand".

Só het Julius Malema, EFF-leier, Vrydag in Katlehong, naby Johannesburg, kaalvuis ingeklim onder die ANC op sy party se laaste nasionale saamtrek voor Maandag se plaaslike verkiesings.

Die EFF het soos die ANC en DA Vrydag ook 'n groot saamtrek gehou in 'n laaste poging om kiesers van 'n nasionale platform te oortuig om vir hom te stem.

In Kaapstad het John Steenhuisen, DA-leier, ook nie teruggehou nie en op hul saamtrek gesê alle munisipaliteite onder ANC-beheer het óf misluk óf is besig om te misluk.

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydagaand as ANC-president op sy party se nasionale Siyanqoba-saamtrek in Soweto in gietende reën, waar ondersteuners met stoele oor hul koppe na hom staan en luister het, dié reën beskryf as 'n "seëning", "reiniging" en "teken dat die ANC Maandag gaan wen".

"Ek kan 'n oorwinning voel en sien kom".

EFF-ondersteuners Vrydag in Katlehong, waar die partyleier Julius Malema hulle in hul laaste nasionale Tshela Thupa-saamtrek toegespreek het.  Foto: Twitter, EFF
EFF-ondersteuners Vrydag in Katlehong, waar die partyleier Julius Malema hulle in hul laaste nasionale Tshela Thupa-saamtrek toegespreek het. Foto: Twitter, EFF

Die ANC het Vrydag ook sy ondersteunersmag vertoon deur terselfdertyd groot saamtrekke in al nege provinsies te hou wat regstreeks met die een in Soweto verbind was.

Ramaphosa het aan ondersteuners gesê dat die ANC met die bekendstelling van sy verkiesingsmanifes vroeër Suid-Afrikaners belowe het dat die party "beter sal doen, beter sal wees en saam met mense beter gemeenskappe sal bou".

Hy het soos regdeur die ANC se verkiesingsveldtog weer daarop gehamer dat die ANC "sal hernu en geskik gemaak word" om Suid-Afrikaners te dien.

Die party sal volgens hom ook harder werk om sy foute en tekortkominge reg te stel, terwyl hy munisipaliteite sal regruk omdat gemeenskappe gehelp het om energieke, ervare, helderdenkende en bekwame kandidate te kies.

Oor die elektrisiteitsprobleme in Suid-Afrika het Ramaphosa gesê die regering sal op nasionale vlak met Eskom saamwerk om die vermoë te stabiliseer om krag op te wek. Beleggings deur onafhanklike kragverskaffers in munisipaliteite sal volgens hom ook aangemoedig word.

"Ons wil plaaslike regering versterk sodat alle basiese dienste behoorlik gelewer en verbeter kan word. Daarom vra ons julle, die mense van ons land, om Maandag vir ons te gaan stem."

DA-ondersteuners Vrydag by die party se laaste "Let's Do More"-saamtrek in Cravenby, Kaapstad, waar die partyleier John Steenhuisen hulle toegespreek het. Foto: Twitter, DA
DA-ondersteuners Vrydag by die party se laaste "Let's Do More"-saamtrek in Cravenby, Kaapstad, waar die partyleier John Steenhuisen hulle toegespreek het. Foto: Twitter, DA

Intussen het Steenhuisen op die DA se finale "Let's Do More"-saamtrek in Cravenby, Kaapstad, gesê kiesers moet Maandag met hul stemme die vordering wat die DA in Kaapstad gemaak het "beskerm".

"Met ons land in so 'n benarde toestand, is dit nie nou die tyd om met vuur te speel, met jou stem te dobbel, vir 'n persoonlikheid te stem óf om op grond van ras, taal en kultuur te stem nie."

Volgens Steenhuisen het Kaapstad 'n ferm en beginselvaste leierskap, asook 'n groot, ambisieuse siening vir die stad en kan Geordin Hill-Lewis, DA-burgemeesterskandidaat, dit lewer.

"Kom ons gaan Maandag uit en verseker die wonderlike stad se toekoms vir nog vyf jaar. Kom ons stem om die ongelooflike vordering in Kaapstad te beskerm en dan selfs meer te doen."

Malema het verder by hul Tshela Thupa-saamtrek gesê die ANC het munisipaliteite landwyd in duie laat stort met "beloftes wat hulle sedert 1994 maak".

"Hulle is permanente apologete wat voorgee om verskoning te vra net om ons weer te vergeet as hulle weer in mag kom.

"Ons gaan die slang genaamd die ANC op 1 November uitbrand en op 2 November die as daarvan aan die hele Suid-Afrika en Afrika wys."

Malema het belowe dat die EFF onmiddellik grond en werkgeleenthede aan Suid-Afrikaners sal gee as hy wen. "Ons sal nooit die kwessie van werkgeleenthede en grond uitstel nie. Dit is baie dringend en moet onmiddellik die nodige aandag kry. Kamerade, julle werk nie. Onthou dít op 1 November."

SPELETJIES VANDAG

CTA